Verlossing Deur Sy Bloed

David Wilkerson (1931-2011)

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efésiërs 1:7) Jesus se bloed verlos ons van sonde en die mag van die duisternis. Baie mense is verlos en vrygespreek deur die bloed van Jesus, maar hulle lewe nodeloos steeds in vrees en veroordeling.

“Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God” (1 Johannes 3:21). Die gestorte bloed van Jesus reinig ons van boosheid sodat ons gewetens on nie langer veroordeel nie. Jou gewete doen ‘n bose werk wanneer dit jou nie dring tot gehoorsaamheid aan die evangelie nie. Dit doen ook kwaad as dit jou onnodig veroordeel, jou aankla en jou heeltyd herinner hoe jy God gefaal het en depressie en vrees veroorsaak.

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37). Gelowiges in Christus moet krygers wees wat hulle moet beroep op die krag en gesag van Christus se bloed wanneer hulle deur die vyand aangeval word. Sommige mag dalk hulle beste vriend of berader inroep, of sidder van vrees en veroordeling, maar die Here wil hê ons moet onmiddellik op die Woord van God staan en die bloed van Jesus pleit. Ons kan inderdaad meer as oorwinnaars deur Hom wees.

Gelowiges in Christus is gewillig om in die lig te wandel en laat die Heilige Gees toe om alle duisternis in hulle te openbaar (sien 1 Johannes 1:7). Johannes praat duidelik van iemand wat verlief is op die Woord van God en nie bang is vir vermaning nie. Iemand wat sê, “Here, skyn u Heilige Gees lig in elke hoekie van my hart. Ek wil in die lig wandel.”

Jou hemelse Vader wil hê jy moet die oorwinning van Jesus se bloed in jou lewe verkondig en Hom nou begin prys vir die belofte van daardie groot dag van verlossing wat kom. “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel” (Jesaja 61:10).