Stroom van Lewe

‘n Boodskap van hoe die kerk sal wees net voor die Here se koms.
David Wilkerson

“Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe, want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.

“Toe die man na die ooste uitgegaan het met ‘n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan – waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan – waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan – waters tot aan die heupe.

“Verder het hy nog duisend gemeet – ‘n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die water het opgerys – waters om in te swem, ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie. En hy het vir my gesê: Het hy dit gesien, mensekind?

“En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan – uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees” (Eségiël 47:1-12).

Aan die profeet Eségiël was ‘n visioen gegee – en dit was deur die Here aan Hom gegee.  Die Skrif sê die hand van God het Eségiël opgetel en na ‘n baie hoë berg gedra waar ‘n Man aan hom verskyn het “wat in sy voorkoms soos koper gelyk het” (Eségiël 40:2-3). Johannes, verban op Patmos, het dieselfde Man gesien – “sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond” (Eségiël 1:15).

Die Man in beide gedeeltes, was niemand anders as Christus self nie. Hy het Eségiël by die deur van God se huis ingelei, waar hy die profeet die verstommende visioen gegee het oor die toekoms van die kerk. Die die visioen het onthul wat die liggaam van Christus sou word as die laaste dae van tyd op aarde tot ‘n einde kom.

Die visioen openbaar Jesus self en ‘n uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae. Dit is so kragtig, so oorweldigend in omvang, dat Eségiël dit op daardie tydstip nie kon verstaan of kommentaar lewer op die betekenis daarvan nie!

Trouens, halfpad deur die visioen, het die Here gestop, na Eségiël gedraai en gevra, “Het jy dit gesien?” (Eségiël 47:6). Dit is asof die Here vir hom sê, “Verstaan jy die omvang van dit wat jy sien? Is jy in staat om die profetiese krag van hierdie visioen te begryp? Verstaan jy waarvan hierdie stygende waters praat – hoe dit sal eindig? Sien jy Sy heerlikheid kom? Dit is so ontsagwekkend en ondenkbaar, dat Ek wil nie hê dat die ware betekenis by jou verbygaan nie!”

Terwyl ek hierdie hoofstuk lees, het die Heilige Gees my gestop by dieselfde vers en wou my nie laat verder gaan nie! Die Gees van God het vir my dieselfde vraag gevra wat Hy aan  Eségiël gevra het, “Verstaan jy dat dit ‘n wonderlike profesie is vanaf die Vader se troon oor die kerk van die laaste dae? Begryp jy die betekenis van die stygende stroom?”

Die visie moes Eségiël verstom het en hoewel dit nie spesifiek genoem word nie, is ek oortuig dat die profeet dit nie verstaan het nie. Die Ou Testamentiese profete het ‘n beperkte visioen van Christus gehad. Jesus het gesê, “Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie...Luister julle dan” (Matthéüs 13:17,18).

“Luister julle dan.” Maak seker julle verstaan dit. Moenie hierdie by julle laat verbygaan nie! Presies wat is dit wat die Here in hierdie profetiese visioen openbaar?

Daar kom ‘n toenemende uitstorting van die Heilige Gees!

Wat aan Eségiël gewys is, is dat die kerk van Jesus Christus in die heel laaste dae heerliker en meer oorwinnend sal wees as in sy hele geskiedenis: die kerk sal uitgaan in ‘n gloed van krag en heerlikheid en die sal die volste openbaring van Jesus geniet wat die mensdom ooit geken het!

Die ware kerk van Jesus Christus sal nie verswak en stotter nie! Dit sal nie taan in getalle of afneem in krag en geestelike gesag nie! “Soos die visse van die Groot See, ‘n menigte” (Eségiël 47:10). Daar kom ‘n liggaam van gelowiges voort wat in die stygende waters van die Here se teenwoordigheid sal swem! Die kennis en teenwoordigheid van Jesus sal toeneem tot aan die einde!

Daar is ‘n neiging onder Christene om hulle visie van God te beperk tot hulle eie klein groepie of gebied. Dikwels is die gesindheid, “Ons is die nuwe beweging van God. Wat God in hierdie laaste dae gaan doen, sal net hier begin en uit ons vloei. Julle beter kom en by ons aansluit, want ons het dit! Dit is God se nuwe ding op aarde. Hy netwerk van ons af uit!”

Hierdie gesindheid beperk God eintlik op dieselfde manier waarop baie denominasies dit vir eeue gedoen het, deur die indruk te gee dat net húlle die beweging van God op aarde verteenwoordig! ‘n Ou valse leerstelling word vandag weer opgewek. Dit sê, “God het net een kerk in ‘n sekere stad of area en slegs een geestelike gesag.” Om op hierdie geloof te handel, stel diegene wat hierdie leerstelling bevorder, “apostels” aan om oor hierdie gebiede te heers. New York Stad het sulke self-aangestelde apostels en profete, wat glo hulle alleen het gesag oor die geestelike realm hier.

