Die Heerlikheid van God

Wat is dit? — Besit jy dit?
David Wilkerson

“…verheerlik My by Uself…” (Johannes 17:5).

Geen mens kan heerlikheid werklik definieer nie, net so min as wat ‘n mens God kan definieer. Heerlikheid is die volheid van God en hierdie onderwerp is te hoog vir ons beperkte verstand. Tog, ken ons ten dele.

Wanneer God Sy heerlikheid gee, gee Hy Homself. Hy kan Homself nie in stukkies opbreek nie – geen mens ontvang ‘n deel nie, maar alles. Die een wat Sy liefde ontvang, kry ook Sy genade, Sy heiligheid en Sy krag. Die een wat Sy barmhartigheid ontvang, kry ook Sy liefde en al die ander dinge wat die volheid van God is.

Dit is die heerlikheid van God – dat Hy Homself gee in volheid en nooit gedeeltelik nie. En diegene wat die heerlikheid van God soek, moet leer dat God werklik begeer om Homself aan ons te gee, wat beteken Hy wil hê ons moet volheid geniet.

Jesus het, voor Hy die aarde verlaat het om terug te keer na Sy hemelse Vader, gebid, “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5).

Jesus het nie meer krag, of eer, of mag, of majesteit gesoek nie! Hy het gesmag na die Vader self. Dit was asof Hy gebid het, “My Vader, Ek kan nie langer sonder U intimiteit bestaan nie. Ek smag na eenheid, nabyheid! Dat daar geen afstand tussen ons sal wees nie, hoewel U alles vul.”

Jesus was in die boesem van die Vader gebore voor die wêreld bestaan het. Hy was een met die Vader en dit was heerlikheid. Dit was eenheid met Hom wat die blydskap en heerlikheid van Sy wese was. Hy het INTIMITEIT, EENWORDING, en EENHEID gehad.

Ons weet so min van Sy heerlikheid af. Ons dink slegs in terme van kosmiese mag en heerlikheid. Ons is vreemdeling vir die ware betekenis van God se heerlikheid, ons verstaan nie eens wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, “Ek is in hulle verheerlik” nie (Johannes 17:10).

Het jy nie geweet dat Jesus Christus in Sy heiliges verheerlik is nie – nou? Dit beteken Hy erken Hy bly in ons en met al Sy goddelike volheid. Ons het nie net ‘n deel van sy volheid nie – ons is volmaak in Hom. Ons het binne-in ons alles wat Hy is! Wanneer Hy kom om in ons te woon, kom Hy in al Sy heerlikheid, mag, majesteit, heiligheid, genade en liefde. Ons het die heerlikheid van ‘n volkome en volmaakte Christus ontvang. ‘n Here met al Sy heerlike eienskappe.

Wil ons die heerlikheid van Hom hê?

Hoeveel van God se kinders vandag kan so ‘n gebed bid soos ons Saligmaker gebid het? Kan ons opreg uitroep na ons geseënde Here, “Verheerlik my met Uself! Bring my tot eenheid. Ek smag om nader, meer intiem te wees. Meester, dit is wat U wat ek wil hê. Meer as liefde of barmhartigheid, krag, tekens of wonders – ek moet die heerlikheid van U hê. Ek moet U teenwoordigheid hê!”

Die heerlikheid waarvan Jesus praat, het te doen met ‘n baie intieme soort liefde – ‘n liefde wat geen afstand of skeiding van die voorwerp van sy liefde toelaat nie. Dit begeer ‘n volkome eenheid, ‘n ewige eenwording. Hierdie goddelike liefde tussen ons Here en die Vader was so allerbelangrik vir Hom, dat Hy gretig verlang het na die dag waarop al Sy kinders dit kon aanskou met hulle eie oë.

Hoor Sy verhewe pleidooi: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld” (Johannes 17:24).

