God Is Nie Onverskillig Nie

David Wilkerson

God is nie onverskillig in die manier waarop Hy Sy eie kinders behandel nie. Hy doen niks lukraak of toevallig nie. Daar is niks raak-of-mis oor Sy metodes nie. Die mens mag ongeërg of onverskillig wees teenoor God, maar God kan nie onverskillig teenoor die mens wees nie.

Heel dikwels dink ons aan God as een of ander soort goedaardige welwillendheid, ‘n tipe ouerige, sagte Vader wat op sy gemak rondgaan om ons behoeftes aan te spreek. God word beskou as ‘n stadig-bewegende probleemoplosser wie se aandag gekry moet word. Ons sien Hom as een of ander groot mag wat opgewek kan word tot aksie indien Hy genoeg geloof gevoer word. Met ander woorde, God sal optree as jy genoeg lawaai maak – met harde uitroepe, intense demonstrasies van geloof of bomenslike pogings om heilig te wees.

Hierdie tipe denkrigting stel voor dat die mens eers God se aandag moet kry, dan sy jammerlike saak bepleit, en dan hoop dat hierdie besige Direkteur van die heelal hom op Sy lys van “gunste om te skenk” sal plaas. In die tussentyd, hoop die bekommerde gelowige hy kan ‘n voldoende vlak van geloof en goeie werke handhaaf om nie sy plek in die seëninge-ry te verloor nie. Sou dit nie ‘n skande wees nie, dink ons, om die gelooftoets te faal en te moet teruggaan na die einde van die ry nie? Hy sidder amper om te dink dat sy uur van hulp kan aanbreek en hy nie waardig sou wees om die antwoord te kry nie – asof die Here vir hom sou sê, “Jammer – Ek was heeltemal gereed om jou gebed te verhoor en jou behoefte aan te spreek, maar jou geloof het ‘n bietjie gewankel. Jy het swak geword; jy het gestruikel; so dit sal moet wag. Gaan terug na die Woord; kry dit onder die knie; beoefen jou geloof ‘n bietjie langer; kry meer geduld – en wanneer alles in plek is, sal Ek terug wees en ons sal sien wat gedoen kan word.”

Mag God ons vergewe dat ons aan Hom dink as ‘n veraf ongeërgde Vriend – wat tot ons redding kom slegs in noodgevalle of wanneer ons op die punt staan om moed te verloor. Wat ‘n klap in God se gesig om voor te stel dat Hy op een of ander merietestelsel werk, asof slegs die vlytiges, die sterkes in die geloof, die hoogs gedissipeldes Sy aandag kan kry. Ons kan nie God se seën verdien of antwoorde op gebed kry deur aanspraak te maak op ‘n beter kwaliteit of kwantiteit van geloof as ons broer of suster nie.

  • Hoe kry ‘n Christen dan God se aandag? Hoe kry ons Hom sover dat Hy ons hoor? Hoe kan ons verseker wees ons behoefte is voor Hom geplaas? Hoe kan ons weet Hy sien ons huidige probleme? Neem die probleme van die nasies en hulle leiers al Sy aandag in beslag? Is Hy te besig by die natuur se hoofbeheersentrum? Is die wêreld se probleme so kompleks en magtig, dat Hy geen tyd oor het vir ons probleme wat skynbaar nietig in vergelyking daarmee is nie?

Nie een van God se kinders hoef in der waarheid te wedywer vir Sy aandag nie. Ons hoef nie aan een of ander soort binnekring te behoort om beter resultate te kry nie. Ons hoef nie te ween, te huil, of te vas of te kerm om Hom ons huidige nood te laat sien nie.

Die waarheid is: God het ‘n menslike hart! Hy ken ons behoeftes, ons hartseer, ons probleme, omdat Hy saam met ons daardeur lewe. Hy was nog altyd daar, van die eerste uur af wat die beproewing getref het. Hy het al ons trane in ‘n kruik opgevang, in diepe medelye met ons gevoelens.

Hom wakker maak? Hom smeek vir hulp? Paniekerig na Hom hardloop? Hoop Hy sal op een of ander manier my hartsgeroep hoor? Om Hom te probeer afbring van een of ander kosmiese sending om betrokke te raak in my nood? Nee! ‘n Duisend keer nee! Waarom skree op ‘n Vader wat aan my sy is? Waarom paniekerig word as Hy nader is as ‘n broer? Waarom bekommerd wees oor swak of sterk geloof, wanneer Hy reeds my behoeftes gesien en gevoel het?

