Aan Jesus Geboei!

David Wilkerson

In die afgelope weke, het ek tot God uitgeroep, “Here, gryp my, neem van my besit, neem my gevange!”  O, hoe het ek daarna gesmag. Maar ek het nie geweet ek was nie gereed om deur die Heilige Gees geboei te word nie!

Dit is duidelik Sriftuurlik – en trouens apostolies – om te bid dat God jou moet boei. Dit beteken om Hom te vra om boeie aan jou hande te sit, hulle toe te sluit, die sleutel weg te gooi en jou as Sy gevangene te neem.

Paulus het dikwels na homself verwys as “die gevangene van Christus Jesus” (Efésiërs 3:1). In Efésiërs 4:1 het hy gesê,  om die Here se gevangene te wees, is eintlik sy werk, sy roeping! Hy het dit beskou as ‘n gawe van God se genade aan hom (Efésiërs 4:7).

Paulus het aan Timótheüs geskryf, “Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie” (2 Timótheüs 1:8). Selfs op ‘n hoë ouderdom, het Paulus homself daarin verheug dat hy deur die Here aangekeer en gevangene geneem is tot Sy wil. “Ek, Paulus, as ‘n ou man en nou [of steeds] ook ‘n gevangene van Jesus Christus” (Filémon 9).

Paulus kon vir jou die presiese uur sê waarin die Here hom geboei en gevange geneem het. Hy was op die pad na Damaskus met briewe van die hoëpriester in sy besit, verbind en vasbeslote om Christene terug te bring na Jerusalem. Hy het “dreiging en moord geblaas teen die dissipels van die Here” – vol haat, bitterheid en woede in sy misleide ywer vir God.

Maar toe Paulus Damaskus genader het, “omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af” (Handelinge 9:3). Hy was heeltemal verblind deur daardie lig – wat Christus was!

Paulus het oor en oor getuig van hoe hy aan die hand gevat moes word en na Damaskus gelei moes word. Hy was ‘n hulpelose gevangene! Hy het drie dae in ‘n afgesonderde kamer deurgebring sonder sig en sonder om iets te eet. Hy was heeltemal gevange geneem – in gees, siel, verstand en liggaam!

Wat het in die drie dae in daardie tronkselkamer gebeur? Die Here het Saulus geboei en hom Paulus, die gevangene van Jesus Christus gemaak!

In hierdie duidelike toneel, laat vaar Paulus sy eie onafhanklikheid en onderwerp homself aan Christus se juk. Hy het sy hande na Jesus uitgesteek, om lewenslank geboei te word!

Jy kan amper Paulus se pynlike gebed hoor: “O Here, ek het gedink ek doen U wil! Hoe kon ek so blind wees? Ek het my eie weg gevolg, en gedoen wat ek ook al gedink het reg was. Maar ek kan nie my eie gedagtes vertrou nie!”

Here, maak dood my wil! My onafhanklikheid het my verblind. Hier, Jesus – neem my hande en boei my met U boeie. Maak my ‘n gevangene van U wil. Lei my weg as U oorwinde trofee, en neem my waar U ook al wil hê ek moet gaan. Hou my geboei aan U magtige arm. Ek wil sterf aan my onafhanklikheid!”

Baie goddelike mans en vrouens dwarsdeur die Skrif het verstaan wat dit beteken om aan die Here geboei te wees. Dawid het van die Here gesê, “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my” (Psalm 139:5). “Ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou” (of “my vasgryp” in die oorspronklike Hebreeus; Psalm 139:10).

Dawid het bedoel, “Ek word met boeie rondgelei deur my geseënde Here – een boei aan my een hand, die ander toegesluit aan Syne. As ek probeer om te vlug, sal Hy dit nie toelaat nie. Hy is altyd by my. As ek opvaar na die hemel, of vlerke probeer aansit en wegvlieg, selfs dan is Sy hand op my” (sien Psalm 139:7-13).