Eer aan die heilige Naam van Jesus Christus vir so ‘n heerlike gedagte! Christus is so oorstelp van blydskap met die heerlikheid van Sy intieme verhouding met Sy Vader, Hy smag daarna om al God se kinders na die hemel te bring om dit te aanskou.

Eintlik, het ons Here gebid, “Vader, hulle moet hierdie glorieryke liefde sien wat Ons het. Hulle moet self sien hoe volkome U Uself aan My gee. Ek wil hê hulle moet weet hoe baie Ek liefgehê word – van voor die wêreld geskep is.”

Sal dit nie wonderlik wees nie wanneer ons, die verlostes, ingebring word in God se groot banketsaal, na die hemelse feesmaal en ons word toegelaat om die liefde van die Vader vir Sy geliefde Seun en ons geseënde Saligmaker te sien? Ek sien op daardie glorieryke dag ons Here se gebed verhoor, wanneer Hy na Sy bloedgekoopte kinders kyk en met blydskap verkondig, “Sien, kinders, is dit nie so nie? Het Ek nie vir julle die waarheid vertel nie? Het Hy My nie so lief nie? Het julle al ooit so ‘n groot liefde aanskou? Is dit nie ware volmaakte liefde nie? Julle sien nou My heerlikheid, My Vader se liefde vir My en My liefde vir Hom.”

Sien julle nie, heiliges van God, dat om die heerlikheid van Christus te aanskou op daardie dag, sal vir ons die openbaring wees van God se liefde vir Sy Seun? Wat ‘n blydskap om te weet ons dien ‘n Saligmaker wat geliefd is. En is dit nie skrikwekkend om daaraan te dink dat Lucifer homself van so ‘n heerlikheid afgesny het nie? Hy is sonder liefde. Hy het geen vader nie. Dit was sekerlik sy grootste verlies. Dit is die grootste verlies van al Satan se kinders, om te bestaan sonder ‘n getuienis of gevoel te hê van ‘n hemelse Vader se liefde.

Hy gee ons heerlikheid deur Homself aan ons te gee

Ek kan dit skaars alles inneem wanneer ek hierdie woorde lees – “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is...” (Johannes 17:22). Dink daaraan: Ons het ons Here se woord, wat Hy bely het voor Sy eie Vader, dat Hy Homself vir ons gegee het so ten volle en volkome soos sy Vader Homself vir Hom gegee het. Hy het ons dieselfde intieme liefde gegee wat Sy Vader Hom gegee het, en dit is Sy heerlikheid wat in ons geopenbaar is. Ons is gebring in dieselfde soort spesiale liefdesverhouding wat Hy met die Vader het. Meer as dit, Hy maak die kring van liefde tussen Hom en Sy Vader oop, en bring ons daarin. Ons word deelgenote gemaak van ‘n heerlikheid bokant ons begrip. Dat Christus ons na die Vader sou bring en pleit, “Dat hulle een met ons kan wees!” Hoe ontsaglik! Ons deel volkome in die volheid van God se liefde vir Sy Seun deur in Christus te wees.

In ‘n ware sin, mag dit gesê word dat God Sy Seun so liefgehad het, dat Hy vir Hom die wêreld gegee het. Ons weet Hy het Hom gegee aan diegene wat in die wêreld is, want die Here het gesê, “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee...” (Johannes 17:6).

Het jy nie geweet ons is God se geskenk aan Sy Seun nie – ‘n geskenk van liefde? “Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee” Tog was Christus so in eenheid met die Vader, dat Hy die geskenk terugbring na Hom en sê, “En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne...” (Johannes 17:10). Hierdie soort liefde kan niks vir homself neem nie – maar gee sy alles.

Is dit nie vertroostend om te weet ons is die voorwerp van so ‘n liefde tussen Vader en Seun nie? Wat ‘n eer, dat Christus ons plaas in die palm van Sy groot en liefdevolle hand, en ons aan die Vader te bied en te sê – “Kyk, Vader! Hulle is ons s’n! Hulle almal behoort aan Ons! Hulle is die voorwerp van Ons liefde! Ek sal hulle liefhê, Vader! U sal hulle liefhê! En Ons Sal Ons woning in hulle maak en hulle wys hoe baie hulle liefgehê word.”

