Laaste Dag Getuies

David Wilkerson

As jy dit so verkies, kan die Koninkryksheerskappy mense glo, wat verkondig dat Christene hierdie goddelose wêreldse stelsel sal onderwerp en suiwer en Jesus terugbring na ‘n oorwonne aarde. Ek glo die apostel Petrus, wat in die Bovertrek gestaan het op die Pinksterdag en met vrymoedigheid verkondig het dat Joël se profetiese laaste dae aangebreek het.

Ek staan by Johannes wat in hierdie evangelie geskryf het, “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het at die Antichrist kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is...” (1 Johannes 2:18, Ons hoofletters).

Waarom is dit so dat die dissipels die dag van genade herken het as die laaste dae – en ons wat aan die heel einde van die geskiedenis lewe, luister na diegene wat sê, “Die Here het Sy wederkoms vertraag...Alle dinge gaan voort soos gewoonlik...Waar is die teken van Sy wederkoms?” Jesus self het hulle “slegte diensknegte” genoem wat jou sou laat glo dat die Here Sy wederkoms uitgestel het (Sien Matthéüs 24:48). Moenie luister na diegene wat Christus se spoedige wederkoms vergeestelik nie; dit lei tot afvalligheid!

Paulus het gesê, “God...het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun...” (Hebreërs 1:2). Jakobus het die rykes bestraf wat goud en silwer bymekaargemaak het en gesê het, “Julle het skatte vegader in die laaste dae” (Jakobus 5:3). Hy het bygevoeg, “...want die wederkoms van die Here is naby” (Jakobus 5:8). Petrus het met vrymoedigheid die krag van Christus se bloed en die kosbare Lam, wat voortuitgeken is voor die grondlegging van die aarde verkondig: “maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil” (1 Petrus 1:20). As al hierdie goddelike mense geglo het dat Pinkster die laaste ure van die kerk ingelei het – as hulle geglo het hulle het geleef om die vervulling van Joël se profesie te sien – hoeveel nader moet ons aan die einde van God se handelinge met die mensdom en die kerk wees? Dit was op Pinkster waartydens al die gedoopte gelowiges met krag toegerus is om die hele wêreld in te gaan om getuies van Christus te wees. En jy kan seker wees dat van Pinkster af – die begin van die laaste dae – totdat Jesus Christus terugkeer, het Hy nog altyd en sal altyd Sy eie ware getuies hê.

Ek glo dat God, deur Sy Heilige Gees, selfs nou ‘n ware leër van ware getuies suiwer en gereed maak wat vir die Here se heiligheid sal opstaan in die donker, laaste dae wat voorlê.

Daar is ‘n oppervlakkige soort bespotting wat in die kerk gehoor word vandag – dit is gemik op diegene wat ween oor die sondes van ons land en in die kerk. Dit is gerig op die heilige oorblyfsel wat smag na die Here se wederkoms en wat daarna verlang om Hom van aangesig tot aangesig te sien en wat verkondig dat Hy binnekort kom om Sy bruid te kom haal. Dit is hoe die beskuldiging klink, “Julle mense het moed verloor met die wêreld. Julle is gewillig om dit oor te gee aan die duiwel en rond te sit en wag vir Jesus om uit te sluip. Julle wil nie opstaan teen die goddeloosheid in die land en in sy regering nie. Julle sal dit in puin laat. Julle is ontsnappers! Julle is geroep om te heers en te regeer – maar julle weier om betrokke te raak.

My antwoord daarop is, “Verskoon my dat ek saam met Abraham bely dat ek ‘n vreemdeling en ‘n pelgrim op hierdie aarde is... en dat ek ‘n beter vaderland soek, dit is ‘n hemelse vaderland... want ek vertoef hier in ‘n vreemde land...en my oë is gerig op ‘n stad wie se bouer en maker God is...” (Sien Hebreërs 11:9-16). As dit ‘n skande is, dan deel ek dit beide met Abraham, Paulus en al die heiliges van vorige eeue. Paulus het gesê, “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige” (Hebreërs 13:13,14). Hier op aarde – “geen blywende stad nie! Ons soek die toekomstige!” Geliefde, dit is die Nuwe Jerusalem van bo wat die “moeder van ons almal” is wat dit glo en dit aanneem. My toekoms is nie hier nie – dit is in Sion, die plek waar Christus is – die hemel! Alles hier is op pad vuur toe, na vernietiging, saam met die elemente wat sal verbrand.

