Om Mislukte Verwagtinge te Hanteer

David Wilkerson (1931-2011)

Sommige gelowiges koester ‘n wrok teen God, wat baie gevaarlik kan wees. Dit is jammer dat ‘n toenemende aantal bedienaars toenemend ontnugter, uitgebrand en selfs kwaad word vir God en hulle roeping laat vaar. Hoewel dit moeilik is om te verstaan, redeneer baie van hulle, “Ek was ywerig en getrou – ek het my beste gegee – maar hoe harder ek gewerk het, hoe minder resultate het ek gesien. My gemeente het my nie waardeer nie en al my gebede was verniet. Nou staan ek terug sodat ek dinge kan uitredeneer.”

Die Bybel gee vir ons ‘n voorbeeld van ‘n sendeling wat moedeloos geword het toe dinge nie gebeur het soos dit beplan was nie. “En die woord van die HERE het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê” (Jona 3:1-2). Hy was ‘n vorige keer ongehoorsaam aan hierdie opdrag met ernstige gevolge (onthou die storie van Jona en die walvis?) maar hierdie keer was hy gehoorsaam en het die boodskap, wat God vir hom gegee het, verkondig.

Jona het verwag dat die stad verwoes sou word en daarom het hy daarvoor gewag – maar niks het gebeur nie! Waarom nie? Omdat God genadig was en van plan verander het: “En God het hulle werke gesien toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen” (3:10). Met ander woorde, die mense van Ninevé het hulle bekeer en God was hulle barmhartig en genadig.

Jona was hartseer en teleurgesteld omdat dinge nie verloop het soos dit beplan was nie. Sy eer was ook gekrenk en hierdie gekwesde gees het uiteindelik in woede ontwikkel.

God verstaan ons pyn en verwarring; ons uitroep is immers menslik. Onthou, die Here het slegs goeie dinge vir jou in gedagte en Hy sal jou van alle bitterheid genees indien jy sy aangesig soek. Waarlik, Hy is ‘n beloner van die wat Hom soek (Hebreërs 11:6). Halleluja!