Onwankelbare Lewens

David Wilkerson (1931-2011)

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). 

As God vir ons sê om met vrymoedigheid en vertroue na sy troon te kom, is dit glad nie ‘n voorstel nie. Dit is hoe Hy dit verkies, en daaraan moet gehoor gegee word. Waar kry ons dan hierdie vrymoedigheid, hierdie toegang-met-vrymoedigheid tot gebed? 

“Die [effektiewe,] vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Die woord “effektief” kom hier van ‘n Griekse grondwoord wat “‘n vaste posisie” beteken. Dit dui op ‘n onwankelbare, onwrikbare ingesteldheid. Net so spreek “vurig” van ‘n vrymoedigheid gebou op grondige bewyse, ‘n absolute bewys wat jou smeking ondersteun. Saam beteken hierdie twee woorde dat jy volkome oortuig is dat jou ‘n goed voorbereide saak het. Dit gaan verder as emosies, luidheid en opgepompte entoesiasme. 

Sulke gebede kan slegs kom van ‘n dienskneg wat God se Woord deursoek en ten volle oortuig is dat die Here dit beslis moet nakom. Dit is inderdaad belangrik dat niemand van ons die teenwoordigheid van God sal binnegaan sonder om sy Woord saam met ons te bring nie. Die Here wil hê dat ons sy beloftes moet bring, Hom daaraan moet herinner, Hom daaraan moet verbind en daarop moet staan.

Daarbenewens het ons hulp gekry om God se troon van genade te nader. Die Bybel sê dat ons bidders voor sy troon is en dat Christus daar is as ons Middelaar of Voorspraak. Ons het ook die Heilige Gees langs ons in die Vader se troonkamer. Die Gees is ons “parakleet,” Een wat as ons Raadgewer dien. Hy staan ons by om ons te herinner aan die ewige verordeninge en goddelike grondwet waaruit God se Woord bestaan. 

En daarom het ons hierdie ongelooflike beloftes – van ‘n Middelaar en ‘n Raadgewer, wat langs ons staan – om ons vrymoedigheid en versekering te gee om na God se troon te kom.