Het ons Here nie gesê, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23) nie? Om dit te beklemtoon, het Hy verder gesê, “...omdat Hy by julle bly en in julle sal wees...” (Johannes 14:17).

God is nie êrens in die heelal “daar iewers” of “daar bo” nie – maar Hy woon by ons en in ons. En Hy is nie ‘n ongeërgde Here, wat kom en gaan volgens ons buie, vertwyfelinge en vrese nie. Al te dikwels dink ons, ons Here word “weggejaag” as ons afvallig word deur wanhoop en vrees. Ons dink dat Hy op een of ander manier “wegdryf,” wanneer Hy aanstoot gegee word deur ‘n tydelike uitbarsting van humeur, swak geloof, of vlietende vertwyfelinge. Ons hoop Hy sal terugkom wanneer ons verbeter het. Hoe onvolwasse en kinderagtig is hierdie gedagtes. Hy het belowe om ons nooit te verlaat nie – Hy is met ons in elke stryd van die lewe, tot die bittereinde. Hy is getrou aan ons, selfs wanneer ons geloof steier en swak is. “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Timótheüs 2:13). Wat van al die getalm – die onverhoorde gebede – die langdurige siektes – die nimmereindigende probleme – die ergerwordende hartseer – die gevoelens van hulpeloosheid? Ten spyte van al die veronderstelde gelukkige, probleemvrye gelowiges wat daarop aanspraak maak dat God alles gedoen het wat hulle gevra het, wonder ek hoe gou dit sal wees voor hulle ook te staan sal kom teen die ergste toets van hulle hele lewe?

  • Die waarheid is: God se volk gaan tans deur ‘n geestellike “Groot Verdrukking.” Elke Christen se geloof word nou beproef. Dit is die laaste toets wat die oorwinnaars sal skei van die drosters.

Jesus het gewonder of Hy geloof sou vind op die aarde wanneer Hy terugkom. Hoe kan dit wees, wanneer daar so baie op die aarde is wat daarop aanspraak maak dat hulle Sy kinders is?

Satan is vasbeslote om die geloof en vertroue van alle ware gelowiges te laat skipbreuk ly. Die Job-agtige probleme wat vandag losgelaat word op Christene, het veroorsaak dat talle wonder of God die gebed-verhoor-besigheid laat vaar het. Hulle sê hulle bid en niks gebeur nie. Hulle het ‘n wonderwerk nodig, omdat dinge van kwaad na erger gaan – maar geen antwoord blyk te voorskyn te kom nie.

Dit is in hierdie uur van verwarring dat ‘n verskriklike angs, diep in die siel na die oppervlak kom. ‘n Innerlike gejaag gryp die gedagtes vas. “Miskien verwag God van my om hierdie probleem alles self op te los. Miskien bied God slegs ewige verlossing, maar nie daaglikse hulp nie. Miskien verwag ek te veel van God. Miskien is ek bestem om aan te hou om hartseer en eensaam te wees en dit net-net te maak. God moet kwaad wees vir my, omdat Hy blykbaar nie my trane sien of my geween hoor nie.”

Satan het die opperhand op die presiese oomblik as hy ‘n kind van God kan laat dink sy Here hou Hom doof vir sy nood. So, die jong dame wie se kêrel haar hart gebreek het, word kwaad vir God. Sy redeneer, “Here, waarom het U hom my laat seermaak? Waarom het U hom nie my laat aanhou liefhê nie? Waarom laat U my hierdie gebroke hart hê – tot ek gereed is om te sterf? Waar is U, Here? Hoe kan ek U dien as U aanhou om my teleur te stel?”

