Jy Kan Nie op Ander Staatmaak vir Jou Geluk Nie

David Wilkerson

‘n Hartseer jong bedienaar en sy vrou het onlangs na my gekom vir berading. Na vier moeilike jare van hul huwelik en twee kinders, het hulle egskeiding oorweeg. Sy was die hartseerste vrou wat ek in jare gesien het. Haar man, die jong bedienaar, het naby gestaan, sy gewig van een voet na die ander verskuif, terwyl sy tranerige vrou haar belydenis teenoor my uitgesnik het.

“Daar is absoluut geen hoop vir ons huwelik nie,” het sy gehuil. “Ons leef in twee verskillende wêrelde. Hy is so vasgevang in sy werk, hy het geen tyd oor vir my en die kinders nie. My hele wêreld draai om hom, maar ek raak nou moeg om by die huis te sit en vir hom te wag. Ek bereik niks op my eie nie. Ek weet selfs nie of ek hom meer liefhet nie.”

Dit maak my hartseer om so ‘n lieflike paartjie te sien optree soos vreemdelinge vir mekaar. Ek het die oorsaak van hulle probleem dadelik herken. Beide was verveeld, rusteloos en ongelukkig met mekaar. Net soos menige ander paartjies, het hulle eens voor ‘n bedienaar gestaan om te trou, het liefdevol in mekaar se oë gekyk met harte vol hoop en verwagting dat hulle huwelik gelukkig en vervuld sou wees. Nou, net ‘n paar jaar later, lê hulle hoop in skerwe. Hulle is ontnugter en so hard as wat hulle probeer, kan hulle skynbaar nie die vonk van eerste liefde weer aan die brand kry nie. Dit is dan wanneer die nare gedagtes van egskeiding na vore kom.

Ek het daardie jong vrou in die oë gekyk en gesê, “Wat ‘n skande dat al jou geluk net afhang van wat jou man doen. As hy ‘n goeie man is, as hy jou behandel op die manier wat jy dink jy behandel behoort te word, as hy ‘n bietjie tyd met jou spandeer – dan mag jy ‘n bietjie geluk vind. Maar wanneer hy jou teleurstel, het jy niks oor nie. Jou hele wêreld gaan op of af afhangende van die dade van jou man. Dit is waarom jy so leeg is.”

Sy het instemmend geknik, toe haar kop skaapagtig gebuig terwyl ek voortgegaan het. “Jong dame, jy is nie ‘n heel mens nie. Jy is net ‘n halwe mens. Jy kan nie oorleef as jy op iemand anders vertrou vir jou geluk nie. Ware vroue-vryheid beteken om jou eie geluk in jouself te vind met God se krag. Jy moet jou eie mens word en ophou om op jou man of iemand anders te vertrou om jou gelukkig te maak.”

Sy het geweet ek was reg – ek het die spyker op die kop geslaan. Sy het beloof om haar denkwyse te verander en self betrokke te raak by die lewe. Ek het van hulle af weggegaan, oortuig sy was vasbeslote om uit haar rol as ‘n emosionele kreupele te klim en haar eie bron van geluk te kry deur ‘n nuwe verhouding met God.

Die ware oorsaak van egskeiding en gebroke verhoudings

Mans en vroue word emosionele gebreklikes wat op mekaar leun en veroorsaak dat beide val. Ons mors ons verhoudings op omdat ons onder die invloed van ‘n leuen leef. Ons oortuig onsself ons het ‘n reg tot geluk en dat ons huweliksmaat moreel verplig is om dit vir ons te skep. Die gevaar van daardie leuen is dat wanneer ons nie die geluk kan vind wat ons van hulle verwag nie, plaas ons die blaam op hulle mislukking om te doen wat reg is.

Ons egskeidingshowe is vandag oorvol met mans en vroue wat wil skei bloot op grond dat hulle huwelik hulle geen geluk verskaf nie. Een so ‘n geskeide man het vir my vertel, “Mag God my dierbare vrou seën; sy het so hard probeer. Ek het daardie vrou die beste jare van my lewe gegee, met die hoop sy kon leer om my te verstaan en om my soos ‘n man te laat voel. Sy het dit net nie in haar gehad nie. Sy het bloot nie geweet hoe om my gelukkig te maak nie.”

Daardie man sal waarskynlik een of twee keer trou, met die hoop ‘n nuwe vrou sal slaag waar die eerste een misluk het. Sommige hou aan om te trou met een nuwe maat na ‘n ander, desperaat om een sielsmaat wat verstaan te kry wat geluk vir hulle sal skep. Maar hulle vind dit selde. Hulle ellende en ongelukkigheid neem toe met elke nuwe huweliksmaat.

