Hoe Om Aan God Getrou Te Wees

David Wilkerson

“Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis” (Hebreërs 3:1-2).

Die skrywer van Hebreërs bied ‘n sterk woord aan hulle wat “deelgenote van die hemelse roeping” is. Wat is die hemelse roeping? Dit is dat jy hoor die hemel roep jou.

Selfs nou roep die hemel mense wat vry is van die materialisme van hierdie wêreld. Sommige gelowiges sug daagliks, “Jesus, my hart is nie hier nie. Niks in hierdie wêreld maak my tevrede nie. U alleen is my lewe.” Hulle kan hulle huise verloor, hulle werk en alles behalwe die klere aan hulle lywe, maar hulle sal God steeds met hulle hele hart liefhê.

Maar getrouheid aan God beteken nie net ‘n gewilligheid om ter wille van Hom alles te verloor nie. Die Skrif sê vir ons dat ons ons liggame as ‘n getuienis kan oorgee om verbrand te word, maar sonder liefde in ons harte, sal dit alles verniet wees.

Sommige mense dink dat getrouheid net die oorwinning oor sondige gewoontes is. Ander dink dit is om goeie dade te doen. Verder dink ander dit is om diep geestelik te wees, gedurig te bid of Bybel te lees. Maar nie een van hierdie dinge kan ons ooit getrou aan God maak nie. Jy mag vra, “Wat van al my pogings om rein te bly? My toegewyde diens aan God? My uitroepe na Hom in gebed? Word dit nie as getrouheid geag nie?”

Al hierdie wonderlike dinge is gebooie in God se Woord, en ons sal dit doen as ons getrou is. Maar op hulle eie, vorm dit nie getrouheid nie.

Getrouheid aan God is onmoontlik tensy dit uit ‘n hart kom wat vertrou en glo. Jy mag sê, “Maar ek doen al hierdie dinge met daardie soort hart.”

Wanneer die lewe glad verloop, is dit waar. Maar sodra ons beproewings toeneem en ons stryd meer intens groei, dan kan ons vlees uitgeput raak. Dit is dan wanneer ware getrouheid getoets word. Vrese of twyfel mag begin insluip. Dit is dan wanneer sommige Christene hulle kinderlike oorgawe aan die Here, wat hulle tevore deurgedra het, verloor. Gou word hulle harte vol versigtigheid en vrae.

Ek wil met jou deel hoe jy getrou aan God kan wees en aan jou vertroue kan vashou, veral in hierdie moeilike dae.

Herken Satan se leuens en weier om daarna te luister.

Elke Christen moet homself daagliks herinner, “Ek het ‘n vyand wat daarop uit is om my te vernietig. Satan is ‘n leuenaar, ‘n bedrieër en ‘n verleier.” Jesus het my gewaarsku oor ons vyand, “Die duiwel...was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44).

Christus het vir ons die aanhitser van elke verleidende leuen ontbloot. En Hy waarsku dat die Satan in die laaste dae sy pogings om ons aan te kla, sal verhoog. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei... want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:9-10).

Die duiwel se leuens is bedoel om twyfel in ons gedagtes te saai en so ons vertroue in God se reddende krag omver te werp. Hy spuug leuens uit soos ‘n vloed, “En die slang (Satan) het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou [die kerk] aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15). En hy reserveer hierdie leuens vir hulle wie se harte volkome op Christus gerig is.

In werklikheid kan Satan se belangrikste teikens verder afgebaken word. Die vyand gebruik sy mees oortuigende leuens teen hulle wat vasberade is om in God se rus in te gaan. Hebreërs sê vir ons, “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:9-11).

“Rus in God” dui op ‘n plek van volkome vertroue in God se Woord en beloftes. Dit is ‘n plek waar ons tevrede is, ‘n voortdurende vertroue dat God met ons is, dat Hy nie kan faal nie, dat Hy wat ons geroep het, ons deur elke stryd en beproewing sal dra. Net wanneer jy egter dink dat jy op die punt is om daardie nuwe lewe van rus en vertroue in God te betree, dan kom die ou slang met ‘n nuwe
stel saamgeflanste beskuldigings. Waarom is Satan so vasbeslote om ons met leuens te bestook? Hy wil ons geloof verlam. Hy weet as ons geloof toegelaat word om te groei, sal hy nie langer effektief teen ons kan wees nie.

