GOD-GESTUURDE ONTWRIGTINGS

Gary Wilkerson

Het jy al ooit ‘n tyd in jou lewe beleef waartydens jy nie langer ‘n honger na die dinge van God ervaar het nie? Daardie passie, daardie beroering, daardie ywer om Hom te ken het afgestomp geraak omdat alles in jou lewe so gemaklik was; jou gedagtes besig met aardse dinge. As dit op jou van toepassing is, is dit tyd om deur God se lens van die ewigheid te kyk en iets te begryp van ‘n prentjie wat groter is as jouself. 

‘n Ou spreekwoord sê, “God vertroos die verdruktes en verdruk die gemaklikes.” Soms kyk God in die hart in en besef dit is tyd om dinge ‘n bietjie te skud – nie dat Hy jou met opset sal seermaak nie, maar Hy sal dinge bring om jou te laat ontwaak uit jou lusteloosheid. Waarom? Omdat Hy meer van jou wil hê as jou vergenoegdheid en geluk. Die Heilige Gees mag dalk sê dit is tyd om ‘n bietjie ontwrigting in jou lewe te bring omdat Hy wil hê jou hart moet ewig op Hom gefokus wees, Hom liefhê, Hom ken – en, bo alles, volkome syne wees.

In Hebreërs lees ons van aardse vaders wat hulle seuns getugtig het “vir ‘n kort tydjie na hulle beste wete” (Hebreërs 12:10). “Maar Hy tot ons eie beswil, sodat ons sy heiligmaking deelagtig kan word” (dieselfde vers).

Hierdie dissipline was nie vreemd vir Dawid nie: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67). “Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer ... Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het” (119:71 en 75).

Niemand geniet die gevoel van bestraffing nie, maar as jy jou nie onderwerp aan die sagte dissipline van ‘n liefdevolle Vader nie, sal jou geloof afneem en jy sal meer gefokus op self word.

Bid hierdie gebed saam met my: “Hemelse Vader, gee my ‘n hart om U meer lief te hê terwyl U my heeltyd nader aan U trek. Breek my hart met wat u hart breek en help my om uit te reik na diegene rondom my met u kosbare liefde.”