Op God se Gees Wag om Op te Tree

Jim Cymbala

Na die dramatiese bekering van Saulus op die pad na Damaskus (sien Handelinge 9:1-8), het hy ‘n bietjie rondbeweeg en ‘n kort besoek aan die apostels in Jerusalem gebring voordat hy na sy tuisdorp, Tarsus, teruggekeer het. Later het Bárnabas daarheen gegaan en Saulus oorreed om by hom aan te sluit om die kerk in Antiochië te gaan help waar God se genade so duidelik sigbaar was (Handelinge 11:9-26). Die twee van hulle het by ander begaafde profete en leraars aangesluit en vir baie maande lank daar bedien en die gelowiges se geloof in Jesus versterk.

Terwyl die leiers van die kerk in Antiogië doelbewus nader aan God gekom het (met aanbidding en vas), het God tot hulle genader soos Hy belowe (sien Jakobus 4:8). Lukas vertel die verhaal op ‘n feitelike manier, wat ons ‘n bietjie insig gee in die geestelike praktyke van die vroeë Christelike leiers.

“En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan” (Handelinge 13:2-3).

Die gelowiges het gehoor dat die Gees hulle beveel om “Bárnabas en Saulus” af te sonder, sodat hulle uitgestuur kan word om ‘n nuwe, spesifieke werk vir God te gaan doen. Niemand was regtig verbaas oor hierdie opdrag van die Gees aan Saul en Bárnabas om hulleself aan hierdie taamlike vae roeping oor te gee nie.

Wat was so belangrik aan daardie oomblik? Dit was die begin van Saulus se eerste sendingreis, en sy reise het die hele loop van die Christelike kerk verander. Trouens, dit was tydens sy eerste sendingreis dat Saulus se naam na Paulus verander is, en hy het leiding geneem terwyl God hom op nog groter maniere gebruik het as sy ouer landgenoot, Bárnabas.

Wanneer God se Gees werk, word ‘n daar voortdurende proses in werking gestel om gelowiges af te sonder en uit te stuur om vir Christus te werk. En dit is nie net gereserveer vir diegene wat formeel bedien nie. Jy kan gevra word met die straat af te loop en ‘n buurman wat ly te bemoedig. Miskien sal Hy jou roep om op ‘n kort sendingreis te gaan of jouself aan voorbidding te verbind. Wanneer die Heilige Gees beweeg en jy toegee aan sy invloed, word die lewe opwindend en gevul met uitdagings wat slegs God kan vervul.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.