VERTROU JOU VERSOEK AAN DIE HERE TOE

David Wilkerson (1931-2011)

Een van die redes waarom ons gebede dalk nie verhoor word nie, is omdat ons probeer om vir God voor te skryf hoe om dit te verhoor. En dit alles kom neer op gebrek aan vertroue. Die siel wat glo, nadat hy die laste in sy hart afgelaai het met gebed voor die Here, gee homself oor aan die getrouheid, goedheid en wysheid van God. Die ware gelowige sal die ontwikkeling van die antwoord oorlaat aan God se genade en hy sal verwelkom hoe God ook al kies om te verhoor.

Diegene wat aan God voorskryf hoe en waar om hulle gebed te verhoor, beperk eintlik die Heilige van Israel. Aangesien God die antwoord miskien nie na die voordeur bring nie, is hulle nie bewus dat Hy by die agterdeur inkom nie. Hulle vertrou slegs hulle gevolgtrekkings en nie belotes nie. Maar God laat Hom nie bind met tyd, wyse, of middele van verhoring nie. Hy sal altyd buitengewoon, oorvloedig  meer doen as wat ons kan bid of dink of vra. Hy sal verhoor met gesondheid, of genade wat beter is as gesondheid. Hy sal liefde, of iets meer as dit stuur. Hy sal verlos, of iets groter doen.

God begeer dat ons bloot ons versoeke in sy kragtige arms laat, al ons bekommernisse op Hom werp en verder met vrede en kalmte op verligting van Hom wag. Hoe tragies is dit om so ‘n groot God te hê en so min geloof in Hom. So, nie meer, “Is Hy in staat? Kan Hy vergewe? Kan Hy genees? Kan Hy iets doen vir my?” nie. Hoe skor moet dit klink in die ore van ons almagtige God. Weg met sulke ongeloof! Kom liewer na Hom toe soos na ‘n getroue Skepper.

‘n Paar woorde van bemoediging aangaande gebed. Wanneer jy terneergedruk is en Satan in jou oor fluister dat God jou vergeet het, stop sy woorde met die volgende: “Duiwel, dit is nie God wat vergeet het nie, maar dit is ek. Ek het al sy vorige seëninge vergeet of anders sou ek nie nou sy getrouheid bevraagteken het nie.” En bid dan soos Dawid, “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade” (Psalm 77:12-13).