Bewyse van Herlewing

David Wilkerson (1931-2011)

Deesdae word daar baie gepraat van herlewing, met verskillende opinies van hoe dit behoort te lyk. Die eerste bewys van herlewing is ‘n groot begeerte om die Woord van die Here te hoor en te gehoorsaam. In Nehemía se tyd, het die volk vir Esra, ‘n priester en skrifgeleerde, vertel van hulle begeerte dat die boek van die wet van Moses vir hulle voorgelees word. “En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk ... en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan” (Nehemía 8:6)

Die roepstem van hulle harte was, “Bring vir ons die ware Woord van die Here!” Esra het op ‘n verhewe houtkansel gestaan en God se Woord vir ses ure lank gelees terwyl die menigte op aandag gestaan en geluister het. Vandag raak baie Christene verveeld in die kerk en wil kort preke hoor. Aan die ander kant, daar is diegene wat uitgehonger is vir die Woord en daarna smag om preke te hoor wat geïnspireer is deur die Heilige Gees.

Nog ‘n bewys van herlewing is ware bekering. Die volk in Nehemía se tyd, het eers gejuig en die Here geprys by die lees van die Woord. Hulle het laag neergebuig en God aanbid: “En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe” (8:7). Die volk het voor God se Woord gebewe, dit ter harte geneem en hulle bekeer.

Wanneer herlewing kom, is daar ‘n ontsaglike gees van blydskap en feesviering. “Toe het die hele volk weggegaan om te eet ... en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemía 8:13). Wanneer daar ook al teruggekeer word na die liefde vir God se Woord en bekering volg, sal daar altyd ‘n golf van ware blydskap en feesviering ontstaan.

Die laaste bewys van herlewing is absolute afsondering van die wêreld. “En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders” (9:2). Wanneer daar ook al teruggekeer word na die Bybel, sal daar ‘n toenemende bewustheid wees van die Here se oproep vir afsondering van alles wat wêrelds en sensueel is.

God rig ‘n oorblyfsel op wat bestaan uit diegene wat herlewing wil hê wat gelowiges na die beeld van Jesus Christus verander. Wat ‘n opwindende tyd om te leef in die Liggaam van Christus!