Diegene wat lewe in blye verwagting van Christus se terugkeer, het meer mag en geestelike gesag oor die owerhede en magte van duisternis as al diegene wat roekeloos lewe. Dit is omdat hulle gemotiveer is om menslike behoeftes aan te spreek eenvoudig deur die krag van Christus se liefde in hulle. En hulle weet dat as mense nie verander word met nuwe en gereinigde harte nie, is alle politiese en sosiale veranderinge nutteloos. Ons het trotse, grootpraterige predikers wat absoluut weier om Petrus te glo toe hy gesê het, “Die teenswoordige hemele en die aarde...is...weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van oordeel...Waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand...al hierdie dinge dan vergaan...ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon...” (2 Petrus 3:9-14). Petrus het bygevoeg, “...moedswillig vergeet hulle...[van hierdie waarhede]” (2 Petrus 3:5). Die koninkryksheerskappy mense probeer die vuur en die verbrandings en die versmelting van die aarde se elemente vergeestelik. Maar vra die inwoners van Sodom en Gomorra of God se vuur van oordeel bloot geestelik is. Vra Agan en sy verbrande families. Vra vir Korag, Dotan en Abiram en die 250 rebelse leiers waarop “’n vuur van die HERE uitgegaan en tweehonderd-en-vyftig man verteer...” het (Númeri 16:35).

Amerika is nou reeds onder oordeel

Amerika beleef nou reeds die verskriklike oordele van die Here. Die brandplekke woed nou reeds. Dwelmmisbruik is buite beheer. Leerstelling van duiwels word in ‘n apatiese kerk ingelyf wat toelaat dat goddelose Isébelle onderrig gee en verlei. Sonde, misdaad, plae, siektes, verdorwenheid, dwelms, aborsie, homoseksualiteit, terrorisme: alles neem so vinnig toe, dat dit onmoontlik is om dit met ons menslike verstand uit te reken. Ons kan nie dit wat gebeur glo of aanvaar nie.

‘n Kundige dokter het die verskrikking wat dokters oral voel oor die plaag van VIGS in woorde omgesit. Hy het gesê, “Tensy ons binnekort ‘n towermiddel vind, is dit alles verby – ons is verdoem as ‘n samelewing. Ons het geen sedelike of politieke moed om wette in te stel teen diegene wat dit versprei nie, of om hulle te isoleer nie. Ons het blind en onbekwaam geword en het homoseksuele “die reg” gegee om hierdie verskriklike ding dwarsdeur die wese van die samelewing te stuur. Teen 1993, sal dit triljoene dollars kos in mediese kostes – wat ons nie het nie – en dit opsigself kan ons vernietig.” Dit is nie die waarskuwings van emosionele evangeliste nie – dit is die nugter boodskap van mediese spesialiste. Hulle weet dat die hele wêreld – dat die hele samelewing – nou in gedrang is. En die homoseksuele is nou so ingegrawe in ons politiese magstruktuur, dat die land met sweepslag tot onderworpenheid gedwing word tot die dood toe.

Wat is hierdie plaag? Dit is Deuteronómium 28 wat tot die letter vervul word. Moses het geprofeteer dat sulke plae diegene sal oorval wat die ontsagwekkende Naam van die Here verlaat het: “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die HERE jou God, te vrees nie, dan sal die HERE oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes; en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat julle jou aanklewe. Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:58-61).

