Gemoedsrus in Hierdie Moeilike tye

Jesus het gesê, “Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Johannes 14:27). Christus het hierdie woorde gedeel met sy dissipels op die vooraand van sy kruisiging. Dit was bedoel om hulle te vertroos en gerus te stel gedurende die donkerste uur van hulle geloof. Van daardie dag af het Christene dwarsdeur die eeue heen vertroosting uit hierdié woorde van Jesus verkry wat hulle deur hulle moeilikste beproewings gedra het.

Vandag, het menige Christene harte wat besorgd is en leef hulle in vrees. Ek weet uit die baie briewe wat na ons bediening gestuur word, dat baie gelowiges in die geheim gekwel word deur angs, bekommernisse en slapelose nagte.

Jesus gee egter nog ‘n versekering in dieselfde vers: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle.” Baie Christene vind dit egter onmoontlik om vrede in hulle gemoed te vind. Vir baie kom en gaan vrede terwyl hulle bekommerd, rusteloos en voos geslaan word deur spanning.

In Lukas se Evangelie het die profeet Sagaria die volgende van die komende Messias gesê, “Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe” (Lukas1: 73-75).

Dit is een van die primȇre redes waarom die Here aarde toe gekom het en vir die sondige mensdom gesterf het: sodat ons met God mag wandel sonder vrees terwyl ons sy vrede al die dae van ons lewens geniet. Dit blyk onmoontlik wanneer ons katastrofes, beproewings en diepe smart in die gesig staar, of deur periodes van lyding, toetse en onsekerheid gaan. In sulke tye voel ons oorweldig en vrees gryp ons harte aan. Hoe kan ons vrede bly hê as alles buite beheer lyk?

Sagaria het die volgende van die Meester gesê: “om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Lukas 1:79, kursief myne). Hy het gesê dat Jesus ons op die pad van vrede sal lei – nie na rusteloosheid, leegheid of vrees nie, maar na kalmte en rus. Dit is Sy belofte, maar vir sommige lyk die pad na die teenoorgestelde.

Die Skrif noem Jesus die Vredevors. By sy geboorte het die engele in ‘n lied verklaar, “Vrede op aarde!” Die apostel Paulus het die Goeie Nuus van Christus beskryf as die “evangelie van vrede.” Jesus self het gesê, “dat julle in My vrede kan hê” (Johannes 16:33). Eenvoudig gestel, vrede is waaroor die evangelie gaan. “Die is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus” (Handelinge 10:3).

Wanneer Paulus die aanvaarbare weg aandui waarop ons die Here moet dien, sluit dit in om in God se vrede te wandel: “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Helige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag. Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Romeine 14:17-19, kursief myne).

In hierdie wêreld sal ons probleme, vervolging, vurige beproewinge en “van buite onenigheid, van binne sorge,” ondervind soos wat Paulus in 2 Korinthiërs 7:5 sê. Ons sal versoek word en ons sal ly. Die winde van swaarkry sal probeer om die huis van geloof wat ons bou op Jesus, die Rots van ons verlossing, om te waai.

Maar nog steeds moet ons Hom dien in geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees. Paulus se gebed vir die kerk was vir die volgende: “Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!” (2 Thessalonicense 3:16). Dink daaraan: vrede in ons omstandighede!

God is vasbeslote om vrede vir ons te voorsien selfs in ons slegste omstandighede.

God se doel vir sy kinders is dat ons vry sal leef van alle sorge en bekommernis. Ons weet dit, ons verklaar dit en die Skrif bevestig dit, maar baie van ons het nog nie in so ‘n wandel ingetree nie. God begeer vir ons om vrygemaak te wees: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Paulus sê hier dat deur alles in gebed na God te neem – al ons vrese en versoeke – kry ons sy vrede. So, neem jy alles na God in gebed? Dit is nie ‘n kenmerk van nederigheid om versoeke van Hom te weerhou nie. Hierdie vers sê Hy nooi ons uit om al ons versoeke na Hom te bring. En dit behaag Hom as ons dit doen.

Ons moet egter nie Paulus se bedoeling hier verkeerd verstaan nie. Die seëning daarin om ons versoeke bekend te maak, is nie dat ons uit ons binnekamer van gebed kom met ons gebede skielik geantwoord nie – ons siekte is weg, ons probleem opgelos nie. Dit is dat ons daar uitkom deur God aangeraak met harte vol vrede. Kortliks, ons strewes, vrese en angste word weggeneem, omdat ons by die Skepper was.

