As Aanbidders Deur die Storm Kom

David Wilkerson (1931-2011)

“So het die HERE Israel dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos ... Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe” (Exodus 14:30; 15:1).

God wil hê dat jy as ‘n aanbidder uit jou storm kom! Hy het in jou donker nag vir jou ‘n weg gemaak en Hy het ‘n plan om jou daaruit te bring as ‘n skitterende voorbeeld vir die wêreld van sy getrouheid aan sy kinders.

Die meeste Christene is bekend met dit wat met Israel by die Rooisee gebeur het en hoe God sy uitverkore volk op bonatuurlike wyse verlos het. Miskien wonder jy wat hierdie gebeurtenis te doen het daarmee om van jou ‘n aanbidder te maak.

Hier is die toneel: Israel het by die see laer opgeslaan en die volk het gejuig oor hul nuutgevonde vryheid. Na vierhonderd jaar van slawerny, het God hulle uit die ysteroond van Egipte gelei. Terwyl hulle hul eerste smaak van vryheid geniet het, was hulle vervul met die hoop wat vryheid bring en het gesing en gejuig: “Ons is uiteindelik vry!” Hulle was so opgewonde oor die beloftes wat God aan hulle gegee het.

Hierdie is duidelike ‘n toneelbeeld van die Christen wat uit die sonde verlos is – hy juig oor sy nuutgevonde vryheid van vorige slawerny en hy het ‘n heilige melodie in sy hart omdat hy God se beloftes uitleef. Maar dan kom daar ‘n aanval! In die geval van die Israeliete, het die leër van Farao skielik en onverwags aangeval en skokgolwe deur die hele laer gestuur. In die uur van Israel se grootste vrede, het die vyand hulle probeer verslind; Satan het probeer om hulle op die hoogtepunt van hul vryheid, gedurende hul uur van grootste hoop, te vernietig.

“Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk ... en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep” (Eksodus 14:10). Ten spyte van hulle vrees, het die Here Israel bonatuurlik beskerm en hulle laat oorwin (sien Exodus 14:31).

As Satan na jou toe kom en probeer om jou te verslaan, sal die Here vir jou sê, net soos Moses vir die Israeliete gesê het: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk ... Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (14:13-14). En net soos Israel, kan jy ook as ‘n aanbidder na vore kom en hardop sing in triomf!