Watter Storie Vertel Jou Gesig?

David Wilkerson (1931-2011)

Koning Dawid het met vrymoedigheid gesê, “Ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig” (Psalm 42:12). En hy herhaal dieselfde stelling in Psalm 43:5.

Jou aangesig is ‘n advertensiebord wat adverteer wat in jou hart aangaan. Al die blydskap of onrus wat binne-in jou is, word weerspieël op jou gelaat – jou gesigsuitdrukking, jou liggaamstaal en jou stemtoon. Byvoorbeeld, wanneer iemand se gedagtes oorlaai is met die sorge van ons lewe, sal die skouers dalk hang, die wenkbroue kan frons, die gesig kan afgetrokke lyk.

Baie van ons moet oppas vir ons gesigsuitdrukkings omdat ons die verkeerde boodskap na die wêreld stuur. Jou gesig is die indeks van jou siel en weerspieël wat in jou hart aangaan.

Die  teenwoordigheid van Christus in jou hart het inderdaad ‘n direkte impak op jou gesig! Dit beïnvloed jou wandel en jou woorde. Bekommernis kan ook ‘n mens se gesig verhard, net soos wat groot sonde kan doen. Ons almal weet dat as Christene, moet ons nie bekommerd wees nie – ons Here is ten volle bewus van al ons behoeftes en probleme – en tog word ons soms bekommerd.

Wat sê jou gesig vir ‘n verlore, verwarde geslag? Toe Stéfanus voor die vyandige, woedende mans in die Sanhedrin gestaan het, het “sy gesig [geskyn] soos die gesig van ‘n engel” (Handelinge 6:15). Tussen hierdie ongelowiges, het Stéfanus met die skynsel van Jesus gestaan en die verskil was vir almal duidelik. In teenstelling daarmee, was hierdie mans in die raad van die sinagoge so kwaad vir Stéfanus, dat hulle “...teen hom op die tande gekners” het (7:54). “Die goddelose trek ‘n onbeskaamde gesig” (Spreuke 21:29). Sonde en woede word weerspieël op ‘n mens se gesig net so duidelik as blydskap en vrede.

As God se kind, weet jy dat die Here vir jou omgee en jou onvoorwaardelik liefhet (1 Petrus 5:7). Sy hart is te alle tye in beroering oor jou en jy kan in sy heerlike vryheid leef. Dit behoort jou gesig te laat ophelder!