Dit is onmoontlik om ware vrede te hê sonder ‘n vars aanraking uit sy hand te midde van ons probleme.

“Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efésiërs 2:14).

Die mees tragiese, misleide mense op die aarde, is diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle vrede sonder Jesus het. Hulle “vrede” rus in ‘n valse gewaarwording van sekuriteit. Tans is Amerika vol verskeie oosterse gelowe en leerstellinge, alles wat voorgee om vrede vir die gemoed te bied. Talle aanhangers maak daarop aanspraak dat dit vrede bring om afgesonderd te mediteer of dieselfde mantra te herhaal. Hulle sê, “As ek bekommerd word, gaan ek na my kamer en mediteer. Dit help my om alles uit te sluit.”

Vergelyk dit met Jesus. Gedurende sy tyd op aarde, was ons Here die meeste verheerlik in tye van teenspoed. Hy het elke krisis vierkantig in die oë gekyk. En vandag as die Hoof van die kerk, kan Hy sy vrede vir sy mense skenk te midde van elke probleem wat ons beleef.

As jy daaraan dink, daar is een ding wat die wêreld nie kan hanteer nie: teenspoed. Diegene wat getrek word deur kultusse ontken eenvoudig die teenspoed in hulle lewens deur te ontsnap na ‘n denkbeeldige wêreld. Net so gee volgelinge van oosterse praktyke hulself oor aan “niksheid.” Enige gevoel van vrede wat hulle kry, verdwyn na ‘n dag of twee as die druk van die wêreld weer terugstroom.

Wat Jesus bied, is nie leegheid nie. In teendeel, Hy bied volheid – ‘n vrede wat heeltyd vernuwe. Dit maak ons nie leeg nie, maar herstel ons met oorvloedige lewe.

Ander in die wêreld vertrou op selfbeskikking om probleme en bekommernisse te oorwin. Hulle maak daarop aanspraak, “Ek was op die verkeerde pad en het myself en my familie seergemaak. Ek het geweet dit was tyd om ‘n verandering te maak, en daarom het ek ‘n nuwe blaadjie omgeslaan. Ek het myself gespeen van al my slegte gewoontes en het begin om te doen wat reg is. Vandag is ek nie dieselfde persoon wat ek eens was nie. Ek het hard gewerk om hierdie vrede wat ek het, te verdien. En ek glo God is tevrede met my.”

Ons wat Christus volg, weet uit sy Woord, “Aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie” (Romeine 3:20). Die volgende keer wat die selfbeskikkende persoon in sonder verval, sal al sy swaar verdiende vrede weg wees. En hy sal verpletter wees oor hy mislei was deur ‘n valse droom.

Ware vrede is die resultaat van ons vryspraak deur die geloof.

“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). Daar moet ‘n vaste fondament vir ons vrede wees. Die Skrif sê die fondament is vryspraak wat ook regverdigmaking genoem word. Ons is by magte om vrede te hê omdat Christus ons voor die Vader vrygespreek het.

Sommige Christene het  egter nog nooit in die groot vrede ingegaan wat hierdie vryspraak bring nie. Dit is noodsaaklik dat ons verstaan wat “vryspraak” beteken, omdat hierdie konsep die sleutel bevat vir ons vrede.

Vryspraak behels twee beginsels. Eerstens, sê dit dat my sondes uitgewis is. Ek is vrygespreek van alle ongeregtigheid deur die bloed van Jesus Christus. Daardie sondes word nie meer teen my gehou nie, omdat Christus aan die kruis ten volle daarvoor betaal het.

Kortliks, hierdie vryspraak is deur geloof in die Rots en dit is ons fondament van alle vrede in God. Om “vry te spreek” beteken om iemand onskuldig te verklaar. Dit is om te verklaar dat ons skuld ten volle betaal is deur Christus en dat God tevrede is. Jesus is “oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Romeine 4:25). Hy is opgewek om ons vry van alle skuld te verklaar.

En tog, om vrygespreek te word beteken meer as net vergifnis. Jesus het my nie net vrygespreek van al my sondes nie; Hy het deur sy offer my ook vir die Vader aanvaarbaar gemaak.

