Wolke

David Wilkerson

Die wolk, daardie mistige bedekkings wat dikwels op God se mense neerdaal, is nie ‘n klad in God se handskrif nie. Met Jesus, kom wolke as ‘n deel van Sy heerlikheid. Wolke is regtig nie ons vyande nie; dit steek nie Sy gesig weg nie; dit is nie tekens van ‘n naderende storm nie. Wanneer jy verstaan dat wolke instrumente van goddelike liefde is, moet dit nie meer gevrees word nie.

Jy sal nooit jou beproewings en lyding verstaan totdat jy die betekenis van heilige wolke verstaan nie. Dit is waar, Christus sal weer kom aan die einde van hierdie bestel op wolke van heerlikheid. Maar Hy kom ook na ons toe met wolke dwarsdeur ons reis hier op aarde. Wanneer jy Christus uitnooi om in jou lewe in te kom om jou behoeftes aan te spreek, kom Hy met wolke. Die wolke is waens van Sy goddelike seëninge. “[Hy] wat van die wolke sy wa maak” (Psalm 104:3).

Die wolk wat moontlik oor jou kop hang op hierdie oomblik, is nie een of ander koue, onheilspellende mis van toorn nie. Ons is so bang vir wolke, dat ons dit amper altyd aan storms toereken. Ons noem dit stormwolke, omdat ons nie verstaan dat dit in werklikheid, wolke van vrede en vertroosting is nie. Wanneer ons Here met wolke kom, kom Hy om te lei, om Homself te openbaar, en om ‘n beskermende bedekking vir Sy mense te voorsien. Laat my dit uit die Skrif vir jou bewys, dat wolke, maak nie saak hoe donker of vreesagtig dit vir die menslike oog mag lyk nie, die woning van die Christus van heerlikheid is. Wanneer jy weet Hy is in jou wolk, kan jy in stille vertroue rus, wetend Hy is aan die werk.

1. Die wolk in jou lug is ‘n teken van God se getrouheid!

“...hierdie boog verskyn in die wolke” (Génesis 9:1).

God plaas ‘n reënboog in die wolke as ‘n ewige teken van Sy getrouheid. Luister na Sy wonderlike belofte aan alle gelowiges:

“As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is” (Génesis 9:16).

Verstaan jy die betekenis van wat God eintlik belowe het aan diegene wat Hom vertrou? Hy sê in wese, “Wanneer Ek die wolk oor jou sien, sal dit My daaraan herinner dat Ek belowe het om jou van verwoesting te bewaar. Jou beproewing sal jou nie vernietig nie! Wees nie bevrees nie; dit maak nie saak hoe donker dit mag lyk nie, jou Koning is Here van die Watervloed. Jy hoef My nie te herinner om getrou te wees nie; jou wolke laat My onthou.”

Praat daarvan om jou gebede deur te kry! Praat van verhoor word in die hemel; niks trek jou Here se aandag vinniger as ‘n wolk wat verby een van Sy kinders beweeg nie. “Ek [sal] dit (jou wolk) aansien om gedagtig te wees...” (Génesis 9:16).

Ek hoor van oorlogswolke, stormwolke, wolke van depressie, wolke van vrees en wolke van somberheid. Maar hierdie beskrywings van vreeslike wolke is slegs uit ‘n vleeslike oogpunt. Eintlik is wolke “goddelike merkers.” As daar tans ‘n wolk oor jou hang, is jy afgesonder vir goddelike aksie. God maak gereed om Homself op ‘n bonatuurlike manier aan jou te openbaar.

Wat ons dink wolke van onheil is, is in werklikheid wolke van verlossing. Wat gebeur wanneer God besig is om ‘n glorieryke wonderwerk te bewerkstellig? Dawid het hierdie lied gesing die dag nadat God hom van die vyand verlos het: “Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole. En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor...Hy het sy pyle uitgestuur...ja, bliksems...en Hy het hulle verwar...Hy het my uit verlos van my magtige vyand...” (Psalm 18:13-18).

Dawid het nie geweet waaroor die storm gegaan het nie, totdat alles verby was. Geen wonder nie dat Dawid gebewe het in die grot, terwyl die weerligte geslaan het – die haelstene aarde toe geval het – en die oorverdowende gedonder die grond laat bewe het. “Wat beteken dit alles?” moes Dawid sekerlik vir hom self gevra het, “Hier veg ek teen ‘n verskriklike vyand. Nou moet ek hier hopeloos onder hierdie vreesaanjaende, skrikwekkende wolke sit.” Maar toe die storm verbygegaan en die wolke verdwyn het, het Dawid rondom hom gekyk en nie een vyand was in sig nie. God het die wolke gestuur, donder, weerlig, en alles – om hom te verlos.

Het jou wolke donderweer daarin? Slaan weerlig oral rondom jou? Dit is nie die duiwel aan die werk nie, my vriend; dit is ‘n almagtige God, wat Sy sterk arm wys om jou onthalwe. Wanneer jy God aanroep om hulp, kom Hy in ‘n wolk en antwoord met donderweer:

“In die nood het jy geroep, en Ek het uitgered; Ek het jou geantwoord in die skuilplek van die donder...” (Psalm 81:8).