Hoe kan ons verstand dit alles begryp? Hier is ons Here wat vir Sy Vader sê, “Ek gaan aan hulle U liefde vir My bekend maak, sodat die liefde wat U vir My het, in hulle kan wees“ (sien Johannes 10:26).

Jesus het met die Vader gepraat en gesê, “...Ek is in hulle verheerlik...” (Johannes 17:10). Hierdie is ‘n groot openbaring en ons moet bid dat die Heilige Gees ons sal lei in die volle waarheid daarvan. Dit verteenwoordig meer as ‘n gebed – dit is ‘n verbintenis wat die Here vir die Vader gesê het Hy maak aan ons. Met ander woorde, “Ek het Myself ten volle vir hulle gegee! Ek het alles wat Ek is aan hulle toegewy. So seker as U volheid in My is, het Ek hulle al die volheid wat in My is, gegee. Hulle het die reg om My toe te eien soos Ek U toegeëien het! Hulle kan so naby aan My wees soos wat Ek aan U is!”

Dit is wat dit beteken om Christus in ons te verheerlik. Hy is soveel vir ons soos die Vader vir Hom is. So seker as wat God verheerlik was in die Seun, is Christus verheerlik in ons. Dit beteken volheid! Dit beteken ons is werklik volmaak in Hom.

Jesus het vir die Vader gesê, “Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur...” (Johannes 17:18). Op hierdie manier, “vertel Hy ons openlik van die Vader.” Die gedagte is glorieryk, dat ons so volkome afhanklik van Christus moet wees soos wat Hy afhanklik van die Vader was. Ons moet niks buite Christus doen nie, net soos Hy niks gedoen het nie, behalwe soos gelei deur die Vader.

Ek vind dit een van die mees vertroostende vreugdes om te weet dat God my so liefgehad het dat Hy Sy eie Seun as mens gestuur het om vir my die heerlikheid daarvan op praktiese maniere te wys. God se liefde vir ons is nie geheimsinnig nie. Al wat jy moet doen, is om jou oë op Christus te hou en te sien hoe daardie groot liefde werk. Jy het voor jou ‘n sigbare, praktiese voorbeeld van waaroor intieme liefde gaan. Vertrou op Christus op dieselfde manier wat Hy op Sy Vader vertrou het, en jy sal dieselfde resultate kry.

Die heerlikheid moet toegeëien word

As Christus verheerlik word in die gelowige, watter effek sou dit hê? Hoe word dit in alledaagse lewe geïllustreer? Sulke heerlikheid in die siel sal sekerlik ‘n impak hê op leefstyl!

Die uitwerkings van sy heerlikheid het te doen met die nakom van wat Christus sê Hy is vir ons. Ons moet lewe volgens die krag wat in ons werk. Min van ons wat bely dat ons Christus liefhet, eien ooit die volheid toe van wie Hy in ons is. Hy sê vir ons Hy is verbind aan ons, met al die volheid van die Godheid van in Hom is, sodat ons alles mag hê wat ons nodig het om met blydskap en oorwinning te lewe – en ons loop ons pad, óf onkundig oor hierdie waarheid, of onwillig om te gebruik wat aan ons gegee is.

Dit is asof ons Here vir ons sê, “Julle het gesien hoe My afhanklikheid van My Vader soveel wonderwerke en bruikbaarheid tot gevolg gehad het – julle weet Hy het My nooit teleurgestel nie – julle het gesien hoe My vertroue in My Vader se getrouheid aan My voortdurende oorwinning gebring het – waarom sal julle nie volkome afhanklik wees van My en op My getrouheid vertrou om al julle behoeftes aan te spreek nie?