‘n Ander manier waarop die kerk deesdae homself beperk, is deur die geneigdheid om terug te kyk na die vroeë kerk en apostels, asof daardie gelowiges ‘n beter openbaring gehad het van hoe Christus se liggaam moet wees! Daarom beklemtoon hulle herwinning of nabootsing van hulle metodes.

Maar die Here wil nie hê dat ons terugkeer na die vroeë kerk nie. Hy het in der waarheid iets baie beter vir sy mense beplan in hierdie laaste dae! Waarom sou ons teruggaan na ‘n stroompie water as jy “waters om in te swem” kan hê?

Geliefde, die oorsprong en fontein van hierdie stroom, is die Kruis! “Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Johannes 19:34).

Dit is presies wat Eségiël gesien het terwyl sy visioen oopgegaan het – ‘n stroompie water wat “uitgestroom [het] onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe...en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar...die waters het gekabbel uit die regtersymuur” (Eségiël 47:1-2). Dit is die beeld van Pinkster, toe die Gees uitgestort is op die dissipels – met ‘n belofte dat dit ‘n stroom van lewe sou wees, wat sou opspring om na die hele wêreld te vloei.

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Johannes 7:38-39).

Laat my toe om jou vra: begryp jy dit nou? As hierdie stroom van lewende water die Heilige Gees is, dan was Pinkster – met al sy heerlikheid en openbaring van God se teenwoordigheid – net die begin van die stroompie wat uit die huis gevloei het!

Petrus het aangekondig dat hierdie water begin vloei het, soos beloof is deur die Here, aan die begin van die laaste dae. En soos dit vloei, groei dit! Dit brei uit in wydte, diepte, volume, krag en vernuwingsheerlikheid. Jy sien, Petrus en die 120 het water net tot by hulle enkels gehad!

Die kerk is vervolg vir honderde jare. Toe keiser Konstantyn aan bewind gekom het, het Konstantyn die soutmyne oopgestel en al die bedienaars wat in slawerny was, vrygelaat. Daarby, het hy ook Christendom as die amptelike godsdiens van die koninkryk verklaar! Dit was egter deur daardie jare van vervolging waarin die kerk grootliks gegroei het in sy kennis en openbaring van Jesus. Daardie vervolgde heiliges, het water tot by die knieë geniet!

Martin Luther was nog ‘n mens wat die liggaam van Christus tot ‘n nuwe realm van geloof gebring het. Die water wat tydens die Reformasie gevloei het, het gestyg tot by die heupe, toe hulle gegroei het in ‘n groter openbaring van die Kruis wat gelei het tot ‘n dieper kennis van Christus se krag! Hoe wonderlik moes dit gewees het om uiteindelik te sien hoe massas mense gedoop word en tot ‘n openbaring van saligheid gekom het deur geloof! Dit moes ‘n wonderlike gesig gewees het om te sien hoe menigtes van gelowiges, gevul met ‘n ywer vir God se huis, in katedrale inhardloop en die afgode en gesnede beelde waartoe hulle eens gebid het, afgebreek het!

Die stroom van lewe sal ‘n hoogtepunt bereik net voor die wederkoms van die Here!

Dit word voorspel in die visioen wat aan Eségiël gegee is. God het die profeet op ‘n verstommende reis geneem. Met ‘n meetsnoer het die Here 1,000 el – ongeveer ‘n derde van ‘n myl gemeet. Op daardie afstand, het die Here en Eségiël in die water begin loop en die stroom was hier enkeldiep. Eségiël het gesê, “Hy het my deur die waters laat deurgaan” (Eségiël 47:3). En die Here het die profeet aangemoedig om vorentoe, dieper en verder te gaan! Na nog 1,000 el, het die water tot op by hulle knieë gekom – en dit het steeds gestyg.

Gelowiges, Eségiël het in die toekoms ingeloop – tot by ons tyd! Vandag leef ons in die laaste 1,000 el van die hierdie meting van water! Eségiël het tot aan die rand daarvan ingestap het, maar die water was te diep vir hom, te oorweldigend! “’n Stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys – waters om in te swem” (Eségiël 47:5). Hy het in wese vir ons gesê, “Die water was bokant my kop!”

Ek kan my net hierdie man se verwondering indink toe die hy vir die Here sê, “Wat is hierdie see wat gestyg het? As hierdie rivier lewe en opstandingskrag behels, wie is diegene wat so geseënd sal wees om in sulke krag en heerlikheid te kan swem?”

