Dodelike Dwelm Waansin Tref Nasie

David Wilkerson

Hulle noem dit CRACK – en miljoene jongmense is behep daarmee. Talle van hulle het hopeloos verslaaf daaraan geraak na net een dosis. Die euforie hou slegs vir ‘n paar minute, maar dit is so intens dat sommige dit beskryf as groter as ‘n duisend orgasmes op een slag.

Crack is goedkoop in vergelyking met heroïen – en dit kan vervaardig word in die kombuis deur tieners. Kokaïenpoeier word in crack verander deur dit in ‘n warmgemaakte mengsel te plaas, dit te laat afkoel en dan in klein stukkies te breek wat gerook word, gewoonlik in glas pype. Straatkinders rook dit in koeldrankblikkies met gaatjies in naby die bodem. Die dwelm is amper gewigloos en word verkoop in klein flessies. Waar kokaïen verkoop word vir ongeveer $100 per gram. Word crack vir slegs $5 tot $20 ‘n flessie verkoop.

Crack is koning op die strate. Die opskietende euforie is so oorweldigend vir misbruikers, dat hulle ure deurbring in die dwelmlêplekke genaamd “crack-huise.” Baie bly in euforie vir vier tot vyf keer ‘n uur. Op die ou end roof, steel, hoereer en verkoop hulle dwelms om hulle gewoonte te onderhou.

Die groot euforie word vinnig gevolg deur ‘n skrikwekkende laagtepunt – ‘n emosionele depressie wat kan lei tot geweld en paranoia. Crack-verslaafdes word geïrriteerd en hulle persoonlikhede word verdraai. Hulle dink dat mense teen hulle praat, dat familie en vriende komplotte beraam om hulle te vernietig – daarom slaan hulle eerste toe.

Hier in New York Stad, het ‘n 16 jarige seun in Harlem sy moeder vermoor nadat hy verslaaf geraak het aan crack. ‘n Agtienjarige Brooklyn seun het ‘n predikant doodgemaak tydens ‘n rooftog om geld vir die dwelm te kry. Drie mense was onlangs vermoor by ‘n crack-partytjie ‘n Saterdagaand. ‘n Agtjarige meisie wat uit ‘n 31ste vloer woonstel gegooi is deur haar oom wat in ‘n crack-euforie was. Die kind se moeder was ook ‘n crack-misbruiker. Verlede nag het ‘n vader sy drie maande oue dogter by die venster uitgehou aan een vinger. Die kind was wonderbaarlik gered.

Die grootste tragedie van alles, is om jong verwagtende moeders te sien, sommige agt maande verwagtend, wat rondlê in crack-lêplekke en dronk word, met geen kommer dat hulle baba’s verwoes word deur hulle dade nie. Vaders wat hierdie crack-lêplekke bedryf, is bekend daarvoor om hulle dogters te gebruik om die dwelm te verkoop – deur te hoereer – en hulle verslaaf te kry. Soveel as 18% van misbruikers maak daarop aanspraak dat hulle al probeer het om selfmoord pleeg. Newe-effekte sluit in breinfloute, longskade, beroerte, hartaanval, senuweeskade, borskongestie, swartslym, hoes, nagmerries en gewelddadige uitbarstings.

In sommige dele van die stad is daar meer “crack-huise” (lêplekke) as kerke of drankwinkels. By hierdie crack-lêplekke kan kinders die pype huur, die dwelm koop en vir dae lank bly – onder die invloed en bedwelmd – as hulle die geld het. Hulle loop deur die strate en lyk soos zombies – bleek, amper leweloos, uitgeteer en baie siek

Amerika is onder ‘n goddelike vloek!

Ek preek nou al vir meer as 30 jaar op die strate van ons Amerikaanse stede. Ek was op die strate van Houston, Texas verlede maand. Nou is ek weer op die strate van New York Stad. Alles tol buite beheer. Die vloek van Deuteronómium 28 is op ons. “Maar as nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie...dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal...” (Deuteronómium 28:15). “Dan sal die HERE oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaardaardige en aanhoudende siektes; en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte...sodat hulle jou aanklewe; Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:59-61).

Vigs was nie in die Wet geskryf nie! Ook nie die siektes, herpes of chlamydia nie. Die nuwe crack-plaag was onbekend in die dae van Moses. Maar God het ons gewaarsku dat ongehoorsaamheid en sonde langdurige, verwoestende, nuwe plae oor ons sou bring

Daar is meer as 10,000 Vigs-slagoffers wat tans besig is om te sterf hier in New York Stad. Jy sien hulle op die strate loop – hulle loop soos wandelende geraamtes. Sommige het onbeskaamd geroem dat hulle op pad is hel toe en dat hulle soveel as wat hulle kan gaan saamneem. Sommige versprei doelbewus hierdie verskriklike siekte. Die aantal wat geïnfekteer word verdubbel elke ses maande.

Drie uit vier dwelmmisbruikers wat na ons toe kom vir hulp, is crack verslaafdes. Die moord, die rowery, die geweld, is ongekend. Ek sê vir jou – en ek weet omdat ek op die strate is – dit is buite beheer! Dit is absoluut, positief – ‘n vloek toegelaat deur God!