In die Hooglied van Salomo, druk die bruid haar groot liefde uit: “Want ek is krank van liefde” (Hooglied van Salomo 2:5). Met ander woorde, “Ek is smoorverlief op my beminde.” Met so ‘n groot liefde, hoe kan sy enigiets anders begeer as om geboei te wees aan haar geliefde? “Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels” (Hooglied van Salomo 2:6).

Sy sê in wese, “Ek is ‘n gevangene van Sy liefde! Ek het my hand uitgesteek en Hy het my aan Hom geboei. Hy het gesê, ‘Staan op, my beminde, en kom dan tog.’ My beminde is myne, en ek is Syne.”

Jesaja het geprofeteer, “Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou” (Jesaja 41:13). Hy het ook die Here hoor sê, “Ek sal jou vashou met My liefdeslot!”

Niemand verstaan beter hoe om aan Jesus geboei te wees as Petrus nie!

Petrus het ‘n ontsaglike ontmoeting met die opgestane Jesus gehad, waarin die Here geprofeteer het oor die dissipel se noodsaaklikheid om hom te onderwerp aan hierdie “boeiing.”

“Toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie” (Johannes 21:18).

Sommige Bybelkenners dink dat die Here vir Petrus gewys het hoe hy sy laaste dae sou deurbring in seniele hulpeloosheid – half blind en rondgesleep teen sy wil. Die apostel Johannes het geskryf, “En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik” (Johannes 21:19).

Trouens, tradisie sê dat Petrus onderstebo gekruisig was met sy arms uitgestrek. Johannes sou sekerlik daarvan geweet het, omdat hy sy evangelie ‘n tyd na Petrus se dood geskryf het.

Wat Christus egter hier vir Petrus gesê het, het ‘n groter betekenis as hierdie interpretasies. In Petrus se sendbriewe, vind ons dat die apostel aan die brand was met Heilige Gees vuur op ‘n hoë ouderdom! Hy het dwaling bestry, valse profete geopenbaar en met rooiwarm donder gepreek! Hierdie ou man was alles behalwe seniel. Hy was nie geestelik moeg nie en niemand het hom teen sy wil êrens heen gelei nie.

Petrus het geskryf, “Omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het” (2 Petrus 1:14). Hy het geweet dat hy binnekort sou sterf, want hy het nooit Here se woorde aan hom vergeet nie.

Maar luister hoe hy God se waarheid met vrymoedigheid verkondig! “En ek beskou dit as reg, so lank ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek” (2 Petrus 1:13). Toe het hy ‘n oorgegaan in ‘n vurige preek waarin hy mense se demone, begeertes, goddeloosheid en verstrengeling met die wêreld geopenbaar het. Hy was aan die brand, barstens met Heilige Gees-energie!

Ek het geen twyfel daarin dat Jesus in Johannes se evangelie vir Petrus gesê het hoe hy sou sterf nie. Maar Christus het baie meer as dit gesê; Hy het ‘n geestelike proses beskryf! Trouens, ek glo Hy het nie net vir Petrus geprofeteer nie, maar vir elke gelowige wat daarop aanspraak maak dat hulle Hom liefhet

Hier is wat ek glo Christus wil hê in almal van ons:

1. Ware liefde vir Jesus moet lei tot die dood van alle onafhanklikheid. Alle eiewil moet sterf.

Petrus het Christus waarlik liefgehad. Drie keer het Jesus hom in die oë gekyk en gevra, “Het jy My lief?” Petrus het geweet dat Jesus sy gedagtes kon lees – en hy kon eerlik antwoord, “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet” (Johannes 21:17).

Petrus het die Here nie net baie liefgehad nie; hy het waarkskynlik groter ywer in sy liefde gehad as die ander dissipels. Hy het altyd uit die boot gespring om Jesus tegemoet te gaan!

Ten spyte van sy groot liefde en ywer vir die Here, was Petrus egter steeds ‘n man met ‘n gees van onafhanklikheid. Nou, was hy sonder twyfel afgesonder van die wêreld – bekeerd, gebroke oor sy vorige sondes, het Christus liefgehad en was gereed om vir Hom te sterf. Maar selfs op hierdie stadium, sou niemand hom vertel wat om te doen nie! Sy onafhanklike wil was nie gebreek nie.

