‘n Klag Teen Goddelose Jeug

David Wilkerson

“Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (Jona 1:2).

“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Maleági 4:1).

“Ons weet dat...die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19).

Wat het God te sê oor die onsedelikheid en goddeloosheid van die hedendaagse jeug? Hy het dieselfde ding te sê gehad vir Ninevé eeue gelede, “Ek het genoeg gehad! Gaan na hulle en vaar uit teen hulle sondes! Waarsku hulle dat my vurige toorn op die punt is om op hulle te val! ‘n Groot verwoesting gaan binnekort plaasvind, tensy daar wydverspreide bekering is!”

Ninevé was ‘n groot stad; dit het drie dae geneem om van een kant na die ander kant te loop. Daar was 120,000 onskuldige kinders wat daar gewoon het. Maar dit was so goddeloos, so gewelddadig, so verdorwe deur sonde en goddelose gewoontes – dat God dit nie meer kon verdra nie

Net een prediker was gestuur – Jona. Hy het geen ouditorium gehuur nie, hy het geen musikante gehad nie, hy het geen literatuur uitgedeel nie, hy het nie eens ‘n luidspreker gehad nie – nog minder ‘n televisie of radio. Hy het geen opvolg beplan nie.

Net een straatprediker wat dwarsdeur die stad geloop het, sonder om te stop en met iemand te praat, wat regeringsleiers geïgnoreer het, verby die groot tempels en universiteite geloop het – verby die kroeë, die bordele en die prostitute – en geroep en geskreeu het so hard as wat hy kon. Hy het nie die liefde van God verkondig nie. Hy het hulle nie vertel dat God ‘n pragtige plan vir hulle lewens gehad het nie. Hy het vir hulle gesê dit was alles verby! “Julle het net 40 dae oor. God het hulle goddeloosheid gesien en Hy gaan oordeel stuur!”

Jona het nie bekering verkondig nie; Hy het oordeel verkondig. God was vas van plan om bloot die mense te waarsku en hulle dan omver te werp vir hulle verskriklike goddeloosheid. Toe hulle hulle bekeer het, het God van plan verander en hulle gespaar.

Dit het nie saak gemaak hoeveel ander profete in dieselfde strate gestap het en probeer het om die mense te paai nie. As daar tienduisende predikers was van vrede en voorspoed wat menigtes getrek het om na hulle te luister en vir die Nineviete te vertel dat hulle land te wonderlik is en God te goed was om oordeel oor hulle te stuur – sou dit glad geen verskil aan God gemaak het nie. Slegs Jona het die ware boodskap gehad. Terwyl ander vrede en veiligheid verkondig het, het hierdie profeet oordeel geskreeu.

Baie predikers en profete verkondig oordeel. Maar daar was slegs een stem in die woestyn wat geroep het, “Bekeer julle, want die oordeelsdag is naby.”

Watter soort profeet sou Jona wees om God se vurige passie teen hulle goddeloosheid te ignoreer en ‘n paaiende boodskap wat aanvaarbaar was vir die skare te verkondig?

Dit sou so maklik wees om die nasionale vlag van Ninevé te neem, dit te paradeer verby die juigende skare en hulle gasvryheid, hulle leiers en hulle stigters te komplimenteer. Dit is die soort sagte, mooi prediking wat nou so van gehou word in hierdie land. Ons verlustig onsself in die vlag. Ons profeteer selfvoldaan dat hierdie land te wonderlik, ons leiers te sedelik, ons God te goed is om ons te oordeel.

Waarom sou God Amerika spaar van vurige oordeel? Gaan al die sodomiete, lesbiërs, sadomasochiste en verkragters berou toon en hulle nederig bekeer tot God?

Gaan ons regeringsleiers in Washington en in die staatshuise rouklede aantrek en op ashope sit met berou oor dronkenskap, losbandigheid en korrupsie? Gaan die Amerikaanse volk ween as ‘n gebroke volk hulle gruwelike sondes, gierigheid en gedagtes dat hulle God vergeet het, bely?

Moenie vir my sê God sal ons spaar omdat ons sending-georiënteerd is nie. Ons spandeer meer geld op hondekos as op sending. Wat gegee word, word nie gegee deur die volk nie, maar deur ‘n handjievol gelowiges.

Sommiges sê Hy sal ons spaar vir ons barmhartigheidswerke – ons skenkings aan arm lande. Dit is ‘n klug! Ons gee minder vir kinders wat sterf van die honger as wat ons op een oorlogskip spandeer.