  • Luister na ouers met die ongehoorsame kind: “Liewe Here, wanneer sal U ooit my kind regkry? Waarom kom U nie af in antwoord op my gebed en keer daardie lewe om nie? Hoeveel jaar moet verbygaan sonder ‘n teken van verandering? Beteken my gebede niks nie? Werk die beloftes nie?”
  • Luister na die kind van God in die hewige pyn van siekte: “O God – as U ons pyn voel, waarom moet ek verder ly? Waarom word ander genees en nie ek nie? Waarom ek, Here? Ek maak aanspraak op elke belofte in die Bybel – my geloof is sterk – ander stem saam met my in gebed – so, waarom gebeur die wonderwerk nie? Waarom word ek net sieker? Sal ek ooit hierruit kom? Sal U my laat sterf?”
  • Luister na beswaarde huweliksmaats: “Vader, alles loop verkeerd; hoekom? Ek is in ‘n toestand – dinge is buite beheer – ek is so ongelukkig – waarom kan U nie hierdie las verlig nie? Ek het leiding nodig, maar dit lyk of ek nie antwoorde kan kry nie. Hoekom wil U nie my eensaamheid en vrees verlig nie? Waarom wil U nie vir my wys wat ek veronderstel is om te doen nie? Ek sal dit doen, as U net met my wil praat. Verhoor my gebed – asseblief – voor dit te laat is!”
  • Luister na die beangste gelowige wat desperaat is en ‘n woord van leiding nodig het: “Here, moet ek of moet ek nie? Wat is U wil? Wat is my volgende stap? Ek wil nie buite U wil wees nie, maar ek weet nie wat om volgende te doen nie. Ek is so verward – hoekom kan ek nie duidelike leiding kry nie? Ek vra in geloof – maar dit lyk nie of ek ‘n duidelike antwoord uit die hemel kry nie. Wat blokkeer die antwoord?”

O geliefde – ons gaan almal deur dieselfde dinge! Ons word almal getoets! Elke eerlike kind van God weet wat dit is om op te kyk na die hemel as dit soos koper voel – en wonder of God regtig gebed hoor en verhoor. Wanneer jy alles gedoen het wat jy kan; wanneer jy weet jy glo God is in staat om alles te doen; wanneer jy bid en ween en hoop – en dit lyk of niks gebeur nie – dit is dan wanneer die vyand in jou gedagtes insluip en fluister, “God sal nooit verhoor nie; gaan voort en doen die beste wat jy kan; los dit self op; gebruik jou kop en werk ‘n oplossing uit op jou eie.”

  • Ek glo aan God se bemoeiing met die mens se sake! Noodlot is nie aan die stuur van hierdie heelal nie. Die lewe is nie ‘n toevallige opeenhoping van atome nie. God heers nie per ongeluk nie. Die sleutel om God se besorgdheid oor die mens te verstaan, is om te glo “Hy is altyd naby!” Om naby te wees, beteken Hy is binne ‘n armlengte weg, binne hoorafstand. Om naby te wees, beteken Hy sien my! Geloof sien die nabyheid van God. Deur hulle stryd, hulle blydskap, beleef die mensdom die nabyheid van God. Vir die mens van geloof, is God altyd naby, selfs in die donkerste duisternis. Die beproewing is nooit noodlottig nie, omdat die Almagtige naby is.
  • Ek glo in die lewendigheid van God – eerder as goddelike onverskilligheid. Hy woon by Sy kinders. Hy wandel en praat met hulle. God sal inmeng by my sake, nie om my gebede te bevredig nie, maar omdat dit Sy natuur is om te doen wat reg is vir Sy kinders.
  • Ek glo in goddelike medelye! Hy handel op my geloof, omdat Hy saam met my ly. Hy kom in my droefheid in, en daarom is Hy naby genoeg om te verstaan wanneer Hy moet inmeng. Ek hoef nie vir Hom te sê nie; Hy voel dit. Hy weet dit selfs voor ek vra – omdat Hy die hele pad saam met my was. Ek glo in volmaakte Heilige Gees tydsberekening.

Ek is meer geïnteresseerd in God se medelye as Sy krag. Krag het te doen met die grootheid van goddelikheid; medelye is Sy persoonlike besorgdheid vir my probleem. Krag is ‘n beginsel; medelye is ‘n gevoel. Hy het gevoelens vir my. Wanneer ek weet Hy het medelye met my, weet ek Hy sal vir my optree. Majesteit en krag is wonderlike beginsels wat ons aan die ontsagwekkende Vader toedig, maar dit is die meegevoel van Sy hart teenoor my waarop ek die meeste reageer. Sy majesteit laat my weet Hy is in staat om alles te doen; Sy meegevoel laat my weet, Hy wil. Daar is niks ongeërg daaromtrent nie.