Dit is in afvallige tye soos hierdie – wanneer die oordele van God val – dat ware getuies so nodig is! Dit is nie ‘n tyd vir valse getuies nie! Die basuin moenie ‘n dowwe geluid maak nie. Daar moet ‘n suiwer boodskap uitgaan – ‘n oortuigende boodskap – ‘n boodskap so aan die brand met Christus se heiligheid dat die valse profete en verleiers beskaamd gemaak sal word.

Die karakter en bediening van ware getuies

Alle ware getuies van Jesus Christus het ‘n dubbele bediening. Hulle is geroep om die goeie boodskap aan die verlorenes te verkondig – en om die regverdige oordele teen sonde in die kerk aan te kondig! Sommige glo hulle enigste bediening as ‘n ware getuie, is om die goeie nuus aan ‘n verlore wêreld te verkondig. Dit is waar, God het die voete van diegene wat rondgaan en die blye boodskap van genade en versoening verkondig aan alle berouvolle sondaars, wat hulle sondes laat staan, vurig lief. Maar dit gaan baie verder as dit! Die ware getuie word geroep deur die Gees van God om goddeloosheid in God se huis te onderskei en die Here se regverdige oordele daaroor te verkondig.

God sal nie passiwiteit of neutraliteit toelaat wanneer dit daarby kom om met sonde af te reken in die huis van God nie. ‘n Herder van een welbekende Charismatiese kerk weier om te luister na enige berigte van sonde in sy gemeente. Hy het gesê, “Ek wil dit nie hoor nie. Gee hulle net genoeg tou en hulle sal hulleself ophang.” ‘n Lid van dieselfde gemeente het vir my geskryf oor al die kompromieë wat nou daar aangaan as gevolg van sy apatie.

Toe die seuns van Benjamin geweier het om af te reken met die verkragters onder hulle wat ‘n Leviet se byvrou wreed aangeval en vermoor het, het die hele Israel saamgekom om te veg teen hulle want, “So iets het nie gebeur en is nie gesien van die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe nie...” (Rigters 19:30). Verenig soos een man, het Israel teen hulle eie broers – die Benjamiete opgetrek. Almal behalwe een stam van Jabes-Gilead. 25,000 Benjamiete het in die oorlog omgekom – maar 600 was toegelaat om te lewe om te verhoed dat die stam uitsterf. Maar weens die neutraliteit en apatie van Jabes-Gilead, was elke man “[ge]slaan...met die skerpte van die swaard” (Sien Rigters 21:10,11).

Jesaja het gesê dat hy en sy familie ‘n voorstelling was van ‘n teken of tipe van die Here se ware getuies. Die Gees van Jesus was op hom en sy familie. “Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het – tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon...” (Jesaja 8:18). ‘n Meer akkurate Hebreeuse vertaling is: “Ek en my kinders wat Jehova vir my gegee het as tekens en tipes in Israel...” (Keil-Delitsch). Met ander woorde, Jesaja en sy kinders is tekens, simbole van die Here se ware getuies in Sion. Die belangrikheid van hierdie profesie, word ontdek waar dieselfde woorde toegeskryf word aan Christus in Hebreërs 2:13, “Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het...”

Die tipe word gevind in hulle name! Jesaja het ‘n vrou gehad wat ‘n profetes was en twee seuns. Jesus het die tipes waarvan Jesaja gepraat het, verstaan – en dit is waarom Hy verklaar het dat Sy eie geestigheid van dieselfde karakter was.

Beskou die naam Jesaja: “ons verlossing is Jehova!” Die volle betekenis van sy naam word gevind in Jesaja 12:2 – “Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword...” Hierdie kosbare dienskneg het ‘n visioen gesien van die verskriklike en ontsagwekkende heiligheid van God. Hy het gesien hoe die serafs van die hemel hulle oë bedek vir die gesig wat hy gesien het. Hy het die donderende stemme gehoor van engele wat vlieg, “heilig, heilig, heilig.” Hy was verneder en skaam oor die onreinheid van sy lippe – en oor die sonde onder God se volk. Hy het die belewenis van die brandende, reinigende kole vanaf God se altaar gehad. Hy was nooit weer dieselfde nie. God se heiligheid was nou sy visioen, sy getuienis, sy bediening. Hy was nie daarop uit om iemand te vang nie – hy was nie wraakgierig nie. Jesaja het verstaan dat God se verlossende liefde agter al Sy regverdige oordele was. Sy toorn was bedoel om toekomstige genade aan ‘n gereinigde, gesuiwerde volk te skenk! Maar nooit weer sou hierdie getuie toelaat dat sonde onbetwis bly teen God se heiligheid nie.