Ons is goed vir Israel. Ons is net so goed vir sommige Arabiese lande. Ons verkoop miljarde dollars se waarde aan wapers aan die Midde Oosterse volke – genoeg om Armaggédon te laat plaasvind.

Word wakker Amerika! Ons is ‘n goddelose volk. Ons word oorrompel deur sodomiete; ons steier in die strate van dronkenskap, ons is die mees dwelmmal volk op aarde.

God is nie beïndruk met ons Olimpiese Spele nie. Hy sal nie gepaai word deur al die mooi woorde wat vanaf afvallige kansels stroom nie.

Ons nasie is gewelddadig. ‘n Volk wat amper afgestomp is deur die verskriklike stories van kindermisbruik, kindermishandeling en aborsie. Nie ‘n straat is veilig om op te loop nie, nie ‘n huis is veilig van rowers nie. Nie ‘n winkel word nie geteister deur rowers en winkeldiewe nie.

Ons jongmense maak geweld ‘n manier van lewe. Groot skole installeer nou metaalverklikkers om gewere en messe uit te snuffel wat skooltoe geneem word deur tieners. Onderwysers slaan kinders, en kinders slaan onderwysers. Rondgaande bendes vermoor, molesteer, verkoop dwelms, hou partytjie en terroriseer duikweë en woonbuurtes.

Soos een Detroit jongman bely het, “Ons het vroeër teen ons vyande baklei; nou steek of skiet ons hulle net.” Honderde van ons jeug sterf – selfmoord, met messe gesteek, doodgeskiet, oorgedoseer.

Miljoene van ons jeug is moeg vir ouers wat mekaar verneuk en liefdeloos is. Dronk pa’s en bedwelmde ma’s. Die kinders het so deurmekaar geraak deur ouers wat skei, dooie kerke en humanistiese lering – hulle raak slinks om wraak te neem. Hulle is so terneergedruk, hulle sal enigiets probeer op weer beter te voel.

Ek is ‘n lojale Amerikaan. Ek het my land lief. Ek salueer ons vlag, ek bid vir ons leiers. Maar ek is ook ‘n man van God, ‘n man van gebed – en ek hoor die ontsagwekkende geluide van ‘n naderende storm. Die Gees roep uit: Die land is goddeloos! Die jeug het die beker van toorn gevul!

Hy wat voorspel Amerika sal oorlog en vurige oordeel gespaar word, praat nie vir God nie. Al die elemente sal brand met ‘n vurige hitte. In sy Openbaring, het Johannes geskryf, “Alle volke is mislei, almal is dronk van die wyn van oordeel,” deur hulle verbintenis met Babel. Maleági het geprofeteer, “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal...almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek” (Maleági 4:1).

“Want deur jou towery is al die nasies verlei” (Openbaring 11:23). Sagaria gee vir ons ‘n ysingswekkende beskrywing van ‘n waterstofbomslagting. “Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sagaría 14:12).

God het ‘n baie duidelike antwoord waarom Hy oordeel verklaar het op hierdie bose eeu! Dit is dieselfde antwoord wat Hy vir Israel gegee het, “En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? (Jeremia 16:10).

Die antwoord? “Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie” (Jeremia 16:11).

Dit is waar dat goddelose ouers die blaam deel. Hulle het ernstig voor die oë van die Here gesondig. Hulle het die gode van silwer en goud aanbid. Hulle gode was hulle mae. Hulle aanbid die afgode van seks, sport en sukses.

Maar luister na God se aanklag teen die kinders van hierdie goddelose ouers. “En julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie. Daarom sal Ek julle wegslinger” (Jeremia 16:12-13).

God sê in wese, “Ek is nie blind nie – Ek sien wat jy in die geheim doen.” “Want my oë is op al hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie” (Jeremia 16:17).

Dan verduidelik God waarom daar soveel leegheid, verveeldheid en rusteloosheid was. “Want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en die barmhartigheid” (Jeremia 16:5).

Dink daaraan! God sê vir hierdie jong geslag, “Julle vaders was erg genoeg! Hulle het My verlaat! Hulle het My eens liefgehad en aanbid, maar hulle het hulle tot hul afgode gewend! Hulle is goddeloos en sondig!

“Maar – julle jongmense – nou sondig julle erger as julle goddelose ouers! Julle is plesiermal! Julle gee julleself oor aan enigiets wat julle hart begeer! Julle wil nie eens luister nie. Julle het julle hart verhard en julle ore toegesluit! Julle word so verdorwe, so goddeloos. Ek moet teen julle optree! Eers sal Ek waarsku, dan sal Ek skielik oordeel!”