  • God individualiseer! Hy breek die mensdom op in nasies, rasse, families en individuele persone. Ons weet Hy is die Verlosser van die hele wêreld, maar dit beteken min vir jou behoeftes totdat jy kan sê, “Mý Verlosser.” Ek is die appel van Sy oog! Jy moet God in jou uur van nood verpersoonlik. Dit is waar, jy is maar net een van Sy kinders – maar jy is ‘n medewerker – jy is een van baie. Maar nie wanneer dit kom by jou innerlike handelinge met God nie. Wanneer jy in nood verkeer, moet jy sien hoe individueel jy is – hoe eksklusief God jou behoeftes raaksien – hoe persoonlik Hy moet optree om jou onthalwe.
  • Haal jou oë af van die heelal vir ‘n oomblik; plaas jou oë op ‘n Vriend wat jou nooit begewe nie! Kom in Sy vriendelikheid in! Kom in sy nabyheid in. God begeer dat ons Hom nader asof geen ander mens op aarde lewe nie, dat ons alleen die voorwerp van Sy besorgdheid is. Dit is nie selfsugtig nie. Nadat jy alle ander liefgehad het, nadat jy goed gedoen het en sorgsaam was, nadat jy die wet vervul het om ‘n verlore wêreld lief te hê – gaan dan voort na die tegemoetkoming van jou behoeftes asof jy alleen bestaan.

Hy tel elke haar op my hoof. Hy vang al my trane in ‘n kruik op. Hy tel my sugte en my glimlagte. Hy is my Verlosser! Hy verduidelik vir my dinge wat ek nie verstaan nie in my hart. Jy moet ophou eensaam wees deur in die nabyheid van Christus in te kom!

Jou probleme hoop op soos onbegaanbare berge. Oral rondom jou is geen tekens dat God aan die werk is nie. Twyfel bestorm jou van alle kante af. En al wat jy het om dit alles teë te staan, is woorde wat in ‘n boek geskryf staan. Maar daardie woorde is die woorde van ‘n God wat deur Sy stem heers. Hy spreek en dit gebeur.

Die nabyheid van God moet vir ons natuurlik word. Dit is nie genoeg om die waarheid te weet nie; ons moet dat daardie waarheid vir ons natuurlik word – ‘n deel van ons. Dit kom deur bepeinsing. God moet nie net by ons inbreuk maak met tussenposes nie, slegs in flitse van toewyding nie. Jy vergeet nooit dit waarop jou gedagtes heeltyd gerig is nie. Dinge word in jou geheue vasgeslaan deur jou gedagtes daarop te forseer keer op keer. God se teenwoordigheid, Sy nabyheid, kan instinktief vir ons word – sodat Sy nabyheid in ons gedagtes ingegraveer is. Die hart kan so vol van Sy teenwoordigheid word, dat dit die mond oorneem.

  • Job het God se getrouheid ontdek op ‘n ashoop. Hy het die nabyheid van God ontdek, die persoonlike besorgdheid van God, in die vuuroond van verdrukking. Daar is baie dinge wat slegs lyding vir ons kan leer. Deur die hele Bybel, sien ons droefheid as die groter leermeester. Daar is nie baie diepte by diegene wat deur die lewe gaan sonder leiding en beproewing nie. So ‘n ligte teologie kom van die lippe af van diegene wat weier om hulle te onderwerp aan die beproewing van geloof. Dit is die beproewing, nie die beloning van geloof nie, wat die vrug produseer.

Lyding en beproewing bring die mens van aangesig tot aangesig met God, met die werklikheid. Dit stroop alle vals opgewektheid, alle verwaandheid, alle leë, afgesaagde uitdrukkings, alle nietige wêreldsheid. Dit maak ‘n mens soek na die waarheid. Dit was die lyding van Christus wat die voorhangsel weggeneem het wat God en die mens geskei het. En dit is steeds menslike lyding wat die skille verwyder van die oë wat blind is vir die beloftes. Dit is wanneer die siel rou en stukkend is dat die meeste smag na ‘n genesende salf.

  • Kinders het een ding in gemeen – hulle leef slegs vir die huidige. Hulle wil alles “nou dadelik” hê. Vir hulle, is dit nou of nooit. Hulle sal ‘n bohaai opskop om dadelik te kry wat hulle wil hê. Esau was ‘n kind in die gees. Hy was gewillig om toekomstige seëninge te verruil vir ‘n dringende honger.

Geloof moenie ‘n heftige aandrang teenoor God wees, om te doen wat ons glo ons nou dadelik moet hê nie! Nou of nooit, God – is ons kinderagtige klagte. Onmiddellike bevrediging – onmiddellike gawes – onmiddellike verlossing; “Ek kan nie wag nie.”

  • Geloof is nie ‘n weddenskap nie, d.i. “As ek dit nou kry, het ek geloof gehad; as ek dit nie nou kry nie, het ek nie.” Ons gebede word soos om kanse te vat met God. Speel jou kaarte reg, speel jou hand goed, en jy sal die prys wen. Hoe kinderagtig!