Petrus het selfvertroue en bekwaamheid uitgestraal. Hy was selfstandig en gewoond om op sy eie op te tree – uitgesproke, afhanklik van nie die Here of iemand anders nie. Hy het waarskynlik gedink die Here het hom net soveel nodig gehad, as wat hy die Here nodig gehad het!

Hy sou vir jou sê, “Sekerlik, ek sal luister na wat jy te sê het. Ek is nie ‘n geslote mens nie.” Maar dan sou hy weggaan en dinge op sy eie manier doen! Hy moes self dink en kry, en nooit aan homself of aan ander sy behoefte vir ander se hulp erken nie. Hy was self-gemaak, altyd in beheer.

Die wêreld hou van en bewonder so ‘n man. Die Amerikaanse droom bestaan uit mense wat selfgemaak is – skudders en bewegers vol selfvertroue, onafhanklike denkers wat dinge op hulle eie manier doen!

Maar in die koninkryk van God, is daardie soort onafhanklikheid ‘n seker teken dat ‘n mens nie by die Kruis was om sy of haar vlees dood te maak nie. Petrus het nie gesterf nie! En jy kan nie aan Jesus geboei wees totdat daardie onafhanklike gees uit jou hart uitgedryf is nie – totdat jy jou hande in totale oorgawe uitsteek!

Jesus het Petrus se herhaalde getuienis van sy liefde vir Hom gehoor. Hy het dit egter nie openlik erken nie. Inteendeel, Christus het verkies om op die nugter werklikheid te fokus, en Hy het Petrus dit maak in die oë kyk: “Petrus, sedert jy jonk was, was jy gewoond daaraan om te doen wat jy ook al wou, wanneer jy ook al wou. Jy het dinge op jou manier gedoen op jou eie tyd. Dit is jou geaardheid. Dit is die soort man wat jy is.”

“Jy [het] jouself omgord [self opgetree]...en rondgegaan waar jy wou” (Johannes 21:18).

Hoewel dit duidelik was dat Petrus Jesus liefgehad het – hy Hom met sy lewe sou verdedig, oor Hom ween en aangehardloop sou kom met die geklank van Sy stem – was hy steeds nie die Here se gevangene nie! Hy het steeds sy eie man gebly, en sy eie manier gehad – Jesus op sy eie manier gedien!

Jy kan sy gees van onafhanklikheid sien uitbars in astrante selfvertroue: “Ek gaan visvang!” (Johannes 21:3).

Jesus het reeds vir Petrus geroep om te gaan visvang – maar vir mense! Eens op ‘n tyd het Petrus sy nette neergelê, sy boot en visvangloopbaan verlaat en Jesus gevolg om siele te vang. Die Here het selfs die Heilige Gees op hom geblaas! Petrus wou egter op sy eie manier gaan visvang – nie op Jesus se manier nie.

Ons sien hier dat dit moontlik is om ‘n openbaring van die opgestane Christus te hê – om verlief te wees op Hom en om gevul te wees met die Heilige Gees – en nog steeds nie Sy gevangene te wees nie, steeds nie aan Christus geboei te wees nie!

Jy sien, wanneer ‘n onafhanklike gees ‘n mens beheer, sal hy God se programme en seëninge bo God self plaas. Die werk, die loopbaan, selfs die bediening waarmee ons geseën is, is sekondêr – en wanneer dit eerste kom, het ons gaan visvang – maar nie op Sy manier nie!

Ons wil almal nog een groot vangs te hê voor ons geboei word!

Die taal van onafhanklikheid is nie slegs, “Ek gaan visvang” nie. Liewer, dit is iets diep in die hart wat fluister, “Ek moet nog net één laaste groot vangs hê!” Petrus was op pad om meer as net ‘n paar visse te vang. Dink daaraan: As hy net wou ontspan, kon hy ‘n visstok en ‘n paar wurms geneem het en kniediep in die water gaan staan het en sy lyn uitgegooi het vir sy vangs.

