Times Square Kerkverslag

David Wilkerson

Ons bring vir jou ‘n Christus-verheerlikende verslag van wat die Here besig is om te doen in die hartjie van Amerika se grootste stad by Times Square Kerk, Manhattan, New York.

Sedert die openingsgebed – het die Heilige Gees in die gehoor gewerk met vuur uit die hoogte. Die Here se teenwoordigheid in elke diens was magtig, met die Here wat soveel bewyse gegee het dat Hy self hierdie kerk geplant het reg in die middel van die vyand se gebied.

Selfs die koerante hier verwys dikwels na Times Square as Slonsplein, en die ongeveer 500 ondersteuners wat gekom het om ons te help, het ‘n eerstehandse kykie gekry na dit wat teen ons staan. Elke aand na die dienste, het Times Square gelewe met Christene wat getuig, straatbyeenkomste hou en literatuur versprei. Die teaterskare het gemeng met die soldate van die Kruis wat die Naam van Jesus verheerlik het.

Ons was ontsaglik bemoedig deur die aantal New Yorkers wat dwarsdeur die byeenkomste bly sit, geween en God geprys het omdat Hy hulle gebede verhoor het vir ‘n kerk soos hierdie in die middel van die Stad. Vir die afgelope 20 jaar, het God ‘n heilige, verborge oorblyfsel van voorbidders gehad wat geween het oor die verlore miljoene siele. “Jy het teruggekom in antwoord op gebed. God vestig ‘n magtige getuie in hierdie stad in antwoord op baie jare se voorbidding,” het hulle vir ons gesê.

Ons het dit duidelik gemaak in die openingsbyeenkomste dat ons nie belang gestel het om enige kerk leeg te maak nie. Liewer, ons glo dat God gaan sondaars en afvalliges red en herstel, ryk en arm, van alle kleure en gelowe.

Toe al die besoekers huistoe gegaan het, het ons die harde werkliheid besef dat ons geen gemeente gehad het nie – behalwe ‘n paar wat vir ons gesê het dat die Gees van God dit aan hulle bekend gemaak dat hulle deel van hierdie nuwe werk moes word.

Die eerste Dinsdagaand, was ons wonderlik verras en bemoedig gewees dat meer as 300 dit bygewoon het. Elke diens sedertdien, kom meer en meer mense saam met ons byeen. Daar is geen bohaai nie – niks van onsself, die kerk of die boodskap wat ons verkondig word verkoop nie. Ons glo die Gees van God is op die punt om iets baie betekenisvol te doen in New York Stad, en ons glo Hy het ons hierheen gestuur om deel daarvan te wees. Ons is een deel van wat God hier bymekaarsit – en ons erken dat die Gees van God nie gereguleer of beperk kan word deur een spesifieke groep nie. Waneer God ‘n stad aanraak, word elke biddende herder vrugbaar – selfs kerk wat regverdig en biddend is, word ‘n huis wat aan die brand is.

In elke diens word talle gered en genees.

Hulle kom huilend en berouvol, smagtend na God en heiligheid – VIGS-slagoffers, alkoholiste, dwelmverslaafdes. Ons het tien verslaafdes na ons rehabilitasie sentrum geneem, net uit ons openingsbyeenkomste.

Sondagnag het ‘n Joodse vrou vorentoe gekom en gehuil terwyl sy vir ons vertel het, “Jesus openbaar Sy heerlikheid en liefde aan my, selfs nou!” Wall Street paartjies staan by die altaar, hand-aan-hand, en ontvang die Here en kom weer bymekaar uit. Besigheidsmense bely hulle sondes en wy hulle lewens toe aan heelhartige diens aan Christus. ‘n Boemelaarvrou het geskree, “Ek wil nie geld hê nie; ek wil Jesus hê!” Tieners – swart, wit, Asies – steek hulle hande op vir gebed en bely sondes wat hulle wil laat staan.

Nagmaal in Times Square

Elke Dinsdagaand vier ons die Here se Nagmaal in Times Square Kerk. Die teenwoordigheid van die Here is so magtig en verkwikkend. Alkoholiste loop dronk binne – hulle wieg en klap hande op die maat van die musiek – maar ons gee nie om nie. Ons het allerhande onderbrekings. Hulle kan selfs in die paadjies dans. Maar ons is hier om die verlorenes te bereik – en die Heilige Gees maak sommige van hulle nugter, en hulle kom vorentoe om die Here aan te neem.

Ek is oortuig dat elke goddelike kerk elke week nagmaal behoort te hou – meestal by die gebedsbyeenkomste. Byeenkomste rondom die tafel van die Here, bring so ‘n ware fokus na die werk van Christus – en genesing en reddende krag vloei uit die gewaarwording van Sy teenwoordigheid rondom Sy herinneringsmaal.