Diegene wat onder die tirannie van DIE NOU is, dien God slegs met hulle gevoelens. Die profeet Mohammed het onderrig dat geloof die weg is om geluk van die sintuie te verkry. Maar wie is die ware oorwinnaar, die ware mens van geloof? Die een wat vir homself seëning, gesondheid, voorspoed, ‘n lewe van persoonlike genot verkry – vry van lyding? Of is dit die mens wat gehoor het dat die grootste blydskap dié van die Gees is – vrede, lydsaamheid, vriendelikheid, geduld – die een wat nie langer vir die huidige wêreld lewe nie? Hierdie mens van geloof is meer begaan oor om te groei as om te kry.

Wat wen ‘n Christen as hy leer hoe om alles te kry wat sy hart begeer, en tog gaan lê hy op ‘n hoë ouderdom om te sterf, sonder dat hy ooit die gemeenskap van Christus se lyding geken het? Wanneer ‘n mens die onsigbare met sy geloof aanraak, sal hy nooit weer tevrede wees met die huidige en die sensuele nie.

Om deur te bid, is nie om te bid totdat jy jou wens vervul kry nie; liewer, dit is om te bid totdat ons gewillig is om Sy wil te doen. Die heiligste gebede is nie van smeking nie – maar van lof. Wanneer smeking oorgaan na danksegging, word Christus geopenbaar.

  • Ons verheug onsself wanneer God verhoor, asof dit ‘n bewys is van Sy genade aan ons. Ons word depressief wanneer die gebed onverhoor bly, asof ons geloof onsuksesvol was.

Jesus het nie gebid om te verkry nie; Hy het gebid vir gemeenskap. Hy het gebid vir onderwerping aan die Vader se wil. Hy het gebid dat al Sy wense getemper sou word na die wil van Sy Vader, totdat gehoorsaamheid belangriker was as om te ontvang.

Hoe jammer is dit dat daar vandag so min is wat werklik geïnteresseerd is in suiwer en eenvoudige gemeenskap met God. In plaas daarvan, kom ons na Hom toe om oorlog te voer, om te stry soos Jakob, om ons regte op te eis, om seëninge te ekstraeer, om geboorteregte op te eis. “En in daardie dag sal julle My niks vra nie...”

Ons wil ons hoor van God forseer. Ons pomp ons geloof op soos een of ander geestelike adrenalien, en kom opgeblase daarmee in Sy teenwoordigheid in om dit te verruil vir ‘n inkopiewaentjie vol seëninge. Geloof word ons groenseëls – God word die geskenksentrum. Hoe meer seëls, hoe meer goedere.

Hoe ver skiet dit te kort om die hart van God te behaag. Opeisende geloof is nie die geloof wat Hom behaag nie. Dit is daardie vertrouende geloof wat Hy so begeer. Sommiges sou Broer Job bestraf as hy vandag geleef en gesê het, “Al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (Job 13:15). Sommige, wie se teologie alles oorwinning is en geen lyding nie, sou voor die vuuroond staan en vir die Hebreeuse jongmanne sê, “O kleingelowiges – julle hoef nie deur daardie vuur te gaan nie. Daardie vuur is van die duiwel; eis jou regte op. Waarom verbrand word en versmoor?

Is gebed slegs vir pryse? Of is gebed bedoel om ons te laat vergeet van ons eie wense en net na Hom te smag? Is gebed bedoel om ons ‘n uitweg uit ons probleme te gee of om ons oorwinning daarin te gee? “Uitkoms...sodat julle dit sal kan verdra (nie om daarvan te ontsnap nie)” (1 Korinthiërs 10:13). Ons weer nie kwaad af nie; ons word bemagtig daaroor.

  • Nee, God is nie ongeërg nie – Hy is besorg. Hy is diep besorg oor elke besonderheid van ons lewens. Laat ons daardie rus van geloof binnegaan en vertrou dat wanneer die tyd heeltemal ryp is, Hy reg sal doen aan ons. Die ontspanne, ongejaagde Christen is die een wat glo. Nie ‘n enkele gebed word geblokkeer nie; nie een keer sal Hy faal in ons uur van nood nie.

“Daarom, rig die slag hande en die verlamde knieë weer op: en maak reguit die paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word” (Hebreërs 12:12-13).

“Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan jou doen” (Hebreërs 13:6).