Ondersoek Jou Hart

Gary Wilkerson

God is agter elke glorieryke werk en Hy sal sy heerlikheid nie deel nie. Hy het rein werktuie nodig om sy werk te doen. Op die toppunt, wanneer sy seën en krag vrylik deur sy kinders vloei, sê Hy vir hulle, “Wag eers en hou alles terug want Ek wil julle harte ondersoek.”

Ons God wil magtige dinge deur ons doen en as ons dus aan iets vasklou wat keer dat Hy dit kan doen, openbaar Hy dit aan ons. Dit kan een of ander hardkoppigheid wees of ‘n weiering om Hom vir alles te vertrou. God wil soms iets aan ons lewens toevoeg voor Hy sy beste gee. Die Here het hierdie belofte aan Josua gemaak: “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het” (Josua 1:3).

Josua en sy manskappe het magtige heldedade uitgevoer, hulle vyande verslaan, groot lande beërwe en oorwinning behaal soos nog nooit tevore gesien nie. Iets het egter tydens hierdie tyd van groot oorwinning gebeur waarmee afgereken moes word. “Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie” (Josua 6:18). Die Israeliete mag nie van die buit van die vyande wat hulle verslaan het, geneem het nie want die Here wou hê dat hulle oë op die dinge daarbo gerig moes wees, nie op materiële dinge nie.

Een man, Agan, was ongehoorsaam en het ‘n paar goed vir homself gevat en hoewel dit nie veel was nie – net ‘n mooi kleed en ‘n handvol silwer en goud – kon dit God se heel beste weerhou. Hy het bely, “Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel” (7:20). Dit was net ‘n klein dingetjie, maar God het dit openbaar en die situasie gered.

Waarop plaas God sy vinger in jou lewe? Was jy op een of ander manier nalatig? Moenie uitstel in jou reaksie op die Gees se getroue stem nie. Een klein dingetjie kan jou hele toekoms bepaal en God wil vir jou sy heel beste gee.