God Sal Jou Vermorste Jare Vergoed

“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het – my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het” (Joël 2:25).

Hoeveel jaar het jy vermors voor jy tot bekering gekom het en alles aan Jesus oorgegee het? Hoeveel jare van jou verlede was opgevreet deur die sprinkaan van sonde en wederstrewigheid?

Jy weet jy is vergewe en jou verlede is vergete, omdat dit onder die Bloed van Jesus is. Maar sou jy nie daarvan hou om daardie jare terug te kry en dit te lewe tot die eer van God nie?

Hoe dikwels het jy gedink, “Ek kon soveel verder in Christus gewees het! Ek kon soveel blydskap vir Hom gebring het! Ek kon myself gered het en my familie soveel pyn en lyding gespaar het. Hoe blind en dwaas was ek: hoe verslaaf deur die duiwel! Hoe naby het ek daaraan gekom om my siel en verstand te verloor. Ek kan nooit opmaak vir daardie vermorste jare nie.”

In sy laaste dae, het Paulus teruggekyk na sy lewe en getuig, “Ek het die goeie stryd gestry. Ek het die geloof behou. Nou is daar ‘n kroon van geregtigheid wat vir my wag.”

Onlangs het Paulus se getuienis vir weke lank my siel deurboor. Iets wat ek nie kon afskud nie, het in my hart bly knaag. In gebed het ek bely, “Here, ek dink nie ek kan dieselfde sê as Paulus nie! Miskien kon ek oor die eerste 15 jaar van my bediening en die laaste 10 jaar. Maar daar is ‘n gat in daardie middel jare waarin ek die vermorsing van maande beleef het – selfs jare.” Daardie tydperk was nie ‘n tyd van een of ander donker sonde nie – maar dit was steeds een van wegdryf, en ek was nie op my beste vir Jesus nie.

Ook in my huwelik, kyk ek terug met ‘n mate van skaamte, omdat ek soveel kosbare ure gemors het. Ek is gelukkig getroud met dieselfde vrou vir amper 38 jaar, en ons is nou meer verlief as toe ons getrou het. Die afgelope jare het ek Gwen gevra om my te vergewe vir die talle kere in my middeljare waarin ek arrogant en onbeskof was – glad nie die vriendelike, liefdevolle man van God wat ek veronderstel was om te wees nie.

Ek weet dat baie van julle, soos ek, kan terugkyk met berou oor die vermorste jare wat weggevreet is deur die wurms van die hel! Ek dink aan ‘n besigheidsman in ons kerk wat jare weggegooi het deur drank en dwelmmisbruik. Hy was ‘n egbreker wat sy vrou verlaat het vir weke op ‘n keer, ‘n wilde man, gedryf deur wellus en gierigheid. Vandag is hy aan die brand vir die Here, groei hy in Christus en probeer hy die tyd opmaak teenoor sy vrou. Hy voel egter steeds die skande van daardie jare wat die treksprinkaan vernietig het!

Trouens, hoe nader jy aan die hart van Jesus kom, hoe meer bedroef daardie vermorste jare jou. Hoe meer jy verlief raak op Christus, hoe meer roep jy innerlik uit tot Hom, “Dierbare Here, hoe kon ek U so seergemaak het? Hoe kon ek so mislei gewees het? Ek het die jare wat aan U behoort het geneem en weggesmyt!

“O God, U Woord is nou so kosbaar vir jou, en ek is so opgewonde om in die kennis van U te groei! Hoeveel groei in Christus het ek vermors! Hoeveel openbaring het ek verloor! Hoeveel seën en salwing het ek afgestaan!”

Ek gee nie om of jy vir 30 jaar gered is nie – God kan en wil al jou vermorste jare herstel! Hierdie een profesie van Joël was gerig aan drie groepe: die volk van Israel, die kerk en indiwidue in Christus se liggaam. Ek wil hierdie profesie fokus op die derde groep en dit toepas op ons as individuele gelowiges.

Joël beskryf presies hoe die lewe was voor jy jou bekeer het.

Jy was een verslind deur ‘n leërmag van bose geeste wat jou bekruip het om alles te vernietig wat jy gehad het! Joël vergelyk hierdie geeste van verwoesting met treksprinkane, voetgangers, kaalvreters en afknyers. Hierdie insekte is bekende verwoesters en verslind alles wat goed en betaamlik is.

Joël 2:11 praat van ‘n groot leërmag van God, “magtig die uitvoerder van sy woord.” Hierdie hele hoofstuk word ernstig misinterpreteer as ‘n goddelike leër van soldate wat voortgaan om die Here se stryd te stry. As ons sing van die “leër van die Here,” is dit nie hierdie leër in Joël 2 nie. Nee, dit is ‘n verterende leër van sprinkane wat niks anders as verwoesting en verlatenheid agterlaat nie. Dit is die Here se leër – maar net omdat Hy dit oproep as Sy roede om Sy toorn uit te voer! Joël het van hierdie demonies leër gesê, “Blaas die basuin op Sion! Waarsku hulle! Waarsku God se volk dat sy leërmag kom om duisternis en verwoesing te bring!” (sien Joël 2:1).