Vra vir Samuel oor wolke en donderweer. Die Filistyne het Israel omsingel en was op die punt om hulle in te haal. “...die HERE [het] dit dié dag met groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel” (1 Samuel 7:10).

2. Jou wolk is ‘n teken dat God jou gebed om leiding verhoor het.

“En die HERE het voor hulle uit getrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei...” (Exodus 13:21).

Hoe kon Israel vir die heidene rondom hulle verduidelik dat hulle leiding van ‘n wolk kry? “Dit aan die inwoners van hierdie land gesê....dat u wolk oor hulle staan...” (Númeri  14:14).

Kan jy jou voorstel hoe God se kinders, dag na dag in daardie verskriklike wildernis, na ‘n wolk staar? Ek is seker die vyande van Israel het rondgegaan en gesê, “As hulle God so magtig is, waarom het hulle nie die hele tyd sonskyn nie; waarom moet hulle daagliks ly onder daardie onheilspellende wolk? Oral waarheen hulle gaan, verskyn die wolk.”

Moenie bekommerd wees nie, vriende. Daardie wolk wat ander gedink het so onwelkom was, was hulle daaglikse verkenner. Wanneer die wolk beweeg het, het hulle beweeg; wanneer dit gestop het, het hulle stilgestaan.

  • “Maar as die wolk nie optrek nie, dan trek hulle nie weg nie, totdat dit weer optrek” (Exodus 40:37).
  • “..al die dae wat die wolk oor die tabernakel gerus het, het hulle in die laer gestaan” (Númeri 9:18).
  • “Of ná twee dae of ‘n maand of langer – as die wolk lank oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel in die laer gestaan en nie weggetrek nie...” (Númeri  9:22).

Watter soort leiding was dit? Niks het vir twee dae, ‘n week, ‘n maand en selfs ‘n jaar gebeur nie? Die wolk sak oor hulle neer en bly, en bly, en bly! Kan jy hulle nie in die tente hoor kla nie: “Wanneer sal God ons ooit weer laat trek? Tyd gaan verby! Die belofte word uitgestel! Hoeveel meer van hierdie ledigheid, hierdie niksdoen kan ons nog verdra? God het vir ons Sy woord gegee om ons te lei tot by ons bestemming. Waarom sit ons hier? ‘n Wolk van leiding? Wat, dit is meer soos ‘n wolk van vergeet!”

God het goeie rede om ons wolk te stop. God beproef Sy kinders om te sien of hulle voor Hom sal uithardloop en vergeet om te wag vir Sy leiding. Hy wag totdat ons aan die einde van ons geduld kom en gewillig is om uit te roep, “Here, ek sal vir altyd in hierdie wildernis wag, as dit U wil is. Ek sal dit op op U manier doen; Ek sal nie beweeg voordat U die woord spreek nie.”

Meer dikwels, het die wolk gestop, sodat God teen Satan kon veg om sy kinders se onthalwe. Israel se wolk kon een dag stilstaan, sodat God ‘n gevegslinie kon opstel om die vyand te keer om Sy uitverkorenes te teister.

  • “...En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan” (Exodus 14:19).
  • “So het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie” (Exodus 14:20).

Daardie stilstaande wolk het ‘n magtige werk van God verrig. Dit het lewens gered; dit het die vyand verwar. God het daarme gesê, “Nie een duim verder nie, Satan. Ek sal My volk lei en beskerm! Gaan weg! Wyk! Jy is magteloos!”

So is dit vandag, heiliges van God! Terwyl ons kla en God bevraagteken oor waarom ons wolk nie wil weggaan nie, wag Hy vir ons om te besef dat Hy die wolk gestuur het.

Tans het ons land ‘n swaar wolk wat oor ons hang. Vir die menslike oog, is dit ‘n wolk van finansiële depressie, werkloosheid, moeilike tye, slegte berigte, dinge wat in duie stort. Vir die wêreld, is dit ‘n wolk van onheil, wanhoop, boosheid en rusteloosheid. Die regerings van hierdie wêreld sien dit as ‘n ekonomiese stormwolk. Die hele land wag vir die donderweer en weerlig om te slaan.

Die teendeel is waar vir die gelowige! God se kinders sien dieselfde wolk oor hierdie land hang; maar hulle sien iets heeltemal anders. Hulle sien God in daardie donker wolk! Die wolk was nog altyd, en sal altyd op twee maniere beskou word: duisternis vir die ongereddes, helderheid vir die gereddes. Hoe jy die wolk beskou, is uiters belangrik. As jy die rus en vertroue van geloof in God betree het, sien jy niks anders as Jesus in die wolk nie. Gelowiges het niks om te vrees nie! Die wolk wat veroorsaak dat sondaars se harte versmag van vrees, moet die harte van Christene laat opkyk en juig – omdat ons Here “kom met die wolke...” (Markus 14:62).