Is al ons kinders goddeloos? Natuurlik nie! Dank God vir die veragte min wat nie hulle knieë voor die afgode van hierdie wêreld buig nie. Hulle skyn soos juwele op ‘n donker dag. Maar massas jeug word meer goddeloos by die dag.

God moet hierdie geslag boosdoeners oordeel of oorgee aan die mag van Satan! Dit is die sleutel tot my boodskap. Dit is die punt van die swaard van oordeel. God kan nie en wil nie Satan toelaat om hele gedeeltes van die samelewing oorwin en oor hulle heers nie!

Ninevé verteenwoordig ‘n groot gedeelte van die wêreld se bevolking van daardie tyd. Jongmense is ‘n groot segment van ons samelewing. God kan nie bloot sit en die duiwel toelaat om die jeugbevolking oor te neem sonder om Sy mag en gesag te abdikeer nie.

Deur die mond van Jona, het God vir Satan kennis gegee, nie net vir die Nineviete nie. God het in wese vir Satan gesê, “Jy het 40 dae oor voor Ek jou onder my voete vertrap! Jy kan hierdie volk vir nog net 40 dae gevange hou! Jou tyd is verby! Ek het genoeg gehad daarvan dat jy jou hand teen My oplig. Ek sal jou invloed in hierdie stad uitwis. Ek sal dit wegneem. Ek sal nie ‘n spoor van jou goddelose werk laat oorbly nie!”

Geestelike oorlogvoering is nie ‘n cliché nie! Die stryd vandag is nie ouers teen kinders of omgekeerd nie. Dit is nie ‘n stryd net tussen die jeug en God nie. Dit is ‘n stryd teen God en die duiwel self. Sondaar, jy is net ‘n pion in hierdie stryd. Hy gebruik jou om God skade te probeer doen. Jy sal deel hê van God se toorn teen Satan self. Hoe skrikwekkend!

God sal nie sit en niks doen en die duiwel toelaat om die jeug van hierdie wêreld te verdoem nie. Hy sal nie toelaat dat Satan se handlangers hulle bedwelm tot verwoesting op sý voorwaardes nie. Alkohol kan nie hierdie geslag opeis nie. Dit is wat God sê: “En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ’n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers” (Maleági 3:5).

As oordeel nie gou kom nie, moet ons erken dat Satan hele gedeeltes van die samelewing kan steel, vir God lag en ‘n ewige koninkryk op die aarde oprig. Nooit! God het reeds Homself geskud soos ‘n ontwakende leeu, en Hy tree reeds op om Satan en almal wat hom dien, neer te werp.

Ninevé het hulleself ná een preek bekeer! Die koning het die boodskap tweedehands gekry. Iemand het vir hom gesê, “Daar is ‘n man wat op ons strate loop en sê ons het net 40 dae oor! Ons gaan almal sterf!”

Die koning het nie gelag nie! Niemand het gelag nie! In hulle harte het hulle geweet dit was waar. Hulle het verwag dat God nie sou sit en toekyk dat hulle mekaar doodmaak en soos mal diere word nie.

Hy het alles tot stilstand laat kom! Elke hond en kat, koei en perd, man en vrou, seun en dogter moes vas. Die hele regering, al die besighede, al die vervoer tot stilstand laat kom! Geen aktiwiteite nie! Geen rondbeweeg nie. Almal was na hulle huise gestuur om op hulle knieë te gaan! Verneder julleself, was sy oproep! Bely julle sondes! Roep God aan om ons te red! Miskien, miskien is daar steeds hoop! Miskien sal God genadig wees.

Vergelyk dit met wat in ons land gebeur vandag! 24-uur satelliet TV verkondig die evangelie van die dakke af. Hoeveel evangeliste, profete, herders, leraars, straat-evangelisspanne – hoeveel is daar wat sondaars smeek om hulle te bekeer en te waarsku oor die naderende oordeel?

Hulle het een man en een preek gehoor en een kans gekry! Ons het honderde duisende predikers, hoor miljoene preke; ons word oorstroom met bandopnames; ons word oorval met tonne Bybels, literatuur, tydskrifte en boeke. Radio, TV, en koerante maak alarm. Wie luister nog?

God het Ninivé één keer geroep! Maar Hy roep en roep en roep hierdie land! Hoe lank sal Hy aanhou? Wanneer sal Sy geduld opraak?

God sê, “Wysheid roep op die strate.” Ook, “Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal...julle ondergang soos ’n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle...al my teregwysinge verag het...hulle eie afkerigheid... rig...te gronde” (Spreuke 1:24-32).