Nee, Petrus wou sy ou boot en ou bemanning en al die ou nette hê. Hy was agter iets meer aan. Hy moes net een laaste kans kry om suksesvol te wees! Dan sou dit heeltemal uit sy sisteem wees – en hy sou in staat wees om Jesus volkome te volg.

Petrus en sy mede-dissipels het nie ‘n enkele uur op die strate of die kaai deurgebring om die opstanding van Christus te verkondig nie. In plaas daarvan, het hulle die hele nag lank geswoeg op die boot, hard aan die werk, met hoop op daardie een laaste, groot vangs.

Petrus het waarskynlik ‘n groot familie gehad. En hy het moontlik gedink, “As ek net een groot vangs kan kry, sal ek vry wees.”

Ek ken ‘n jong broer in die Here, ‘n dierbare vriend, wat ‘n wonderlike roeping gehad het om ‘n visser van mense te wees. Hy het ‘n ware aanraking van God vir bediening gehad. Vir ongeveer twee jaar, het hy Christus verkondig in die Verenigde State en oorsee. Maar een dag het hy opgehou, en hy het sy ywer daarop toegespits om te spekuleer in olie en eiendomme.

Hy het vir my verduidelik, “Ek sien so baie arm predikers wat slawe van hulle gemeentes is, weens gebrekkige finansies. Ek moet vry wees van daardie soort slawerny. Ek gaan net genoeg maak, sodat ek nooit afhanklik hoef te wees van mense of die kerk vir my onderhoud nie. As net een van my oliegate dit groot tref, sal ek vry wees om na enige plek te gaan en al my tyd vir die Here te gee.”

Op die ou end het hy amper afvallig geword! Sy huwelik het in ‘n egskeiding geëindig. En toe hy uiteindelik sy finansiële doelwit bereik het, was daar altyd nóg een vangs om te vang! Hierdie broer het nooit heeltemal genoeg gehad nie. Sy ywer het ‘n verslawing geword – en alles wat hy gehad het, het tot ‘n val gekom! Dank God, hy is nou terug in die bediening, heeltemal afhanklik van die Here vir alles.

Ek het ook ‘n jong direkteur geken van een van die mees suksesvolle Teen Challenge programme in Amerika, wat bedank het om “’n klein neseier op te bou.” Hy was moeg om arm te wees en ‘n ou kar te ry. Hy het ook ‘n jong seun gehad en het geweet hy kon nie geld wegsit om hom kollege toe te stuur nie. Daarom het hy besluit hy het genoeg gehad – hy sou teruggaan na die advertensiewese, totdat hy genoeg gemaak het om terug te keer na die bediening, finansieel beter af.

Maar hy het ook gou afvallig geword. Hy het selfs teruggekeer na dwelms, waarvan hy verlos was. Hy het ‘n egskeiding gekry, ‘n ander jong vrou getrou en beide van hulle het verslaaf geraak aan kokaïene. Hy het ‘n Mercedes gery en op die strand in ‘n mooi huis gebly – maar hy het ellendig gevoel.

Hierdie man was in my huis nie lank gelede nie, en het geween. Hy wou terugkom na die Here. Maar hy het gesukkel om hierdie nuutgevonde onafhanklikheid prys te gee! Dank God, hy het uiteindelik wel teruggekeer.

Die Kerk is vol bedienaars wat skipbreuk gely het en moeg geraak het om afhanklik van die Here en ander te wees. Menigtes het die bediening verlaat vir daardie een groot, laaste vangs – maar nooit teruggekom nie!

Daardie nag het Petrus en die ander niks gevang nie!

Jesus wat op die strand gestaan het, het geweet wat in Petrus se hart was. Hy het gesê, “Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry” (Johannes 21:6).

Die Here het toegelaat dat Petrus daardie een laaste vangs beleef – maar Hy wou hom ellendig maak in die proses! Trouens, Petrus wou van dit alles af weghardloop.

