Waar Is die Timótheüse?

David Wilkerson (1931-2011)

Dit was aan die Filippense Christene dat Paulus die eerste keer hierdie waarheid bekend gestel het: "Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was" (Filippense 2:5, AFR53).

Paulus het hierdie boodskap aan hulle geskryf terwyl hy in Rome in die gevangenis was en gesê dat hy die sin van Christus het en dat hy homself ontledig het om 'n dienskneg van Jesus en sy kerk te word. Daarna het hy geskryf: "En ek hoop in die Here Jesus om Timótheüs gou na julle te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het " (Filippense 2:19).

Dit is die denkwyse, die uitwerking van die gesindheid van Christus. Hier was 'n herder wat in die tronk gesit het, maar hy het nie aan sy eie moeilike situasie gedink nie. Hy was slegs bekommerd oor die geestelike en fisiese toestand van sy mense, en hy het vir sy skape gesê: “My troos sal eers kom as ek weet dat dit goed gaan met julle in liggaam en gees. Gevolglik stuur ek Timótheüs na julle om te kyk hoe dit gaan.”

Dan maak Paulus hierdie onrusbarende stelling: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie” (Filippense 2:20). Wat 'n hartseer stelling! Terwyl Paulus dit geskryf het, het die kerk om hom in Rome gegroei en was geseën. Dit was duidelik dat daar goddelike leiers in die Romeinse kerk was, maar Paulus het gesê: "Ek het geen mens wat die gesindheid van Christus met my deel nie." Waarom was dit so?

Daar was klaarblyklik geen leier in Rome met 'n dienaarshart nie, niemand wat hulleself ontledig en 'n lewende offer geword het nie. Niemand het die gesindheid van Christus gehad nie. In plaas daarvan, was almal daarop ingestel om sy eie belange na te streef. “Want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus nie” (Filippense 2:21). Hierdie woorde van Paulus kan nie versag word nie: “Vir almal gaan dit oor homself. Hierdie bedienaars wil net hulleself bevoordeel. Dit is waarom hier niemand is wat ek kan vertrou om natuurlik na julle behoeftes en hartseer om te sien nie, behalwe Timótheüs. ” Paulus kon niemand vertrou om na Filippi te gaan om 'n ware dienskneg van die groep gelowiges te wees nie.

Dierbare gelowiges, laat ons 'n Timótheüs wees vir ons kerk en gemeenskap! Ons gebed moet wees: "Here, ek wil nie net op myself gefokus wees in 'n wêreld wat buite beheer is nie. Ek wil my nie net oor my eie toekoms bekommerd wees nie. Ek weet U hou my lewenspad in u hande. Asseblief, Here, gee my u gesindheid. Ek wil u dienaarshart hê.” As ons eers dienaars van die kerk geword het, dan eers sal ons werklik die gesindheid van Christus hê.