Die heerlikheid van God is meer as Sy volheid – dit is Sy volheid aangebied! Dit is Sy volheid tot ons beskikking gestel. Dit is ‘n almagtige God wat Sy volheid aan Sy Seun gee, wat dit na die mens gebring het as ‘n Mens, wat op sy beurt vir ons wys hoe om dit toe te eien.

Dit is ‘n baie heilige ding, om ons Here se private en intieme gebed aan die Vader te betree. Ek sal altyd dankbaar wees vir die Here dat Hy ons toegelaat het om af te luister tydens hierdie mees intieme gesprek met die Vader in Johannes 17. Ons hoor die intense ontboeseming van ‘n liefdevolle Seun se hart voor Sy liefdevolle vader. Ons hoor Hom Sy Vader herinner dat Hy Hom die mag gegee het om die ewige lewe te gee aan “almal wat U My gegee het.” Dan hoor ons hierdie kragtige woorde, “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het...” (Johannes 17:3).

Wat is die ewige lewe? DIT IS OM GOD TE KEN – OM JESUS CHRISTUS DIE HERE TE KEN! Geen wonder nie Hy het so magtig gestreef om “hulle openlik van die Vader te vertel.” Dit was die geheim van die ewige lewe. Hoe eenvoudig verduidelik dit wat die ewige lewe is en hoe ‘n mens dit betree. Wanneer ons die heerlikheid van God se liefdevolle teenwoordigheid deur Jesus Christus ontdek, word ons dieselfde opstandingslewe gegee wat in Hom is. Ons betree die ewige lewe, hier en nou, deur die heerlike waarheid. Begryp hierdie waarheid, en jy is in. Jy is ‘n besitter van opstandingslewe, steeds in die vlees.

En hier word dit verder verduidelik: “Ek het U verheerlik op die aarde.” Dit beteken, Christus het God se groot liefde aan ons getoon en ons uitgenooi om saam met Hom in Sy hemelse plek te sit. Dit neem ons reguit verby die graf, sonder selfs ‘n steek van die dood, en laat ons goddelike, geestelike lug inasem op hierdie oomblik.

As ek gelei word deur die Heilige Gees om die kennis van wie Jesus Christus is na te streef, en my hartsbegeerte aan my gegee is om God te ken in al Sy volheid – word ek ‘n hemelse mens, gesetel in hoë plekke saam met Christus Jesus. Ek is nie meer ‘n mens van hierdie aarde nie. Ek sterf vir die wêreld lank voor ek dit verlaat. Ek lewe deur die heerlikheid van wie my Here is. Ek soek nie Sy weë of Sy wonderwerke nie; ek soek slegs Hom. Hy word in my verheerlik deur Homself vir my te gee. Hy gee Homself vir my, en omdat Hy opstandingslewe is – het ek dit reeds.

My gees is reeds by Hom en hierdie aarde het geen aantrekkingskrag nie. Ek arbei hier om Sy liefde te verkondig aan die hele mensdom, maar my hart is by Hom. Ek kan rondgaan en teenoor ander getuig van Sy ewigdurende liefde, maar terselftertyd, kan ek buite dit alles staan en sê, "EK IS NIE HIER NIE – EK HET OPGESTAAN! Ek is ‘n hemelse mens wat reeds my hemelse plek geniet.” Die oumense noem dit “’n smakie van heerlikheid om in heerlikheid te gaan.”

Prys God vir ewig – as Christus verheerlik word in my, beteken dit Hy het Homself vir my gegee en dit sluit opstandingslewe nou in. Dit kan pynlik word om soveel skat in ‘n erdekruik te hê, maar eendag binnekort, sal ek met blydskap hierdie verderflike een weggooi vir ‘n onverderflike een, gemaak in Sy gelykenis. Dit sal steeds ‘n kruik wees om gevul te word met dit wat ek reeds besit. Dit sal uitgestort word vanuit ‘n menslike kruik in ‘n verheerlikte kruik, sonder om ‘n enkele goddelike asemteug te mis.