Geen ander mens op aarde kan geluk vir jou skep nie. Jy moet dit vir jouself skep deur die werking van God in jou eie lewe. Die huwelik bestaan nie uit twee halwes wat ‘n hele probeer word nie. Liewer, die huwelik bestaan uit twee heel mense wat verbind is met die Gees van God. Die huwelik werk nooit nie, tensy beide partye hulle eie identiteit handhaaf, hulle eie waardes uitwerk, hulle eie sin van vervulling vind en hulle eie bron van geluk vind. Hulle moet heel wees in hulleself deur die Here.

Waarom toelaat dat dit wat iemand anders doen jou lewe verwoes? Waarom die dade van ‘n ander toelaat om jou te beroof van jou vrede en blydskap? Waarom kan jy nie jou eie mens wees nie? Waarom kan jy nie die lewe reguit in die oë kyk en sê, “Van nou af, sal ek nie toelaat dat iemand anders my neertrek nie. Ek is vasbeslote om ‘n heel mens te wees en ek sal my eie bron van geluk vind. Ek sal nie meer leun op iemand anders om betekenis en doel aan my lewe te gee nie! Ek wil ‘n geluk hê wat nie verlore sal gaan net omdat iemand anders my teleurstel nie.”

Stap weg van jou slawerny aan die dade van ander

Ek sê vir elke huisvrou wat na my sal luister: “Stap weg jou slawerny van jou lewe leef deur ander.” God het nooit bedoel dat jy net geluk sal vind deur jou man of jou kinders nie. Ek stel nie voor dat jy hulle verlaat nie – net dat jy jou afbrekende slawerny aan die idee dat jou geluk slegs van ander mense afhang laat staan. God wil hê jy moet ‘n lewe ontdek van ware geluk en tevredenheid, gebaseer slegs op wat jy is as ‘n mens en nie op die buie en grille van mense rondom jou nie.

Vroue wat klouende wynstokke word, is nie aantreklik vir intelligente mans nie. Mans loop uiteindelik oor vroue wat op hulle leun met ‘n houding wat uitstraal en sê, “Jy is my hele wêreld en as jy my ooit teleurstel, kan ek myself netsowel doodmaak.” Vroue wat onafhanklik gelukkig en tevrede is in en met hulleself, word skielik verstommend aantreklik. Die ware aantreklike vrou is die een wat vir haar man kan sê, “Ek het jou lief en ek sal jou vriend wees, maar ek is ook ‘n persoon. Ek gaan optree soos ‘n heel mens en my geluk sal bestaan uit my eie verhouding met God.”

Dit is ook ‘n boodskap waarna elke jongmens moet luister om die druk te kan hanteer van gebroke verhoudings wat so algemeen is vandag. Hoe kan jongmense geluk vind wanneer hulle ouers skei en hulle huise disintegreer? Hulle moet óók leer om nie op ander te vertrou vir hulle geluk nie.

‘n Negentienjarige meisie het bely, “My pa en ma is nou al verlief op mekaar vir 23 jaar. Ek dink hulle het omtrent ‘n volmaakte huwelik. As ek ooit agterkom dat hulle probleme het en ‘n goeie front voorhou net vir my – dink ek, ek sal sterf. Trouens, as hulle ooit skei, sal ek uitgaan en dwelms, seks en alkohol gebruik net om hulle terug te kry. Ek sou my lewe weggooi.”

“Wat ‘n verskriklik gedagte,” het ek vir haar gesê. “Is dit nie ‘n skande nie dat al jou geluk afhang van dit wat jou ouers doen nie. As hulle misluk, dan sal jou doel in die lewe ook. Jy sal deur die lewe gaan en ander in die plek van jou ouers stel. Jy sal altyd ‘n afgod wil hê – iemand wat jou goeie voorbeeld moet wees. Jy sal nooit jou eie mens wees nie. Jy sal misluk omdat iemand anders jou teleurstel. Wat ‘n jammerte!”

Ons jongmense vandag moet leer om hulle eie bron van geluk te vind; hulle moenie langer vertrou op hulle ouers om dit vir hulle te skep nie. Dank God ek ontmoet nou honderde jongmense wat hulle eie plek van geluk in die Here gevind het. Een jongman het vir my gesê, “Ek het my ouers lief, maar ek gaan nie toelaat dat hulle egskeiding my beïnvloed nie. Ek gaan verder met God. Ek het my eie lewe om te leef en ek gaan nie toelaat dat hulle my neertrek deur hulle optredes nie.”

Ons moet onsself oorgee aan die behoeftes van ander. Ons moet help om die seer van ander wat ons liefhet te genees. Ons moet mekaar se laste dra, maar ons kan dit slegs doen as ons gelukkig is met onsself. Ons kan ander help om hulleself te vind slegs nadat ons onself in die Here gevind het.

