God se Ononderbroke Raad

David Wilkerson (1931-2011)

God het ons belowe, “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood” (Psalm 46:2 AFR83).

Die frase “altyd bereid” beteken “altyd hier, altyd beskikbaar, met onbeperkte toegang.” Kortliks, die inwonende teenwoordigheid van die Here is altyd in ons. En as Hy altyd in ons teenwoordig is, dan wil Hy voortdurend met ons in gesprek wees. Hy wil hê ons moet met Hom praat, maak nie saak waar ons is nie: by die werk, by familie, by vriende, selfs by ongelowiges.

Jy vra miskien: “Hoe kom God ons dan te hulp tydens ons probleme?” Sy hulp kom in die gawe van sy Heilige Gees, wat in ons woon en die Vader se wil in ons lewens bewerk. Paulus vertel ons keer op keer dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is. Ons is die Here se woonplek op aarde. 

Natuurlik herhaal ons hierdie waarheid dikwels in ons aanbidding en getuienisse. Tog neem baie van ons dit nog steeds nie ernstig op nie. Ons verstaan eenvoudig nie die krag wat in hierdie waarheid lê nie. As ons dit aangryp en daarop vertrou, sal ons nooit weer bang of ontsteld wees nie. 

Ek het hierdie les beslis nie ten volle in besit geneem nie. Selfs na al my jare as bedienaar is ek steeds in die versoeking om te dink dat ek ‘n bietjie emosie moet opwek om van God te hoor. Nee, die Here sê: “Jy hoef nie ure op My te wag nie. Ek woon in jou. Ek is nag en dag by jou aanwesig.” 

Luister na Dawid se getuienis: “Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Psalm 16:8-9). Dawid sê in wese: “God is altyd voor my aangesig. En ek is vasbeslote om Hom in my gedagtes te hou. Hy lei my getrou dag en nag. Ek hoef nooit verward te wees nie.”

Tags