Dit is die tweede groot betekenis van vryspraak. Nie alleen is ek onskuldig verklaar nie, maar ek is ook in God se oë heilig verklaar.

Jy kan hard werk om oorwinning te behaal oor elke boesemsonde. Jy kan foutloos wees, beheer verkry oor elke gewoonte, jou humeur beteuel, sondige gedagtes oorwin of alle sondige gesprekke verwerp. Deur dit alles kan jy egter nog steeds besig wees om op die verkeerde fondament te bou. Hoekom? Want jou vrede kan nie kom vanaf dit wat jy doen of hoe jy voel nie.

Ek erken ek het soms so gelewe. Tydens daardie kort tydperke het ek in my hart geweet ek is deur genade gered en dat my goeie werke my nie kon red nie. Tog het ek soos baie ander verwag dat God my moet seën volgens my werke of prestasies. My vrede het gekom en gegaan volgens my gevoel van “goed” of ‘n uitbarsting van “kwaad.” Mislukking van enige aard het my wanhopig laat voel en ek het my vrede verloor.

Miskien het jy ook hierdie worstelstryd gehad. Jy wil so graag die Here behaag. Maar jy oordeel jou stand by God deur “wat jy doen en hoeveel goeie goed jy doen” in plaas van wat Jesus reeds vir jou gedoen het. As jy eerlik is, sal jy sien jy beoordeel jou innerlike vrede en selfs jou redding met jou werke.

Dit mag nooit so wees nie! Jy kan jouself nie deur enige menslike middele regverdig nie. En jy kan nie God se vrede deur Christus ken voordat jy nie sy fondament verstaan nie. Dit kom slegs deur te weet dat jy in God oë regverdig is deur Jesus se gestorte bloed. Dit is alleenlik om hierdie rede dat jy “aanvaar is in die Geliefde.”

Die kinders van God moet vrede op ‘n heel ander manier najaag en dit is deur die waarheid van dit wat Christus vir ons gedoen het toe te eien. Sy Woord sê, “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar” (Kolossense 3:15).

Jesus sal ons bly vryspreek totdat ons Hom in die ewigheid ontmoet. En ons geloof in Hom sal aanhoudend in ons ‘n heiligmakende krag opwek. “Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God” (Handelinge 26:18).

Ons weet ons is deur Hom aanvaar, want Hy nooi ons om met vrymoedigheid na sy troon te kom.

Laat my toe om jou te vra: Hoekom sal God jou na sy troon nooi as Hy kwaad is vir jou? Jy mag jouself veroordeel omdat jy ‘n slegte dag gehad het of omdat jy weet jy het die Heilige Gees bedroef. Maar wat vra die Woord ons om te doen in sulke tye? Jy moet na die Here toe hardloop en uitroep, “Jesus, ek het ‘n berou met my hele hart. Ek weet U kan al my ongeregtigheid uitwis.”

Die Vader het nie sy rug op jou gedraai nie. Tog lewe baie Christene asof Hy het. Hulle lewe met ‘n voortdurende angs en dink die een oomblik hulle is gered en dan weer dat hulle nie gered is nie. Hulle leef met onnodige verwardheid omdat hulle nie hierdie fondament het nie. “Ek is geregverdig en vrygespreek in die oë van God en deur die bloed van die Lam. En nie alleenlik is ek in sy oë vrygespreek nie, ek is ook deur die Vader as heilig aanvaar. Ek het die reg om in sy teenwoordigheid in te gaan.”

Dit is waaroor die storie van die Verlore Seun eintlik gaan. Nie net is hierdie groot sondaar vergewe, op die nek gesoen, ‘n nuwe kleed en ‘n ring gegee nie, hy is ook genooi om by sy vader se tafel te sit en die feesmaal te geniet. Dit is die ware beeld van regverdigmaking: Ons word nie gelos om God te probeer behaag en onsself in sy guns in te werk nie. Hy het dit alles vir ons gedoen.

Satan staan op hierdie oomblik voor God en kla jou aan van allerlei sondes: troueloosheid, leuens, oneerlikheid en tekortkominge. Hy het ‘n lang lys van elke verkeerde ding wat jy onlangs gedoen het. “Die aanklaer van ons medegelowiges …. hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.”  (Openbaring 12:10). Die Duiwel sê vir God, “Hoe kan daardie een gered word na alles wat ek hom gesien doen het? Ek wil geregtigheid hȇ! U kan nie ‘n regverdige God wees as U hom daarmee laat wegkom nie.”