Petrus het nie vir Jesus op die strand herken nie. Hy was so verdiep en opgewonde toe die nette begin swaar word het, dat al waaraan hy kon dink was, “Ons het ‘n groot slag geslaan. Wat ‘n vangs!” Maar die geliefde Johannes was in die boot – en hy was oortuig van sonde. Hy het deur die groot seën geweet Wie daarvoor verantwoordelik was. Hy het vir Petrus gesê, “Broer, dit is die Here se werk. Hy sê iets deur dit alles. Hierdie seën is ‘n toets!”

 Die Skrif sê, “Daarop sê die dissipel – die een vir wie Jesus liefgehad het – Dit is die Here!” (Johannes 21:7).

Petrus het afgekyk en gesien hoe die water amper kook met die wriemelende visse – en hy het die net gelos. Dit was die grootste visvangs van sy lewe! Die net het gebult...maar iets het sy hart getref. Hy het onthou van die Here se roeping: “Ek sal jou My visser maak. Jy gaan vir My siele van mense wen. Kom – volg My.”

Skielik het Petrus besef hoe verkeerd, hoe nutteloos dit alles was. Hy het geweet dat selfs ‘n duisend groot vangste hom nooit sou kon tervrede stel nie. Die grootste visvangvloot in die land kon nie sy behoefte bevredig nie! Hy kon nooit weer vervulling daarin vind om dinge op sy eie te doen in hierdie wêreld nie.

Diep in sy hart het hy weer die roeping van Jesus gehoor – en het hy vir homself gesê: “Ek sal nie toelaat dat ek ‘n gevangene van hierdie net en hierdie boot word nie. Ek wil ‘n gevangene van Jesus word! Ek wil ‘n visser van mense wees!”

“En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om – want hy was naak – en werp homself in die see” (Johannes 21:7).

Ek is so bly Jesus het Petrus geseën met daardie een laaste vangs. Miskien is die toets van ware liefde vir Christus is nie dat jy bloot na Hom toe terugkom wanneer jy probeer het en misluk het nie. Liewer, dit is dat jy te midde van jou grootste geleentheid weggaan – dat jy alles los en Christus se gevangene word!

Sondaars op bote daar naby, sou Petrus van sy verstand af genoem het: “Petrus, jy kon dit alles gehad het! Dit was jou groot kans. Jy het dit gemaak. Jy is ‘n dwaas om weg te hardloop wanneer dit jou beurt is om suksesvol te wees!”

Maar Petrus het na Jesus toe geswem terwyl hy slegs aan sy Here se woorde gedink het, “Wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?”

Was daar een sterwenswens in Petrus?

Toe hulle almal op die land gekom het, het Jesus vir Petrus gesê om hulle te help om die visse uit te trek. Die Here het gekyk hoe Sy dissipels die vangs getel het: 153 grotes!

Was daar een laaste pluk aan Petrus se hart op daardie punt? Jesus het na hom gekyk en gevra, “Simon, seun van Jona, het jy my waarlik lief, meer as hulle hier?” (Johannes 21:15), menend al die vis wat hy gevang het. O, dit is hoe dit nog altyd vir my was! Net wanneer ek dink ek het oorwinning oor materialisme – wanneer ek alles los en na Jesus swem – dan kom die stryd weer.

Geliefde, dit is die vraag wat ons almal op hierdie oomblik moet antwoord! Natuurlik het jy Jesus lief. Antwoord jy. Maar het jy Hom meer lief as...

Meer as die grootste vangs wat jy al ooit gehad het – die een waarvoor jy jou hele lewe lank wag? Meer as geld? Meer as sukses? Meer as erkenning of eer? Meer as al jou huise, grond en eiendomme?

Is jy gereed om uit die boot te spring soos Petrus, na Jesus te hardloop en jou gees van onafhanklikheid prys te gee? Jy sien, Petrus was op die punt om geboei te word – en die gevangene van die Here Jesus Christus te word.  En as jy nie aan Hom geboei is wanneer jou eie doelwitte kruis met die Here s’n nie, sal jy altyd jou eie belange eerste stel!