Moeders! Ween vir julle kinders!

Dit is wat ek op die strate verkondig elke aand. Ek sien honderde kinders en ek ween! Watter hoop is daar vir hulle! Binnekort, voor hulle tieners is, sal die plaag baie van hulle tref. Die skole is mini-helle! Dit lyk vir my of een uit elke drie studente dwelms verkoop. Die stories wat die klein vierde graadse kinders vertel, is verskriklik. Dit is ‘n storie van kokaïen, dagga, drank, pille, seks – ek kan dit skaars verdra om na hulle stories te luister. Daar is ‘n hardheid, ‘n hopeloosheid – dit is asof veiligheidskeerpunt bereik is. Die enigste ding na hierdie, is anargie en uiterste chaos.

Ek ween innerlik terwyl ek hier skryf. Ek skryf hierdie boodskap in 8ste Laan naby 42ste Straat. My hart is bedroef oor al die mooipraatjie-, “alles gaan goed-” predikers in Amerika. Ek sê vir hulle – “Kom saam met my na die strate; kom laat my vir jou die duisende jongmense wys – die hopelose massas – dronk, bedwelm, siek, duiwelbesete – sê dan vir my Amerika word beter! Sê vir my hierdie land is nie onder ‘n vloedstroom nie! Kom kyk die plae! Kom kyk in die oë van duisende wat sterf van Vigs! Kom kyk na die siek prostitute, die moordenaar dwelmsmouse wat ons jeug verdoem – klim uit jou ivoortoring – klim af van julle veilige kansels – kom uit julle teologiese forte – AMERIKA IS TANS ONDER PLAE EN VLOEKE OOR SONDE EN REBELLIE TEEN DIE ALMAGTIGE GOD!”

Of jy dit wil weet of nie – Oordeel het reeds begin!

Ek kan nie vir jou beskryf wat ek sien op hierdie geteisterde strate nie. Duisende afvalliges – skipbreukelinge – wat van Jesus af weggegaan het na die wêreld toe. Hulle is oral. Ek kan my slegs indink wat die profeet Jeremia sou gesê het as hy nou hier sou staan waar ek nou staan.

“So sê die HERE van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die HERE geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek...” (Jeremia 14:10).

Waarom is daar so baie wat afvallig raak? Pinkstergemeentes, Baptiste, Charismate – alle denominasies! Waarom word hulle op die strate uitgegegooi, slagoffers van demoniese magte? Ek ontmoet honderde van hulle wat ons straatdienste bywoon – sommiges is afvallige predikers wat nou dwelms gebruik, dronk word, elke aand na partytjies gaan. Dit is weens afvallige, owerspelige predikers. Wanneer jy ‘n stadsprediker ontmoet wat aan die brand is vir God, heilig en gebroke oor sonde – is hy sterk en kosbaar. Maar so baie is magteloos, sit voor ‘n TV-afgod en kyk playboy films – oorweldig deur bose magte – hulpeloos om die mense te red vir wie hulle preek. Jeremia het van hulle gesê, “... die profete sê vir hullle: julle sal geen swaard sien....Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig...En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê...So sal Ek hulle boosheid oor hulle uitstort...” (Jeremia 14:13-16).

Bid vir al die middestadherders. Demoniese magte is vrygestel – Satan is vasbeslote om hulle sedes en geestelike gesag te ondermyn en te steel. Dit gaan heilige, gewyde kinders van God verg – met baie geestelike gesag – om die boeie te breek wat stadsbewoners bind, veral nou, met al die plae en vloeke wat die land oorval.

God is groter as alles!

Reg in die middel van al hierdie plae – rig God ‘n heerlike getuienis op tot Sy mag en heerlikheid. Alkoholiste, crack-verslaafdes en mense gebind met allerhande sondes, word verlos en vrygemaak. Jong crack-misbruikers kom reg – sommige is saam met ons buite op die strate en vertel aan ander hoe Jesus Christus hulle vrygemaak het. Afvalliges ween, kom tot bekering en kom terug na die Here met hulle hele hart.

Predikers bekeer hulle! Sondaars roep tot die Here om gered te word. Moeders en vaders wend hulle tot Christus – en bid beskerming oor hulle kindertjies – en ek het reeds saam met gelowiges na die huis van God gegaan.

Waar sonde ook al oorvloedig is – moet genade nog meer oorvloedig wees. Dinge sal erger word – oordeel sal versprei – nuwe plae en vloeke sal binnekort uitbreek – die koggelaars en spotters sal voortgaan om ons te blameer dat ons negatief en veroordelend is. Maar ons sal nie net rondsit en die duisternis vervloek nie – ons sal voortgaan om tot by die poorte van die hel te gaan en soveel as wat ons kan te red terwyl daar steeds tyd is. Laat ons kritici sê wat hulle wil – ek in elk geval wil reg langs die portaal van die hel staan en sommiges red van brand. Bid vir ons! Bid vir ons jeug! Wees bedroef oor ons stede!