Dié van ons wat so preek, word “Oordeelsdagpredikers” genoem. Ons word voor gelag deur sogenaamde bedienaars van Christus se evangelie. Ons word beskuldig dat ons die wet preek en nie genade, liefde en barmhartigheid begryp nie. Ons word vertel ons maak mense net bang en dat ons slegs na die donker kant kyk.

Geen van daardie soort gepraat maak nou saak nie. God is liefde, maar Hy is ook heilig! Hy is ook regverdig! As Ananías en Saffíra dood kan neerslaan in God se huis, in ‘n Pinksterkerk, in ‘n dag van genade, waar liefde verkondig was – wat sal gebeur wanneer God die wyn van sy toorn uitstort teen alle goddeloosheid?

Jongmens, as jy oor ‘n vurige afgrond gehang het met net ‘n takkie waarvan die wortels op die punt was om ontwortel te word, wie sou jy wou sien? Iemand wat oor die rant loer en glimlag, “God het jou lief! Alles sal goed gaan! Jy sal nie val nie! Moenie dat iemand vir jou sê jy is in gevaar nie”? Nee! As jy nie weet hoe ernstig jou situasie is nie, sal jy wil hê dat iemand jou help of ‘n tou gee en vir jou skreeu, “Gryp dit vas voor dit te laat is!”

Jongmense – die mense van Ninevé sal in die oordeel opstaan om jou te veroordeel! Jesus het gesê, “Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier” (Matthéüs 12:41).

In die bonatuurlike wêreld, in die koninkryk waarin God beweeg en Sy wese is, sal etlike duisende oorlede siele uitroep, “God, as U regverdig is, vernietig hulle. Ons het slegs een man, een boodskapper gehoor; en ons het ons bekeer. Hulle het te veel gehoor! Daar is geen geregtigheid daarin nie! As U ons sou oordeel na net een boodskap, hoe kan U hulle nie oordeel nadat hulle hulle weggedraai het van ‘n oseaan van boodskappe en waarskuwings nie?”

Die veroordeelde siele van Sodom en Gomorra sal opstaan in die oordeel om nog ‘n veroordeling uit te roep! “Ons was veroordeel vir minder! Ons het geen prediker gehad nie! Geen Bybels nie! Geen TV of radio nie! Ons het geen Jona gehad nie, nog minder leërskares van bedienaars! Hoe kan U ‘n regverdige God wees en hulle nie verteer soos U ons verteer het nie?”

Hoor Jesus: “Hulle het in Ninevé hulle bekeer! U het ‘n groter beroep gedoen! Enige prediker in hierdie koninkryk eeu het meer kennis en salwing as Jona of Johannes die Doper.”

Meer as al hierdie dinge – het die Heilige Gees self, gestuur deur Christus vir hierdie spesifieke geslag, almal diep in die innerlike mens geroep!

Sondaar, jy kan TV evangelis Jimmy Swaggart afskakel. Jy kan die arm straatprediker afskakel. Jy kan allerhande soorte redes opdis waarom jy alle predikers en alle godsdiens afskakel. Maar jy kan nie daardie Prediker diep in jou hart afskakel nie. Hy is die Heilige Gees wat – op hierdie oomblik – uitroep, “Jy is ‘n sondaar. God is Heilig. Oordeel is naby!” Die Bybel sê, “Hy sal ons oortuig van sonde en naderende oordeel.”

Waar het ons jongmense verkeerd gegaan? Hoe het hulle hul pad verloor? Wat was die eerste stap wat so ‘n ongelooflike goddeloosheid teweeggebring het?

Die profete Jesaja het ‘n dag voorspel waarin die jeug sal flou word en val! Hy het geprofeteer, “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs” (Jesaja 40:30).

Hierdie groot val, hierdie moedverloor met alles, kan teruggespoor word tot ‘n algehele verlies van geloof. Jesaja het gevra, “WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?” (Jesaja 40:27).

Die profeet het in wese gesê, “Julle het glad geen vertroue of respek vir God nie. Julle beskuldig Hom dat Hy sy oë toesluit vir julle probleme. Julle beskuldig Hom dat Hy julle verlaat in moeilike tye. Glo jy werklik Hy is onregverdig.”

Al die profete stem saam dat die skokkende goddeloosheid van die kinders van Israel die direkte gevolg was daarvan dat hulle hul geloof in God verlaat het. Hulle het gesê, “God is traag om ons te help! God sien nie ons probleme, ons sondes nie! Hy neem ons net so ver en dan los Hy ons.”

