Geroep om Vrug te Dra

Jim Cymbala

Vrug dra is die onderliggende doel agter die gawe van God se Seun. Christus het gely, gesterf en weer opgestaan sodat ons sou sterf vir die wet om “aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra” (Romeine 7:4).

‘n Nuwe gelowige in Christus sal altyd ‘n verandering in gedrag toon as ‘n bewys dat die vrugdraende proses begin het. Paulus het vir die Kolossense gesê, “Die evangelie, wat julle en die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het” (Kolossense 1:5-6).

‘n Toenemde aantal kerke wat bang is om mense “af te skrik”, het doelbewus meer soekersensitief geword as om God te vertrou om lewens te verander, soos wat Hy al meer as tweeduisend jaar lank doen. Ons hoef nie bekommerd te wees oor die krag van die evangelie nie, want dit is steeds die krag van God vir redding. Ons moet net genoeg vrymoedigheid hê om dit met eenvoud en liefde oor te dra.

Jesus het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte” (Matthéüs 7:16-17). Hoewel Jesus hierdie lering gebring het in die konteks van ‘n waarskuwing oor valse profete, is die toepassing daarvan universeel. Die enigste onbetwisbare bewys dat die genade van God in ons werk, is die geestelike vrug wat ons dra. Dit is nie wettisisme of mistiek nie, maar ‘n feit van die lewe in die koninkryk van God.

Onthou, Israel is deur sy eie Messias verwerp omdat hulle nie vrugte gedra het nie: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Matthéüs 21:43).

Die Heilige Gees is gestuur om mense na Christus te trek. As jy op sy stem reageer en jouself in die teenwoordigheid van God verootmoedig, vra Hom vir ‘n persoonlike herlewing wat vrug sal dra tot lof van die heerlikheid van sy genade.