Daar is ‘n regte manier om geluk te vind

Ek is nie een wat erg is oor formules of hoe-om instruksies nie. Maar in my eie ervaring, het ek ‘n eenvoudige manier gevind om ware geluk te vind wat nie afhang van wat ander doen nie. Dit is ‘n geluk wat nie kom en gaan nie en dit word nie beïnvloed deur die buie, woorde of dade van die mense in my lewe nie – selfs die wat ek die liefste het.

Wat is daardie geheim? Ek het ontdek dat my behoeftes geestelik is, nie fisies nie! Ons basiese menslike behoeftes sluit in kos, water, skuiling en die lug wat ons inasem. Buiten dit, is ons behoeftes geestelik. En daardie behoeftes kan nie deur ‘n mens bevredig word nie.

Alle ongelukkigheid is ‘n gevolg van ons behoeftes te probeer bevredig met menslike verhoudings. Wanneer ‘n ander mens nie ons behoeftes van bevredig nie, word ons gefrustreerd en ongelukkig. Byvoorbeeld, die man kom van die werk af moeg, kort van draad en ‘n behoefte vir ‘n vriendelike, simpatieke woord van sy vrou. Hy is depressief en hy wil hê sy vrou moet hom laat beter voel. Op haar beurt, het sy vrou haar eie behoeftes. Sy voel terneergedruk, eensaam en wil hê hy moet haar laat beter voel. So hulle leun op mekaar. Die ongesproke boodskap is, “Ek is hartseer, liefling; genees my. Ek is neerslagtig; lig my op. Ek is depressief; maak my gelukkig. Ek is troosteloos; neem dit weg. Ek het ‘n behoefte; kom daardie behoefte tegemoet. Plaas jou arms rondom my en haal al die seer uit my uit met liefde.

Natuurlik, kan nie een van hulle die behoeftes in mekaar aanspreek nie, omdat daardie behoeftes geestelik is en net God dit kan aanspreek. Jy kan in die arms van iemand wees wat jy liefhet die hele nag lank en steeds wakker word en innerlik huil. Die ontdekking word gou gemaak dat daardie behoeftes nie aangespreek kan word met seks of deur ‘n liefdevolle woordjie nie. Dit is waarom so baie mans ‘n prostituut $500 per nag betaal om wakker te bly en met hulle te praat. Hulle hoop hulle neerslagtigheid kan weggeneem word. Dit werk nooit nie, omdat hulle die volgende nag iemand anders soek om hulle probleme mee te deel.

Ons verwag dat ons huweliksmaats Goddelike werk moet doen. Ons verwag wonderwerke van hulle. Ons weet net dat ons oorweldigende behoeftes het en dat dit aangespreek moet word.

Talle eensame mense sê vir my, “As God my tog iemand sou gee om lief te hê, sou ek ‘n soveel beter mens en Christen wees. Ek weet al my ongelukkigheid is ‘n gevolg van so baie alleen wees die heeltyd. Ek het ‘n vriend nodig – net dan sal ek werklik gelukkig wees.”

Ek sê – dit is nie so nie! ‘n Ander mens, manlik of vroulik, sal jou tydelike verligting gee van die pyn van eensaamheid, maar tensy jy ‘n heel mens is met jou eie bron van innerlike krag, sal die ou gevoelens van wanhoop en eensaamheid jou weereens oorweldig.

Twee jaar gelede het my vrou en ek ‘n jong dame wat gedink het sy was die eensaamste meisie in die staat Texas beraad. Sy het gesê, “As ek tog net ‘n man kon vind, trou en tot ruste kon, sou ek nooit weer eensaam wees nie.” Ons het gehelp om haar prins “charming” in te bid. Sy het getrou met ‘n goeie jong Christen heer. Maar drie maande na die troue, was sy in trane terug en het gehuil. “Ek is steeds eensaam. Ek is steeds leeg. Ek weet nou dit was nie net die man wat ek nodig gehad het nie. Ek het nog nie dinge in my eie lewe uitgesorteer nie.” Daardie meisie sal nooit ‘n goeie vrou wees nie totdat sy leer om op te hou om op ander mense te vertrou om haar behoeftes aan te spreek.

‘n Jong geskeide het vir my vrou gevra om te bid dat haar vervreemde man moes terugkeer. Sy was amper histeries en het gehuil, “Ek wil hom baie graag terughê. Ek weet ek het ons huwelik opgemors – ek was so kwaad en onvolwasse. Maar nou dat hy weg is, wil ek hom terughê. Ek dink ek het grootgeword. Ek het volwasse geword. Ek weet ek kan dit hierdie keer reg doen, maar hy neem ‘n ander vrou uit. Ek is so desperaat dat as God hom nie gou vir my terugbring nie, gaan ek uitgaan na die naaste kroeg en met die grootste dronkie flankeer wat jy al ooit gesien het.”