Jesaja het geweet dat as hy slegs vir God se heiligheid gestaan het – sou dit die toorn van die hele volk van God wat verknog was aan die wêreld oor hom bring! Hy en almal wat by hom gestaan het, sou aangekla word dat hulle onpatrioties was! Hulle sou samesweerders genoem word – tweedragsaaiers. Maar Jesaja was so helder in sy visioen van God se heiligheid – so seker dat God sonde sou oordeel – hy het nie omgegee wat hulle gesê het nie. Hy het gewaarsku, “Julle mag nie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees...of verskrik wees nie...” (Jesaja 8:12). Wat die profeet in wese gesê het, was, “Moenie afgesit word deur beskuldigings dat jy ‘n verraaier, ‘n samesweerder, of onpatrioties is, omdat jy die waarheid oor God se heiligheid en regverdige oordele teen sonde in Sy huis verkondig nie! Moet hulle nie vrees nie – wees nooit bang om op te staan vir Sy geregtigheid nie...” “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie” (Jesaja 51:7).

Jesaja was vreesloos teen sonde in Israel, omdat hy geweet het dat God belowe het om ‘n heiligdom te wees vir almal wat vir Hom staan. “Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees” (Jesaja 8:14).

Wie is dit wat weggesteek by God sal wees – beskerm teen al die pyle en vurige pyle van die vyande van die Here! Daar is ‘n voorwaarde! “Die HERE van die leërskare – Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy hulle verskrikking wees...” (Jesaja 8:13). Diegene wat God en sy heilige oordele vrees, hoef geen mens, geen demoon, geen owerhede of magte of duisternis te vrees nie. Diegene wat ontsag het vir Sy heiligheid sal ontdek Christus is hulle skuilplek!

Jesaja sê hy is ‘n tipe – “...ek en my kinders...” Daarom is die ware getuie van hierdie laaste dag, een wat soos Jesaja, afgesonder is met God – wat gebreek en verander is deur ‘n visioen van Sy absolute heiligheid, en hy gaan uit om versoening aan sondaars te verkondig, en om te staan in die heiligdom as ‘n getuie voor God se eie volk oor Sy regverdige oordele.

Oordeel kom vinnig nader

Beskou die betekenis van Jesaja se seuns: Sjear Ja-sjub en Netnou Is Daar Buit, Gou Is Daar Roof. Die tweede seun het die langste naam in die Bybel. Maar dit is ook die naam wat Christus gee aan al Sy ware getuies – dit is hoe belangrik hierdie naam is. Die naam in Hebreeus beteken, “Netnou is daar buit, gou is daar roof. In gewone Afrikaans is dit: “’n Tyd van algemene ontwrigtings, plunder en  verwoesting kom gou.” Hierdie seun se naam was op ‘n tekenbord geskryf en opgestel in ‘n openbare plek waar almal dit kon sien. Dit was die getuies van God teen ‘n land vol afvallige, afgodedienaars. Dit het daar gestaan – voor die aankomende skares as die hemel se vaste profetiese woord. Hard en duidelik was die boodskap op hierdie teken: “Oordeel staan voor die deur – tyd loop uit!” En hou in gedagte hierdie getuie was opgestel teen God se eie hardnekkige kinders.

Die Here se ware getuies moet die evangelie na ‘n verlore wêreld bring – na elke land onder die hemel. Maar elke ware getuie moet ook die profeet se jammerlike roeping om Christene, wat weier om te luister na wat die Gees sê, se harte te verhard. God het Jesaja beveel: “Gaan sê dit aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk [God se volk] vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë...” (Jesaja 6:9,10).