Jesus het eintlik vir Petrus in hierdie vers gesê, “Laat Ek vir jou wys waarheen jy op pad is, noudat jy jou onafhanklikheid prysgegee het. Soos jy ouer in die Here word, soos die dae verbygaan en jy volwasse word, sal jy met uitgestrekte hande saam met My loop. En Ek sal jou omgord (dit is, om jou vir aksie gereed te maak) met My boeie. Jy sal My gevangene wees, My wil doen, My jou laat lei – selfs waarheen jy nie wil gaan nie!

 “So, steek jou hande uit, Petrus. Jy sê dat jy My liefhet? Wees dan my gevangene. Laat Ek jou lei en stuur!”

Jy sien, Jesus het geweet, dat Petrus in sy hart nie na die Heidene sou wou gaan nie; hy sou nie na Cornelius se huis wou gaan nie. Maar Petrus het geleer om sy hande uit te strek, die boeie te aanvaar en deur die Gees gelei te word! Uiteindelik het hy na Cornelius se huis gegaan – deur die Gees se leiding – en hy het Christus aan die Heidene gebring!

“En ‘n ander een sal jou gord” (Johannes 21:18). Die Here sal jou lei! Hy sal van jou besit neem, Sy wapenrusting aantrek en jou dra na plekke en mense wat ons nooit gedink het moontlik is nie!

As jy eerlik uit jou hart kan sê, “Ja, ek het Jesus meer lief as enigiets wat ek het, meer as my eie lewe” – strek dan jou hande uit! Onderwerp jou aan Sy boeie en roep uit tot die Here, “Hier, neem my! Maak my ‘n gevangene van u wil. Ek gee my onafhanklikheid prys en lê al my materiële seëninge voor U voete neer.”

2. Diegene wat weier om aan Christus gebind te wees en deur Hom gelei te word, sal almal op die ou end – verskonings maak!

Diegene wat weier om hulle te onderwerp, sal die Here kwaadmaak – en hulle sal die Bruilofsfees van die Lam misloop!

Luister na die taal van diegene wat weier om hulle te onderwerp: “En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig” (Lukas 14:18).

Die sekere man wat ‘n groot fees gehou het in hierdie gelykenis, is God. Die fees is Sy Bruilofsfees vir die Bruid en die Bruidegom – Sy Seun! Die Heilige Gees werk nou dwarsdeur die wêreld en roep die genooide gaste om hulleself voor te berei en te kom: “Kom, want alles is nou gereed” (Lukas 14:17). Maar almal maak verskonings!

Wat is jou verskoning om nie op hierdie laaste oproep te reageer, alles te verlaat en jouself gereed te maak vir die Bruilofsfees nie? Is daar een laaste vangs voor jou? Word jy gebind deur een of ander materialistiese drang of loopbaangeleentheid? Is jy een wat gevind sal word verskonings maak as Jesus volgende week terugkom?

Dink aan hierdie gelykenis: Hulle het geen tyd vir die Here gehad nie! Al hulle tyd en gedagtes en energie was gefokus op huweliksmaats, families, eiendom – aardse dinge en liefdes!

Menige duisende Christene maak die Here kwaad in hierdie laaste dae. Hulle sal die Bruilofsmaal misloop omdat hulle verstrengel is in die dinge van hierdie wêreld. “Toe het die eienaar van die huis kwaad geword...en...gesê...dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie” (Lukas 14:21,24).

Gelowiges, die kwessie is hier die ewige lewe! God praat van oordeel hier! Bid saam met my: “Here, ek wil nie ‘n onafhanklike gees hê nie. Nou strek ek my arms uit na U. Plaas u liefdevolle boeie op my en gooi die sleutel weg!”

Geliefde, moenie verlief raak op die wêreld in hierdie laaste uur nie! Gee toe aan Hom, onderwerp jou aan Hom – vang mense en nie jou eie doelwitte nie. Berei jouself dan voor vir die groot fees met die Bruidegom by die Bruilofsmaal van die Lam!