Daarom, as jy gesê het, “Ek wil niks van hierdie wêreld hê nie, net Jesus,” wees dan gewaarsku: Jy het ‘n teiken geword. Hy sal na jou toe kom in die binnekamer van jou gebed, jou na die kerk toe volg en by die werk oor jou hang. En hy sal sy demoniese magte beveel, “Stuur hierdie leuen na hom toe. Gee hom nou daardie een.” Ek het baie biografië van groot dienaars van God gelees en almal erken dat op een of ander kritiese punt, het Satan teen hulle gekom met verwoestende leuens om hulle geloof te probeer vernietig.

Hier is ‘n paar van die grootste leuens:

Leuen Nommer 1: “Jy maak geen geestelike vordering nie.” Eendag mag ‘n stem vir jou fluister, “Jy het nie gegroei in jou wandel met Jesus nie. Ten spyte van al jou pogings in gebed, diens en bediening, het jy steeds ‘n harde hart en is jy self-gesentreerd en geneig tot sonde. Jy sal nooit geestelik groei nie, selfs al word jy ‘n honderd jaar oud. Iets is verkeerd met jou. Ander groei by jou verby. Jy leef die lewe van ‘n skynheilige.”

Eerstens, ons moet nooit ons eie groei aan ‘n ander persoon s’n meet nie. Tweedens, die duiwel is nie die een wat veronderstel is om ons te vertel of ons geestelik groei of nie. Hy sal jou nie aankla as jy nie groei nie!

Leuen Nommer 2:  “Jy is te swak om teen die duiwel te stry.” Die vyand sê vir jou, “Hierdie geestelike wandel is te veel vir jou. Jy het nie die krag om aan te hou veg nie. Vat dinge rustiger, maak dit vir jouself maklik. Miskien moet jy hierdie geloofswandel heroorweeg. Is dit die moeite werd?”

Die Skrif waarsku ons dat Satan in die laaste dae sommige sal uitput: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste afmat (Daniël 7:25). Miskien het jy onlangs hierdie stem in jou gedagtes gehoor: “Jy is doodmoeg, verstandelik uitgeput. Jy kan onmoontlik aangaan.” Soms is dit waar wanneer ons moeg is van die stryd waarin ons is. Dit is in sulke tye wat die vyand probeer om ons te beroof van ons vreugde in die Heilige Gees.

In der waarheid word baie van ons geestelike moegheid veroorsaak deur een van die vyand se ingeplante leuens. “Jy is te ernstig oor die dinge van God. Jy absorbeer al die pyn van die verlorenes en hulle wat ly, die armes en die behoeftiges. Jy gaan jouself uitbrand as jy so aangaan.”

As jy daardie leuen weerstaan, sal die Satan met nog een kom: “As jy uitgeput is, is iets verkeerd. Jy is veronderstel om rustig te wees. Jy het onopgeloste sonde in jou lewe. Wat is daar diep in jou hart gebêre waarmee jy nie gedeel het nie?”

Die Satan het al hierdie leuens oor die jare teen my gebruik. Hy het my aangekla, “Jy het nie rus in jou siel nie. Hoe kan jy ooit vir ander preek om in God se rus in te gaan? Jy is ‘n skynheilige.” Dit kom alles reguit uit die put van die hel en is deur die vader van die leuens uitgedink.

Leuen Nommer 3. “God is nie langer met jou nie. Jy het Hom bedroef.” Die vyand sal fluister, “God het jou steeds lief, maar Hy is nie nou met jou nie. Jy mishaag Hom op een of ander manier. Dit is duidelik dat sy seën en guns nie met jou is nie.” Dan sal hy God se Woord buite konteks teen jou gebruik: “God het Israel verlaat toe hulle aangehou het om dieselfde sondes oor en oor te doen. Dit is wat nou met jou gebeur het. Waarom anders hierdie lang, droë tyd? Waarom hou die daaglikse stryd aan?”