Paulus het verstaan wat Christus bedoel het toe Hy Sy laaste dag getuies vergelyk het met Jesaja en sy seuns. Trouens, Paulus, die kragtigste getuie van Christus, het self Jesaja aangehaal: “En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja...gesê: ‘Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal hulle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit...” (Handelinge 28:25-27).

Die Heilige Gees het deur Paulus die boodskap aangaande sonde, geregtigheid en oordeel verkondig. Waar die Heilige Gees ook al in beheer is, is dit die boodskap. Maar diegene wat weier om dit te hoor en hulle te bekeer, word daardeur verhard. Wat nie van die Gees is nie, fokus op self: selfverbetering, sonder bekering en haat vir sonde.

Toe Jesaja sy visioen van God se heiligheid ontvang het en nadat hy deur vuur gereinig was – het hy die Here hoor sê, “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Jesaja het geantwoord, “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:6,8). Wat was hierdie groot bevel – wat was hierdie heilige opdrag? Om in die Here se heiligdom in te gaan tussen Sy mense en hulle onsensitief te maak! Preek hulle blind en dom! Verkondig God se heiligheid totdat hulle harte so hard soos klip is, “En as nog ‘n tiende deel daarin is [wie sal hoor en sal terugkeer na die Here]...” (Jesaja 6:13).

Jesus self het gesê dat Sy lering dieselfde effek het op die skynheiliges van Israel. Hy het gesê, “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie” (Matthéüs 13:13). Dan, wonder bo wonder, haal Hy dieselfde gedeelte uit Jesaja aan, “En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê...Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit....” (Matthéüs 13:14,15).

Van Jesaja, van Paulus en van Jesus, het ons dieselfde skrikwekkende waarskuwing ontvang: Hulle sondes het hulle verblind en verhard – en die waarskuwings van oordeel sal hulle nie ontstel nie. Hulle sal wegdraai en die boodskap van regverdige oordele uit hulle gedagtes sluit! Dit is presies wat op hierdie uur gebeur dwarsdeur die evangeliese en veral die Charismatiese kringe. Slegs ‘n klein, beswadderde en veragte groep verkondig dit nou. Die Here se ware getuies is min in getal – maar prys God, Hy maak baie meer wakker. Dit is jammer dat die grootste gedeelte verkies om sonde oor te sien – hulle weier om te treur oor die sondes in die heiligdom want hulle is te vasgevang in hulle Laodicensiese rykdomme en seëninge.

‘n Oorblyfsel sal gered word

Jesaja se eersgeborene genaamd Sear Jasjub [Jesaja 7:3], beteken in Hebreeus, “’n Oorblyfsel word bekeer.”

Hier is die tweede kenmerk van die Here se ware laaste-dag getuie! Hulle glo wat Jesus gesê het, “Baie is geroep, min is uitverkies...Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind...Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie...” Die Here se ware getuie moet die bevel gehoorsaam om die evangelie na die wêreld te neem – na “wie ore het om te hoor.” Hy moet vrug op sy arbeid verwag – en om dissipels te maak van diegene wat gereed gemaak is om in heiligheid te wandel. Die ware getuie moet lewe in die hoop van Heilige Gees uitstortings, herlewings, en die bekering van menigtes in heidense nasies. Baie van die beskaafde wêreld was geskud deur magtige herlewings in die afgelope eeue. Onder die Romeinse Keiser Konstantyn, was hele nasies “gekersten” – met ‘n vorm van godsaligheid sonder die krag. En vandag bekeer veelvuldige duisende hulle tot Christus agter die Ystergordyn, China, Afrika, Suid-Amerika en op ander plekke. Terselfdertyd, word evangelie-versadigde Amerika verhard en verdorwe.

Tog was dit nog altyd ‘n feit dat hoewel menigtes gewillig is om “Christus te bely” en by denominasionele stelsels aansluit – slegs ‘n oorblyfsel verder gaan om “die Here ten volle te volg...” Slegs twee uit die menigte duisende wat uit Egipte gekom het, het die Here gevolg met hulle hele hart – Josua en Kaleb. Net twee!