Wat daarvan as die Arabiere al die olievelde toemaak? Wat daarvan as moeilike tye oor hierdie nasie en die wêreld kom? Wat daarvan as ons lewenstyle ingeperk word? God is steeds op die troon; Hy is steeds Koning oor die Watervloed; en soos die wolke oor hierdie land vorm, laat dit ons weet dat ons Here op die punt is om Homself sterk te vertroon ter wille van almal wat op Hom vertrou. Daar is glad niks om te vrees nie. Hierdie moeilike dae behoort die helderste te wees vir God se kinders – die wolke kom om ons huistoe te neem!

Waarom sou ons verras wees dat ‘n wolk oor ons land gevorm het? Dit is ‘n voor-wederkoms situasie.

“En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn...en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matthéüs 2:30).

Ja, my Christen vriend, ons sien in daardie wolk die krag en heerlikheid van ‘n Verlosser, wat ons in die nuwe Koninkryk inlei. Waarom bang wees vir die naderende wolke? Waarom bewe as die storm nader kom? Heiliges, wanneer dit tref – weet dat dit ons God is wat donder met Sy stem. Hy verhoor ons gebed vir herlewing en vernuwing. Bekering bring die Here te voorskyn wat vinnig op die wolke ry. “Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk...” (Jesaja 19:1).

3. Jou wolk is Sy gawe van krag in jou uur van nood.

“Gee sterkte aan God!...sy sterkte in die wolke” (Psalm 68:34).

Die wolk is nie bedoel om diegene wat onder sy skaduwee lewe te verswak en moedeloos te maak nie. Liewer, dit is bedoel as ‘n seker teken dat die God van sterkte op die toneel is om te help.

Hoor ek ‘n kind van God sê, “Hoe kan God in die wolk wees wat oor my hang? Hoe kan dit wees dat God Sy krag vertoon, wanneer dit my so koud en swak en vreesbevange laat?”

Dikwels praat mense wat ‘n geliefde verloor het van die wolk van wanhoop en twyfel wat oor hulle neergedaal het. Diegene wat liefde soek, praat van die wolk van eensaamheid wat lyk of dit nooit weggaan nie. Ander wat bekommerd is oor ‘n finansiële krisis, praat van hulle wolk van bekommernis en onsekerheid. Maar, maak nie saak wat jy dink die wolk veroorsaak nie, dit is nie die werk van Satan wat probeer om jou neer te trek nie. In die duisternis van enige wolk, kan jy die Here aan die werk vind.

Daniël het ‘n visioen gehad van Christus wat op die wolke kom. Hy het gesê, “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens...” (Daniël 7:13).

Die dissipels het ook Sy heerlikheid aanskou in die wolk op die Berg van Verheerliking. “...oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom” (Matthéüs 17:5).

Sy heerlikheid, Sy stem, die helderheid van Sy teenwoordigheid – dit was alles in die wolk. Nee, jou wolk is nie ‘n ongeluk nie! Jou wolk is deel van Homself, gestuur om jou te dek met krag en beskerming.

Elihu, die enigste raadgewer van Job, wat nie deur die Here bestraf is nie, het gesê, “...Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: óf tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind” (Job 37:11-13).

As ons onder ‘n wolk van tug is, is dit steeds ‘n wonderlike teken van Sy liefde vir ons, want Hy tugtig slegs dié wat Hy liefhet. Meestal is dit genadewolke wat uit Sy teenwoordigheid kom.

Stop alles! Kyk weer na die wolk wat oor jou en jou huis hang. Jy het sonder twyfel toegelaat dat dit jou moedeloos maak. Jy sou verkies dat God jou wolk wegjaag en jou buite in die sonskyn en oop lug bring. Maar jy is veilig onder die wolk – God is aan die werk, en die wolk is Sy tent. Dit is die paviljoen van Sy liefde. So, staan stil en sien die verlossing in jou wolk!

Gevolgtrekking

As jy geweet het van die goeie wat uit jou wolk sou kom, sou jy nie vra vir die verwydering daarvan nie.

Ek is oortuig dat elke ware Christen die presiese rigting wat God vir hom gekies het, sou kies, as hy geweet het wat God alles weet. Die lewe is soos ‘n pragtige tapyt, maar die Meesterwewer wys jou slegs een draad op ‘n slag. As jy die wonderlike plan waaraan Hy werk kon sien, sou jy juig, eerder as terugdeins.

As God in besondhede al die geheime werkinge van Sy goddelike wil kon verduidelik – as Hy vir jou die rede kon wys vir elke tragedie, die rede vir lyding, die rede vir al die eensame ure, die rede vir die uitgestelde verhoring van gebed – as Hy vir jou kon wys die hoe al hierdie dinge waarlik meewerk tot jou uiteindelike beswil – sou jy, as jy die mag gehad het, sélf dieselfde wolke kies, die presiese plan, dieselfde pad wat God vir jou gekies het. Jy sou nie een stap – een besonderheid – verander het nie. As God jou op ‘n ander roete sou neem, of jou bewaar van ‘n sekere beproewing, sou jy uitroep, “Nee, Here, ek sou nie wees wat U aan my geopenbaar het as U dinge sou verander het nie. Hou my op skedule. Hou my op koers. Laat my die resies klaarmaak op die manier wat U dit beplan het. U pad, Here, is immers die beste!”

Waarlik, die Here kom met die wolke!