Die presiese oomblik waarop Israel geloof in God verloor het, het hulle hulleself besoedel en nakend en dronk begin dans rondom ‘n goue kalf en gesê, “Dit is ons God.” Al hulle afvalligheid, al hulle hoerery, al hulle owerspel, al hulle geweld, kon teruggespoor word na die tyd waarin hulle opgehou het om God te vertrou.

So gaan dit vandag! Ons jongmense besoedel hulleself omdat hulle opgehou het om op God te vertrou. Hulle glo nie meer in ‘n skepper God wat alle mag, alle krag het nie; Een wat alles sien, alles weet en wat alles kan doen.

God het vir hierdie flouvallende, afvallige jeug gesê, “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie” (Jesaja 40:28,29).

Laastens, het God gevra, “Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie” (Jesaja 40:26).

Humanisme blameer God vir die hongersnode in die wêreld, en het dan die vermetelheid om voor te stel dat die mens meer medelye het as God. Moenie God blameer vir al die sterwende kinders nie. Blameer dit op die wêreld se regerings. Blameer die Ethiopiese regering omdat hulle hulle kos op die swartmark verkoop, om dit op hulle leërs te vermors. Blameer die knoeiende politici, diegene wat nie die wette van die natuur wou gehoorsaam nie. Blameer ons regering omdat hulle triljoene op verdediging spandeer en arm lande die dowe oor gee. Ons sou die grootste deel van Noord Afrika kon besproei vir die prys van ons maanlanding. Dit is pure bespotting, totale oneerlikheid om God te blameer vir die dwaasheid en blindheid van die mens. Terloops, wie het opgetree om die kinders wat van honger sterf te red? God se kinders eerste! Jongmense – julle luister na die duiwel se leuens! Hy het julle laat glo God kan jou nie help of skade doen nie!

Trouens, die oomblik wat jy al jou twyfel oorgee en terugkeer om God te glo en te vertrou, sal die boeie begin af val. Jou gedagtes sal vry wees! Jy sal nie meer verlore en hulpeloos voel nie! God sal Homself aan jou openbaar! Die Heilige Gees sal jou leer om lief te hê! Hy sal jou rus en vrede gee!

God is nie net kwaad oor seks, dwelms, alkohol, en al daardie sondige dade nie. Die verdoemende sonde, die een sonde wat veroordeel moet word, is ongeloof! Dit is verdorwenheid! Dit is goddeloosheid! Dit sal die vuur van God se toorn bring!

Slegs ‘n oorblyfsel sal gered word! Ek sien niks in die Bybel wat hierdie land enige hoop sal bied nie, behalwe ‘n 100% bekering landswyd. Dit gaan nie gebeur nie. die Bybel voorspel, “Goddelose mense sal erger word, mislei en mislei word.”

Ons het nou te ver gegaan om om te draai. Ons is op pad na Armaggédon. God het ons honderde jare gegee om ons te bekeer, maar ons het net harder geword, meer verdorwe. Daar is korrupsie van kop tot tone! En daar kom ‘n tyd wanneer selfs die gebed van ‘n Noag of ‘n Elia nie kan help nie.

Wat het Jesus te sê vir jongmense nét voor die oordeel, “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag” (Handelinge 2:40).

Petrus het hierdie waarskuwing van Christus verkondig in die Bovertrek. Bekeer julle en word gedoop en red julleself van hierdie goddelose geslag! Diegene wat dit gehoor het, het dit met blydskap ontvang en was gered. Sal jy?

God het Sy Gees uitgestort 2,000 jaar gelede. Dit was uitgestort op alle vlees. Ons seuns en dogters profeteer al vir die afgelope 2,000 jaar. Daar was honderde herlewings, ontwakings, beroeringe en wonderbaarlike bewegings.

Maar die Gees sal nie altyd strewe nie! Eendag, binnekort, sal God sê, “Die nag is verby, die dag van die heidene is verby. Die Gees se werk is amper klaar. Die uur van oordeel het aangebreek.”

Ten slotte, die mees skeptiese man in die ewigheid moet Jona wees! Hy sal dit nie alles verstaan nie! Hy het een preek gepreek en een hele samelewing het berou gehad en hulle tot God bekeer!

Hoe sal ons ooit die verwerping van ons jeug van die evangelie van Christus verduidelik? Die Nineviete sal dit nie glo nie! Die Sodomiete sal dit nie glo nie! Maar Jona sal die ergste geskok wees. En veral omdat ons “’n groter as Jona” gehad het.