Die Here het nooit sy geliefde Israel verlaat nie. Elke beproewing wat Hy toegelaat het, was bedoel om hulle te tugtig, nie om hulle te vernietig nie. God het nooit te enige tyd alle hoop verloor met sy geliefde volk nie. Hy het toegelaat dat hulle deur die vyand getugtig word, maar toe daardie werk klaar was, het Hy gesê, “Haal jou hande van hulle af, duiwel. Hierdie is my volk.”

Ek glo Satan het Moses probeer oortuig dat die Here Israel verlaat het. Moses was in elk geval so gewalg met die Israeliete se sonde dat hy die tafels wat die Tien Gebooie bevat het, verpletter het — tafels wat God met sy eie hand gemaak het!

Maar Moses was in staat om die duiwel se leuens te weerlê. In plaas daarvan om Israel te veroordeel, het hy die volk gewaarsku dat hulle sou terugval en in die laaste dae na afgode sal draai en God se woede uitlok. Sonde sou hulle bestaan bedreig en hulle oor die wêreld verstrooi word, maar die Here sou hulle nooit verlaat nie:

“Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. (Want die Here jou God is ‘n barmhartige God;) Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronómium 4:29-31).

Vandag het ons ‘n selfs sekerder woord van God: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5-6). “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:20).

Dit maak nie saak waardeur jy op hierdie oomblik gaan nie, Jesus het verklaar, “Ek sal jou nooit verlaat nie.” God is altyd met jou. As jy Hom aanhou soek, is sy teenwoordigheid met jou, maak nie saak watter leuens jy hoor of wat jou omstandighede is nie. Hy stel jou in staat om staande te bly teen die helse magte en te verklaar, “Ek gee nie om wat jy sê of hoe jy my probeer laat voel nie. Die Here is met my!” “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

Wees ten volle oortuig dat jou Hoëpriester aangeraak word deur al jou lyding —  en dat jy te alle tye volle toegang tot sy troon het.

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:14-16).

Ons is genooi na die troonkamer van die Heerser van die heelal: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13). Hy weet van alles waardeur jy gegaan het, alles waardeur jy nou gaan, en alles waadeur jy nog sal gaan. En Hy wag vir jou om met vrymoedigheid na Hom te kom.

Jy sien, ons Here het alles ervaar waardeur ons gaan. En Hy het empatie, is liefdevol, barmhartig, en begeer om ons te help in ons uur van nood. Jy hoef nie enigiets aan Hom te verduidelik nie. Jy kan eenvoudig sê, “Here, U was hier waar ek is. U weet presies waardeur ek gaan. Ek kan dit nie in woorde omskryf nie. Help my asseblief.”

Is dit jou oomblik van nood? As dit so is, weet jy dat Hy te alle tye vir jou beskikbaar is? Jy hoef nie na jou binnekamer te gaan om in sy troonkamer in te gaan nie. Nee, God nooi jou uit om te enige tyd, enige plek, met vrymoedigheid en sonder afspraak na Hom te kom. En jy kan met vertroue gaan met die wete dat Hy jou sal antwoord — en dat Hy altyd sy Woord sal hou.

Maar ons mag nie met ongeloof in sy teenwoordigheid ingaan  nie. Terwyl ons na die Here kom, moet ons “onsself oortuig” en ten “volle oortuig” wees. “Maar julle geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid” (Judas 20).

Ons lewe deur beloftes — God se beloofde Woord aan ons — en nie deur dit wat ons sien nie. As ons aan Hom getrou wil wees, kan ons nie ons tyd spandeer om te twyfel óf na Satan se misleiding te luister nie. Ons moet ons vyand duidelik herken. En ons moet onsself daagliks in die Here bemoedig, veral tydens ons moeilike tye. Ons moet ons ongeloof aflê, veral wanneer ons swak is en ly. Selfs in ons donkerste oomblikke, kan ons fluister, “Duiwel, ek sal nie hiermee opgesaal word nie. God se Woord is waar. En Hy het my lief. Hy sal my nooit verlaat nie, maak nie saak wat jy vir my sê nie.”

Dan kan ons te midde van elke beproewing sê, “Ek sal my verheug, want ek het ‘n plek om na te gaan in my tyd van nood. Ek het ‘n Bron. En Hy is alles vir my.” Amen!