Times Square Bovertrek

Hierdie week hoop ons om die Times Square Bovertrek te open. Dit sal ‘n plek wees waar Christene kan bymekaarkom om voorbidding te doen en in eenheid te bid vir die verbreking van sataniese vestings.

God het ons laat weet, deur die Gees, dat slegs effektiewe, vurige, voorbidding die ontwaking sal bring wat God verlang om te stuur. Ons kan dit opeis net soos ons wil – maar totdat ons desperaat word, opstaan uit ons gemakstoele, tyd maak, en die aangesig van God soek met baie geween en smekinge – kan geen magte uit die hel aangedurf word nie.

Ons is nie geïnteresseerd om bloot die huis met ‘n nuuskierige skare te vul nie. Ons wil hê God moet ‘n heilige liggaam van ware dissipels oprig wat ‘n getuienis sal word van die geregtigheid van Christus.

Ook, wil ons bid totdat die bose magte wat Times Square in slawerny hou, teëgestaan word. Satan se ysterwaens moet geïmmobiliseer word. Gebed kan selfs die berugte bose 42de Straat verander. Staat- en Stadsowerhede was tot dusver hulpeloos om die gety van sedeloosheid te keer – maar ons God gaan hierdie middestad skud. God is magtig om iedere en elke porno boekwinkel en teater te sluit – die dwelmverkopers weg te dryf – en ‘n leër sielewenners op die strate in hul plek te plaas.

Ons versoek dat alle biddende Christene wat beplan om New York Stad te besoek in die toekoms, planne sal maak om tyd in die Bovertrek deur te bring by Time Square – en by ons aansluit in gebed vir al hierdie dinge.

Waarom so ‘n nood in New York Stad?

Elke stad het ‘n herlewing nodig – die probleme is kritiek dwarsdeur ons land. So, waarom lyk dit asof ons die geestelike nood hier in New York Stad beklemtoon? Omdat dit beskou word as die finansiële middelpunt van die wêreld. Die bevolking is ‘n mengelmoes van mense van amper elke kultuur op die aardbol. Die Verenigde Nasies is hier. Die magte wat finasies beheer – die korporatiewe hoofkwartiere – die baie miljoene mense – dit alles lei tot ‘n amper vergete sendingveld.

Ek het al baie geskryf en gepreek oor die verskriklike oordele wat ek glo op hierdie Stad gaan val. Dit verteenwoordig die toonbeeld van die Babelse gees, met sy gierigheid, arrogansie, korrupsie en goddeloosheid. Tog het God Sy genade en liefde in ons harte geplaas vir die mense hier. Voor God vurige oordele stuur, gaan Hy groot genade bied en ‘n rein en onderskeidende oorblyfsel oprig. Nee – die Stad gaan nie vir Christus gewen word nie, maar ‘n groot oorblyfsel sal gered word en die hele Stad en sy magte sal die boodskap van waarskuwing en oordeel hoor – op een of ander rmanier.

Bid asseblief vir ons!

Ons smeek almal wat ons pos lees om ‘n bietjie kwaliteit tyd in gebed deur te bring vir hierdie kerk in Times Square. God plant ‘n heilige wynstok reg in die middel van die duiwel se ashoop – en ons glo Hy sal dit water gee, dit seën, en veroorsaak dat dit groei en ‘n sterk en magtige getuie vir Christus se eer en mag word.

Stuur vir ons gebedsversoeke!

Terwyl honderde byeenkom op Dinsdagaande om te bid, sal ons vir elkeen wat dit bywoon, jou geskrewe gebedsversoeke gee. Ons sal ywerig bid vir al die behoeftes wat aan ons gestuur word deur die pos. Dit is vir ons lewe en dood– geen dwaasheid nie – geen grappies net om ‘n brief van jou te kry nie. Ons sal vir jou bid – vir jou behoeftes – jou versoeke. Hierdie mense vertrou God regtig! Hulle bid regtig! En, hulle gee om – baie. Dit is so mooi om hulle liefde en besorgheid vir ander te sien.

Jou hulp word benodig!

Die onkoste om die Bovertrek te huur, om die Stadsaal te huur, en vir al die uitreike na die behoeftiges, is baie hoog. Al die pryse in New York Stad is verskriklik hoog. Maar God is goed, en die Here het dit op die harte van baie vriende geplaas om ons te help om hierdie belangrike bediening te ondersteun.

Al wat ek vra, is dat jy bid oor wat God sou wou hê jy moet doen. Seën hierdie verslag jou hart? Jubel jy oor dit wat God doen? As dit so is, kan jy so ‘n seën vir ons wees – en die las van ons skouers afhaal. Dankie vir jou omgee.

Ons is lief vir jou!