Geliefde, as jy dink ons beleef die teenwoordigheid van Jesus oorvloediglik, as jy opgewonde is oor jou huidige openbaring van Jesus, dan sê ek vir jou dat jy nog niks beleef het wat kan vergelyk met die toename wat op pad is vir die regverdiges nie. Jesus sal ons oë oopmaak en wonderbaarlik in ons midde verskyn! Hy sal Homself openbaar en soveel van Sy lewe op ons uitstort as wat ons kan hanteer sonder om reeds in verheerlikte liggame te wees!

Die profeet Jesaja het ‘n kykie gehad op dieselfde profetiese stroom! Maar hy het iets anders ook gesien: In die laaste dae, sal die kerk groot beskerming geniet teen sataniese aanvalle!

“Geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie” (Jesaja 33:21). Jesaja praat hier van slawe-gedrewe oorlogskepe. Dit is ‘n beeld van die vyand, wat ‘n aanval probeer rig op almal wat in die groot waters swem. En dit is ‘n prentjie van totale verwarring! Satan bulder bevele: “Slaan die luike toe... span die seile....versterk die mas.” Maar niks werk nie! Hy en sy demoniese matrose kan nie eers die seile span om die oorlogskip te laat vaar nie! Al die duiwelse slawe-roeiers sit daar – die bose matrose van die hel – te midde van uiterste verwarring. Die lewende waters is verbode vir Satan!

“Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk...Laat...die Engel van die HERE hulle wegstoot...terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg” (Psalm 35:5-7).

Daar kom ‘n tyd waarin ‘n ongekende aantal mense uit geestelike dood opgewek sal word.

“En alles sal lewe waar die stroom kom” (Eségiël 47:9). Toe Eségiël na die stroom se wal teruggekeer het, het hy verstom gestaan. Terwyl hy teruggekyk het, het hy “allerhande bome” aan beide kante van die stroom gesien. Hierdie bome is lewe gegee deur die stroom! Hulle het blare gedra wat nooit verdor het nie en hulle vrugte het genesing gebring. Lewe het oral opgespring in hierdie hoë, vrugtedraende bome!

Hoewel hierdie stroom van God oral lewe bring waarheen dit gaan, sal ons in hierdie laaste dae ook ‘n ooreenstemmende stroom van dood sien: VIGS is ‘n see van verwoesting – ‘n hedendaagse Dooie See! Menigtes sterf. Die Bybel waarsku dat spotters sal kom en die boodskap van Christus se spoedige wederkoms sal bespot en die verwagting en hoopvolle liefde sal doodmaak! Jesus het gesê, “die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12). “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word” (2 Timótheüs 3:13). Sedes sal sterf en sonde sal toeneem, terwyl valse profete leerstellinge van die dood versprei!

Reeds het geestelike dood versprei deur die afvallige kerk! Te midde van al die dood en verwoesting van hierdie laaste dae, hoor ek die Here se profesie bulder in my siel: Die stroom sal styg, en alles sal lewe waar my stroom vloei!

In Sjina, het dit gelyk of die kerk moontlik sou sterf. Die vyand het gelowiges ondergronds gedryf en vir jare het daar geen woord uit daardie land gekom nie. Westerse Christene het geen idee gehad of die kerk in Sjina ooit oorleef het nie. Maar dank God – die stroom kon nie gekeer word nie! Dit het die hele tyd gestyg en ons weet dat miljoene Sjinese in God se stroom van lewe swem! “Alles sal lewe waar my stroom vloei.”

Beskou New York Stad, ‘n bose stad van die dood. Duisende sterf aan VIGS, oordosisse, moord en aanrandings. Dit lyk of alles buite beheer is.

Ek weet baie mense wil wegtrek – maar die Heilige Gees het ‘n fontein gegrawe in Broadway! Die Gees begin stadig en diep ploeg, en die stroom styg! Jesus verskyn nou in Broadway! Hy openbaar Sy heiligheid!

Die teaterdistrik kan nie God se rivierstroom uit sy gebied hou nie. Wall Street kan nie die stroom van lewe weghou nie! Die City Hall kan ook nie die stroom keer om te vloei nie. Homoseksuele kan dit nie uit Greenwich Village hou nie. Pro-aborsie aktiviste kan dit nie uit die klinieke hou nie. Ook kan ortodokse rabbi’s nie die stroom uit hulle sinagoges hou nie! Die stroom styg, en alles sal lewe waar die stroom ook al vloei!

Die rivier vloei nou teen vloedgety dwarsdeur Romenië, Oos Duitsland, Pole, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en Rusland! Lewe in Christus spring oral op dwarsdeur die wêreld! Soos Martin Luther eenkeer gesê het, “As jy ontslae wil raak van ‘n miershoop, lei die stroom daarteen!”