Hier is ‘n beeld van ‘n onbekeerde volk waarteen die vyand gekom het soos ‘n stroom. Hulle is sonder verdediging! Bose geeste woed soos vlamme en brand alles in sig. Onbekeerde sondaars krimp ineen, hulle gesigte is vol droefheid. Die bose sprinkane is die manne van oorlog, en hulle klim oor elke menslike muur van weerstand, en kom elke venster van die verstand en hart binne. Niks kan hulle vernietig nie. Die sondaar het geen swaard wat effektief is teen hulle nie!

Hierdie destruktiewe bose geeste word goed beheer en marsjeer voort sonder om uit lid te raak. En dit maak nie saak hoeveel keer die sondaar hulle probeer weerstaan nie, hierdie leërmag hou net aan kom!

Enigeen wat eens verslaaf was aan ‘n sataniese gewoonte weet dit. Jou huis – eens soos ‘n tuin, vol vrede en liefde – was gou verslind en ‘n woesteny gelaat! Jy het die aanvalle probeer keer, maar soos die kragtige perderuiters, het hulle op jou gespring en was te sterk vir jou om te weerstaan!

Een sataniese wurm na die ander het jou lewe verslind: “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind” (Joël 1:4). Elke crack buis, kokaïensak en heroïen naald was ‘n sprinkaan, ‘n kaalvreter.

Is dit nie wat gebeur het nie? Satan het sy tande in jou ingeslaan, “sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ‘n leeuin” (Joël 1:6). Hy veroorsaak verwoesting, puin, smart. “Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn” Alles in jou lewe verlep! “Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk...al die bome van die veld het verdor...want beskaamd is die vreugde” (Joël 1:10,12).

Joël beskryf die verskriklike toneel na die verterende leërmag sy bose werk gedoen het. En dit is ‘n beeld van niks anders nie as verlatenheid, verwoesting, verdorring en verlies aan blydskap. Wanneer jy in die gesig kyk van ‘n sterwende VIGS slagoffer, wat sien jy? Jy sien dieselfde verskriklike verwoesting.

Dink terug aan jou eie tyd van verlossing. Jy was sterwend, fisies en geestelik, totaal hulpeloos, soos die hordes van die hel jou heeltemal oorwin het.

Joël het die volle vergoeding geprofeteer van diegene wat hulle bekeer.

“En Ek sal vir julle vergoed die jare wat die treksprinkaan...verslind het” (Joël 2:25). Die New American Standard Bybel sê, “Ek sal vir julle opmaak...wat...julle verteer het.”

Hierdie belofte is ontsaglik! Die hele tyd wou ek God vergoed vir daardie jare, om op te maak en Hom terug te betaal! Maar Hy sê, “Verkeerd! Ek sal jou vergoed – daardie jare waarin jy verwoes, gestroop en geteister is deur die duiwel. Jy kan My nie vergoed vir ‘n enkele vermorste uur nie. Wandel voor My in geregtigheid, en bekeer jou van jou sondes – en Ek sal jou vergoed vir al die verliese, of dit jou, jou familie s’n, of Myne was!”

Aan bekeerde sondaars verklaar die Here, “Wees nie bevrees nie...juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge!” (Joël 2:21). Jy hoef nie skaam te wees oor jou vermorste jare nie. God gaan die bose leërmag van jou af wegneem, en jy sal eet en versadig word. Jy sal nooit weer beskaamd wees nie! (Sien Joël 2:19-20, 26-27).

Jy is gebore vir Sy ewige doel. Hy het vir jou ‘n lewe beplan van tevredenheid, vreuge en bruikbaarheid in Sy koninkryk. Maar toe het sonde binnegekom, en God se plan vir jou lewe was onderbreek. Die kaalvreter het inbeweeg, en skielik was jare vermors, verlore.

Maar nou is alles nuut in Christus – selfs die kalender! Die Here gaan terug na die dag waarop die sprinkane gekom het, en Hy verwyder al daardie vermorste jare en begin weer tel van die oomblik af waarop jy jou bekeer het! Al daardie seëninge wat jy misgeloop het, was opgegaar! Al die blydskap, die vrede, die openbarings, die bruikbaarheid wat jy gedink het dood en vir ewig weg was, was eintlik deur die Here bewaar!

In die hel, mag die verdoemdes moontlik gejaag word met ‘n visioen van wat hulle lewens kon gewees het. Sommige mag dalk sien wat hulle verloor het. Maar dit is nie so vir die bekeerdes nie. Alles sal vergoed word! Hulle sal nooit weer sê, “O, wat het ek misgeloop nie! Wat kon gewees het! O, hoeveel het God vir my gehad, maar ek het dit opgemors!” Nee! God kan al daardie vermorste seëninge vergoed!

God beveel ‘n sabbatsjaar – elke sewende – in Israel (sien Levitikus 25:3-4). Die volk moes die land laat rus in daardie sewende jaar. Maar hulle het gewonder wat hulle sou eet: “En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir drie jare oplewer” (Levitikus 25:20-21).

