Leer om die Tong te Tem

David Wilkerson (1931-2011)

Die woorde wat ons spreek, weerspieël wat in ons harte is. “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matthéüs 12:34). Jou tong spreek slegs wat in jou hart is.

Onthou jy toe jy as kind iets stout gesê het? Jou moeder was gou om jou reg te help en jou miskien op een of ander manier te tugtig, reg? Maar noudat jy ‘n volwassene is, moet jy die vermaning van die Skrif dat ons ons tonge moet tem ernstig opneem. “Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif” (Jakobus 3:8).

As Christene, moet ons die onbetwisbare feit in die oë kyk dat die hart onrein en besoedel is en dikwels praat ons goddelose dinge. “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mense bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word” (Mattéüs 12:35-37).

Dit is die woorde van Jesus en ons moet dit ter harte neem. Enigeen wat wil leef om die Here te behaag, moet voortdurend in sy teenwoordigheid ingaan totdat Hy ‘n visie van God se heiligheid verkry. Alle genesing, alle ware seëninge, alle oorwinnings begin by sy troon waar ons God in sy heiligheid sien.

Die geheim vir oorwinning oor enigiets in jou lewe is nabyheid aan Jesus – intimiteit met Hom – om Hom te ken! Om sy teenwoordigheid te nader sal openbaar wat in jou hart is. As jy skinder of toelaat dat onvriendelike dinge uit jou mond kom, gaan na die Here en vra Hom om jou te help. En vra die Heilige Gees om jou onder veroordeling te bring elke keer wanneer jy iets roekeloos of onnadenkend of onvriendelik sê.

Mag die gebed van jou hart wees, “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my Verlosser” (Psalm 19:14).