Wat van jou huishouding? Lyk alles vir jou hopeloos? Sien jy die dood amok maak onder jou geliefdes? Glo hierdie profetiese woorde van ons geseënde Here: “Hulle sal genees word en alles sal lewe waar die stroom kom.”

Ek weet nie hoe die Here alles gaan doen nie. Maar as Hy sê die rivier sal styg en lewe sal bring oral waar dit gaan, glo ek dit! As God immers Kommunisme in een jaar kan uitwis, kan Hy nie ook hierdie ding doen nie?

Te midde van al die genesing en herlewing sal sommige weggelaat word! “Vir sout is hulle bestem!”

“Die moerasse en kuile daarvan – hulle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem” (Eségiël 47:11). Dit is modderpoele vol slyk en klei. Die rivierstroom vloei daaroor – maar word nie genees nie. Uiteindelik sal die stroom heeltemal verby hulle vloei en hulle sal sout word (‘n simbool van wederstrewigheid en dorheid).

Soutpanne verteenwoordig diegene wat diep voel, maar nie verander nie. Hulle ween, maar gehoorsaam nie. Hulle maak beloftes en voornemens om te verander, maar hulle druk nooit daarmee deur nie. “Maar die goddelose is soos die onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy water gooi slyk en modder op” (Jesaja 57:20).

Moenie ‘n fout maak nie: sulke mense bely openlik hulle Christenskap en hulle word oorstroom met goddelike teregwysing. Die Heilige Gees het die dieptes van hulle siele deursoek en hulle bearbei, maar hulle het onveranderd gebly. Hulle was in die stroom – maar hulle het nie toegelaat dat lewe hulle innerlike wese binnegaan nie. Die lewe van Jesus stroom nie uit hulle uit nie!

In plaas daarvan, het daar uit hulle innerlike ‘n bestendige stroom van vuil skinderpraatjies, skynheilige gevleiery, leuens en verdraaiings uitgekom. Hulle is nie lewe-gewers nie. Rondom hulle is net twis en bitterheid! Hulle wentel in selfbejammering, hulle kla gedurig en bevraagteken gesag. Hulle is skynheilig, vasgevang in modder! Hulle versprei die dood oral waaraan hulle raak!

Maar ‘n doodsvonnis is oor hulle uitgespreek: “Vir sout is hulle bestem.” Dit is ‘n vloek van onvrugbaarheid: ‘n leeftyd waarin daar geen vrug gedra word nie – totale nutteloosheid. Hulle bly egter vasbeslote staan in hulle rebellie, vol hoogmoed!

Glo my, God sal sy stroom buig en verby hierdie mense laat vloei! Hulle sal blind en onsensitief word vir die gevaar waarin hulle is. Soos die Heilige Gees van hulle onttrek, sal hulle roepend agtergelaat word, “Vrede, vrede,” wanneer verwoesting rondom hulle plaasvind!

Eségiël moes seker verstom gestaan het dat daar sulke poele van die dood was. Lewe het aan alle kante opgespring, maar hierdie poele van dood het dor en wit van dorheid gebly. Petrus het dit “waterlose fonteine” (2 Petrus 2:17) genoem.

Hoe het hulle so geword - so leeg, droog en afgesny word van sy lewegewende stroom? Omdat, het Petrus gesê, “Hulle loop die vlees agterna. Hulle is vermetel en aanmatigend. Hulle weerstaan alle godgegewe gesag en hulle belaster en praat sleg van dinge waarvan hulle niks weet nie. Hulle word vasgevang in wêreldse dinge en word daardeur verstrik en oorwin. En hulle het hulleself afgekeer van die heilige gebooie wat eens aan hulle oorgelewer is” (2 Petrus 2:10-21, geparafraseer).

Die eintlike tragedie is, dat die meeste van hierdie droë fonteine eens fonteine van lewende water was! Waar hulle eens lewe, genesing en seën voortgebring het, het dit nou dit bitterheid, haat en dood uitgespuit!

Heilige, moenie vasgevang word in koppige bitterheid, terwyl die stroom oral om jou vloei nie. Laat God liewer jou innerlike met Sy lewende water vul – die stroom van lewe! ‘n Oorstroming van openbaring van Jesus Christus is onderweg, en dit sal nie stop om vir die vlees plek te maak nie.

Begryp jy die omvang van die visioen wat aan Eségiël gegee is? Die Ou Testament profete kon dit nie sien nie. Maar deur sy Heilige Gees, het God ons oë gegee om Sy uitnemende grootheid te sien.

Luister julle dan - ‘n stroom van lewe is aan die kom!