Die Here van die oes moes net spreek, en die behoefte was oorvloedig aangespreek. Geliefde, dieselfde is waar vir elke gelowige vandag. God hoef slegs die woord te spreek, en die verlore jare kan jou vergoed word!

Dit is hoe God ons vermorste jare vergoed. Hy bring binne-in ons ‘n bonatuurlike blydskap, openbaring, vrede en oorwinning voort – ver bokant ons menslike vermoëns! Hy kan nou meer in ons, vir ons en deur ons verrig as wat ons ooit gedink het moontlik was.

Ons kan met ons koppe omhoog staan vandag, asof ons nooit gesondig het nie, asof ons geen tyd verloor het nie, asof ons presies daar is waar ons sou gewees het as die sprinkaan nooit gekom het nie! God plaas ons weer terug op Sy goddelike skedule. Sy ewige doel en plan is presies daar waar Hy dit beplan het om te wees. Niks is verlore nie!

Die Here God begeer om al die seëninge en vreugdes in Hom wat ons vroeër misgeloop het, oor ons uit te stort! Hy vergoed dit egter nie net met uitstortings alleen nie! Hierdie uitstortings word oorstromings! “Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop” (Joël 2:24).

Daar is soveel krag in bekering. Dit bring ons terug by alles wat die sprinkaan vernietig het. God wek alles op!

Dit is tyd om deur te druk.

Paulus sê, “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry wat die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Met ander woorde, “Vergeet jou verlede en strek jou uit in Jesus!”

Satan se gunsteling teistering is om ons verlede op te bring deur ou geraamtes uit die kas te haal om jou bang te maak! Hy sal probeer om jou te oortuig dat ‘n ou verslawing of wellus weer gaan opstaan en die sprinkaan terugbring! Jy kan teruggaan na die ou versoekings. Of jy kan ingee aan hoogmoed en dink jy kan nie val nie – maar dan sal jy verseker deur die vyand geteiken word. As jy egter doen wat reg is, “Wie sal jou skade doen?”

Jy mag die pyne van berou vir jou vermorsing voel vir solank jy lewe. En ja, die herinneringe sal jou nederig hou. Maar in God se oë, is jou verlede ‘n afgehandelde saak. So ver as wat veroordeling en skuld aangaan, sê God, “Vergeet die verlede. Strek jou uit na wat Ek vir jou belowe het!”

Is Amerika te ver heen? Kan God nie ook Amerika vergoed nie?

Is die situasie hopeloos? Kan die Here nie ons volk se wonde genees nie? Hy het dit vir Israel gedoen!

Vir Amerika en alle volke, sê God steeds, “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid” (Jeremia 31:3). Vir goddelose Israel het die Here gesê, “Maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie” (Jeremia 30:11).

Israel het ‘n ongeneeslike wond van sonde gely! Maar daar het ‘n volk in Israel oorgebly wat hulle harte daarop gerig het om die Here te nader. Vir hierdie mense het Hy gesê, “Ek sal hom laat aankom, en hy sal nader kom na My toe” (Jeremia 30:21).

God het Israel se ongeneeslike wond genees en ‘n volk gered wat reeds onder veroordeling was! Hy het dit herstel en die stad gebou op sy eie hoop! Hy het hulle vermenigvuldig en geseën, en “sy seuns sal wees soos in die voortyd” (Jeremia 30:20).

Ek sê herhaaldelik oor Amerika wat die Woord oor Israel sê: Die wond is ongeneeslik.

Maar God kon Amerika op dieselfde manier vergoed as vir Israel! Hy kan die vermorste jare genees as Hy ‘n volk het wat onderneem om Hom te soek! Hy kan al die jare van goddeloosheid uitwis en vergoed en herbou! Die Skrif sê God “het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy” (Jeremia 31:11). En Hy kan dieselfde ding doen vir Amerika! Ja, daar is steeds hoop. Maar tyd loop uit. Bid dat God ons na Homself sal trek en die nasie sal spaar totdat ‘n menigte gered kan word.

Word jy nou verslind, vreet die wurms van die duiwel jou lewe weg? Jy kan weer oorbegin, en jou tydmors kan nou eindig! Sy wet van vergoeding kan alles begin nuut maak in hierdie uur. Jou verlede kan skoongevee word – en dit kan die eerste dag van ‘n nuwe lewe wees!

Ons sien ‘n beeld van sulke herstel in die Nuwe Testament, toe Jesus ‘n man met ‘n verdorde hand genees het, “Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een” (Matthéüs 12:13). Jy sien, wanneer Jesus jou herstel, kan die ou wonde nie eers gevind word nie!

Geliefde, neem daardie ou wonde – die bekommernisse en dit wat aan jou hart knaag oor jou vermorste jare – en laat God vir jou vergoed die presiese jare wat weggeneem is. Strek jou dan uit na die beloning van jou hoë roeping in Hom!