Ek het haar ingelig ons sou bid vir sy terugkeer maar dat sy nog nie reg was vir hom nie. Sy sou dit alles weer opmors. Waarom? Omdat sy steeds nie ‘n heel mens was nie. Sy was reg om haar sedes weg te gooi as hy nie sou huistoe kom om weer te probeer om haar gelukkig te maak nie. Dit is waarom so baie mense nie hulle gebede verhoor kry nie. Hulle is nie gereed om weer te probeer nie. Hulle sou weer dieselfde foute herhaal – selfs as hulle met iemand anders sou trou. Hulle leun steeds op ander – gebruik altyd iemand anders as ‘n kruk om hulle bo te hou. Hulle het nog nie ‘n heel mens geword nie en hulle is nie in hulleself heel nie.

God alleen is die enigste bron van alle geluk en tevredenheid.

Paulus het gesê, “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Nie jou man of jou vrou, herder, sielkundige of jou beste vriend nie – maar God! Gaan voort en deel jou probleme met jou vriend of herder of professionele berader. Maar, in die laaste analise, kan hulle jou help slegs as hulle jou jouself in die oë laat kyk. Jy moet dit op jou eie doen – neem jou behoeftes na die Here en laat Hom toe om jou heel te maak. Uiteindelik sal jy moet ontslae raak van alle krukke en volkome leun op Jesus alleen.

Wanneer daar iets verkeerd is met jou verhouding met die Here, beïnvloed dit alle menslike verhoudings. Die meeste getroue Christen paartjies het nie probleme met hulle huwelik nie – liewer, hulle het probleme met God – met geloof – met gebed en daarom het hulle probleme met mekaar.

Wanneer mense teenoor my bely dat hulle huwelik in die moeilikheid is, hoef ek nie te diep te delf om te ontdek hulle is nie daar waar hulle moet wees met die Here nie. Hulle is verveeld met die dinge van God, so hulle is verveeld met die lewe en die huwelik. Hulle het hulle voeling met God verloor en op hulle beurt, voeling met hulle huweliksmaats verloor. Hulle ly nie aan ‘n gebrek aan kommunikasie met mekaar nie; hulle ly meestal aan ‘n gebrek aan kommunikasie met God. Wanneer mense ophou om met God te praat, hou hulle op om met mekaar te praat. En mense wat ophou om met God te praat, raak baie gou eensaam en depressief. Hulle is eintlik eensaam en verlang na God, smag na kommunikasie met Hom, hunker an Sy innige liefde en nabyheid – maar, in plaas daarvan om hierdie behoeftes te herken as geestelik, blameer hulle gebrek aan vervulling op hulle man of vrou.

As die meeste Christene werklik eerlik was, sou hulle moes erken daar is niks terminaal aan hulle huweliksprobleme nie. Wat verkeerd is, is hulle verhouding met die Here. Hulle geloof is in die moeilikheid en wanneer mense nie reg is met God nie, word hulle gefrustreerd en haal dit uit op die een wat hulle die liefste het. Hulle is eintlik kwaad vir hulleself. Daardie leë, rustelose gevoel is ‘n honger na God. Maar in plaas van terugkeer na die binnekamer om daardie dors te les, dryf die meeste Christene verder weg en verval dieper in wanhoop.

Daar is nie ‘n Christen in hierdie wêreld wat diep in sy hart, nie bewus is dat God hom sal help nie. Ons weet God kan al ons hartseer genees – dat Hy enige huwelik kan genees – dat Hy elke traan kan afvee en blydskap kan bring, maar ons gebruik nie die tyd of wend die poging aan om na Hom te vlug in ons uur van nood nie.

Jy kan gelukkig wees. Jy kan ‘n heel mens wees – en jy hoef nooit weer te leun op ‘n ander mens nie. Dit beteken nie ons het mekaar nie nodig nie. Ons het die gebed, hulp en vertroosting nodig van liefdevolle vriende en familie. Maar daar geen blywende geluk wees as ons van ander verwag om dit vir ons te skep nie.

Waarom nie Hom toelaat om jou hart te vernuwe nie – vernuwe ‘n regte gees in jou – en openbaar aan jou dat in Sy teenwoordigheid daar volheid van blydskap en ewige plesier is? Dit is waarom Jesus gesê, “Hou goeie moed...Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding” (Matthéüs 14:27; 28:20).