Wanneer jy in die volheid en prag van die Here kom, word jy oorweldig deur Sy groot liefde en wanneer jy Sy magtige arm rondom jou voel, verloor die wêreld sy houvas. Jy is weg vir die wêreld van daardie oomblik af. Jy het die ware heerlikheid beleef – EENHEID MET CHRISTUS WAAR HY IS!

Ons heerlikheid is in Sion

Heiliges van God – Hy is nie hier nie. Hy was verwerp hier. Waarom sou ons krampagtig vashou aan ‘n plek wat Hom uitgewerp het? Behoort ons nie daarna te smag om ons erfenis op te eis nie, wat ‘n plek in Sion is, waar Hy is? Dit is nie, “Eendag hoop ek om Hom van aangesig tot aangesig te sien” nie, maar liewer, “Hy het my uitgenooi om nou saam met Hom te wees waar Hy is – ek kan nie afstand tussen ons verduur nie, ek kies om Sy aangesig te sien elke dag nou, en verander te word na Sy beeld, een kykie van heerlikheid na ‘n ander.”

Het ons Here nie gesê, “Hulle [is] nie van hierdie wêreld...nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14)? Wat bedoel Hy? Eenvoudig dit – Net soos Christus op hierdie aarde gewandel het as ‘n hemelse mens, so kan ons. Met Abraham, het ons burgerskap in Sion, die stad wie se bouer en maker God is. Ons eet nie van die vleispotte van Egipte nie, maar is smul reeds aan hemelse brood. Dag vir dag, sterf ons bietjie meer vir alles hier onder, totdat soos Paulus, daar ‘n groter aantrekkingskrag in ons is om te vertrek en te wees waar Hy is, as wat ons het om te bly. Deur aan Hom verbind te word in heerlikheid, word ons losgemaak van die wêreld. Geen wonder nie ons voorvaders se gunsteling lied was, “Neem hierdie wêreld, maar gee my Jesus.”

As Christus vir my ‘n herehuis in die hemel voorberei, lees ek nêrens dat ek dit moet soek eerder as Hom nie. Nee, die heerlikheid is nie ‘n herehuis nie, nie goue strate nie, nie gemeenskap met verloste patriarge nie. Die heerlikheid is dat, of ons op die hemel of op aarde is, Hy gee Homself vir ons so volkome as wat die Vader Homself aan die Seun gee. En die tragedie van alle eeue is, dat niemand in die aarde se geskiedenis, behalwe Christus, het toegeëien wat vrylik gegee is. Ons sal almal sterf in een of ander vorm van geestelike armoede, terwyl die volheid van Sy heerlikheid heeltyd beskikbaar was. Sommige sal ‘n bietjie van daardie heerlikheid toeëien, maar dit is jammer dat die erfenis wat bedoel was vir ons, steeds onopgeëis sal wees. Waar ons veronderstel is om sataniese vestings neer te werp, hanteer ons dit bloot net. Waar ons oorwinning op oorwinning behoort te beleef deur meer as oorwinnaars te wees deur Hom wat ons liefhet – gaan ons voort in ons moegheid en ongelowigheid. Ons is soos die melaatses van Samaría, wat amper gesterf het van honger terwyl daar wavragte voorrade onopgeëis gelê het binne ‘n klipgooi van hulle af.

Ons moet eens en vir altyd die waarheid begryp dat Christus in ons woon en Hy smeek ons om Sy volheid toe te eien. Kon Hy in wese vir ons sê, “Waarom is Ek hier? Waarom is Ek nodig – as jy nie op My volheid sal staatmaak nie? Gebruik My!”

Mag die Heilige Gees ons heeltyd herinner aan “uit sy volheid het ons almal ontvang” (Johannes 1:16).

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!...” (Efésiërs 3:20-21).