Die duiwel is reg met baie van sy beskuldigings. Jy het dikwels misluk. Die heerlikheid van God het jou ontbreek. Jy het dinge anders gedoen as wat Jesus sou doen.

Maar ons Regter is onwrikbaar en word nie deur enige beskuldigings beïndruk nie. Hy sê vir ons aanklaer, “Jy het nie ‘n saak nie, vader van die leuens. Jy bring beskuldigings teen iemand wat alreeds vrygespreek is. Wyk, nou!”

Ons hoef nie vir ons Regter bang te wees nie. Hy is aan ons kant en het al ons oortredinge uitgewis: “U het al my sondes vergewe” (Jesaja 38:17). “Ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19). “En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie” (Jesaja 43:25).

Ek sien die Koning van glorie wat staan voor ons aanklaer en vra, “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry” (Romeine 8:33).

Sommige wat hier lees, leef miskien sonder om hulle voorregte ten volle te benut. Jy dra ‘n las van skuld en bekommernis wat jy nie hoef te dra nie. God wil hê dat jy moet weet hoe rein jy in die hemel is en dat jy nou reeds reg is vir die heerlikheid. En Hy wil hê dat jy die vrede wat reeds joune is vir jouself toe-eien.

In sy tweede sendbrief praat Petrus van ‘n finale vernietiging van die wêreld deur vlamme. Selfs te midde van so ‘n grusame tyd – op die wêreld se mees ontstellende uur – word ons geroep om vrede in ons gemoed te hȇ:

“Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom…die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt…. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe” (2 Petrus 3:11-12,14).

Op daardie dag wanneer ons voor ons God staan, sal ons kyk na sy spyker-deurboorde hande en besef dat die Bron van ons vryspraak meer vir ons gedoen het as wat ons in ‘n leeftyd van boetedoening of werke ooit sou kon doen.

God wil hȇ dat ons nou reeds sy vrede sal toe-eien.

Ons Vader wil hê dat ons in staat sal wees om na Jesus se wonde te kyk en aan die duiwel te verklaar, “Dit is die betaling vir my sondes. Jy kan my nie meer van daardie dinge aankla nie, Satan. Jesus bepleit my saak vir my. En deur Hom is ek in God se oë geregverdig.”

Onlangs het ek gebid, “Here, ek wil ten alle koste U vrede hȇ. Ek sal nie langer na die duiwel se leuens luister nie. Ek weet my redding kom nie deur my werke nie. Nee, Jesus, U alleen bepleit my saak. Ek rus in wat U vir my gedoen het.”

Kan jy in geloof dieselfde sê? Dat jy nie gaan probeer om jou weg oop te werk na God se goeie boekies toe nie? Dat Jesus al jou sonde op Hom geneem het en dat jy daarom bevoeg is om deur Hom in God se teenwoordigheid in te gaan?

Die werklikheid is dat wanneer God na jou kyk, dan sien Hy Christus. Hy sien nie die “ou mens” waarna Paulus verwys nie, maar ‘n nuwe mens in Christus. Soos Jesus in heerlikheid is, so is ons in hierdie wȇreld: verlos, vrygekoop en vrygemaak.

So, is jy bekommerd of bang? Veroordeel jy jouself? Jy hoef nie meer in skuld en angs te lewe nie.  As jy jou sonde bely het en op die bloed van Jesus vertrou, dan is daardie sondes weg en totaal uitgevee. Jy is vrygespreek en geregverdig.

“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1). In werklikheid sê God, “Ek het jou nie hierdie vrees of veroordeling gegee nie. Die duiwel het dit op jou geplaas. Raak ontslae daarvan deur in geloof te sê, “Ek is skoongewas en gereinig deur my geloof in Jesus. En ek weet God is lief vir my.”

As jy dit gedoen het, is die Here baie tevrede met jou. Jy gee Hom groot vreugde! Dit is hoekom Hy sê , “Kom met vrymoedigheid in My teenwoordigheid in, maak jou versoeke aan My bekend en vra vir groot dinge sodat jou blydskap volmaak kan wees.” Dit is ware vrede!