Jesus waarsku dat vele talle daarin sal roem dat hulle profeteer in Sy Naam; duiwels uitdryf; baie wonderlike werke doen en hulle word nie eens deur die Here geken nie: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! Sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie. Maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matthéüs 7:20-23).

Jesaja het gesê, “En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ‘n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid” (Jesaja 10:20-22). Lees ook die volgende: “Mensekind, as ‘n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek en die staf van die brood daarvan verbreek en ‘n hongersnood daarin stuur, en Ek daaruit mense en dier uitroei – al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE...Of as Ek pes in daardie land stuur en my grimmigheid daaroor uitgiet in bloed, om daaruit mens en dier uit te roei - al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here, hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red...Maar kyk, daarin sal oorbly wat ontvlug, wat uitgebring word, seuns en dogters; kyk, hulle kom uit na julle toe, dat julle hulle weg en hulle handelinge kan sien, en julle getroos kan word oor die onheil wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek daaroor gebring het” (Eségiël 14:13-14,19-20,22).

Ons haal so dikwels Joël 2 aan betreffende die Heilige Gees uitstorting op alle vlees. Maar dit is ook ‘n uitstorting van regverdige oordele met die son wat verduister; die maan wat in bloed verander. Die hoofstuk sluit af met hierdie boodskap: “...want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het...” (Joël 2:32). Die evangelie sal versprei oor die hele wêreld – elkeen wat die Here aanroep, sal gered word. Daardie aanroep is meer as ‘n stem vir Jesus – dit is meer as ‘n oppervlakkige bekering. Slegs ‘n oorblyfsel sal roep vanuit ‘n hart bedroef oor sonde – slegs ‘n oorblyfsel sal hulle bekeer van hulle goddeloosheid en waarlik gered word. Die groot menigtes wat voor God se troon staan, verteenwoordig die oorblyfsels gered sedert die Kruis. Die oorblyfsels van al die verskriklike dae van vervolging – oorblyfsels gered uit die Donker Eeue. Ons sal die sluitsteen oorblyfsel wees.

Beskou weer wat Jesus gesê het, “...Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het...” (Hebreërs 2:13). Hy sê in wese, “Kyk na My – aanskou My heiligheid en staan in ontsag teenoor My geregtigheid. Kyk dan na die eienskappe van My ware getuies! Kyk hoe my getuies werklik is! Dit is presies soos die profeet geprofeteer het.”

Die ware getuies is ‘n liggaam van gelowiges wat die Here se las vir ‘n verlore wêreld deel! Hulle staan teen al die beledigings en uitjouery van ‘n sondige, afvallige, hoerkerkstelsel – om te verkondig dat die regverdige oordeel van ‘n heilige God nou voor die deur is! Hulle is daarop ingestel om die Here ten volle te volg – met hulle hele hart, te midde van ‘n goddelose en verdraaide samelewing!

Hulle ken die koste van dissipelskap, die skande van die kruis, die deel van Christus se lyding – en hulle weet dat slegs ‘n oorblyfsel van ontwaakte siele so ‘n reguit en nou pad sal volg! God alleen is hulle vrees en verskrikking! Hulle word omring deur ‘n muur van vuur – Hulle het vrymoedigheid omdat hulle gereinig is!

Hulle verag die bohaai en oppervlakkigheid van die charismatiese choreagrawe en bedreërs – omdat hulle die heerlikheid van Sy heilige teenwoordigheid aanskou het! Hulle haat die vlees in God se huis, in hulleself, in God se werk, en waar dit ook al opstaan – omdat vlees die vyand teen die Gees van God is.

Die beste van alles is – hierdie oorblyfsel laaste dag getuies is die vreugde van die Here se hart. Hy verheug Hom daarin om vir die ganse mensdom te sê, “Hier is Ek en My kinders – aan My gegee deur my Vader!”