Leer Om Goed van Ander te Praat

David Wilkerson (1931-2011)

“Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord” (Jesaja 58:9).

Die rede waarom ons bid, vas en God se Woord bestudeer, is om in die hemel gehoor te word. Maar die Here heg ‘n groot “as” hieraan. Hy sê, “As jy wil hê Ek moet jou uit die hoogte hoor, dan moet jy na die sake van jou hart kyk. Ja, Ek sal jou verhoor – as jy ophou om ‘n vinger na ander te wys, as jy ophou om oneerbiedig van hulle te praat.”

Dit is ‘n groot sonde in God se oë om te praat op maniere wat iemand anders se reputasie beswadder. Spreuke sê vir ons, “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud” (22:1). ‘n Goeie reputasie is ‘n skat wat versigtig met verloop van tyd opgebou word. Ons kan dit egter gou vernietig met een lasterlike woord uit ons mond.

Dawid het ‘n doelbewuste besluit geneem om te let op sy woorde, “Wat ek ook dink, my mond oortree nie” (Psalm 17:3). “Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3).

Weer vermaan Dawid, “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser” (Psalm 19:15).

Jy wonder dalk, “Is dit werklik moontlik om die tong te beheer en om doelbewus nie met die mond te sondig nie?” Weer antwoord Dawid met die volgende getuienis: “Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose voor my is” (Psalm 39:1). Hy sê in wese, “Elke keer wat ek op ‘n perd klim, moet ek ‘n toom in sy mond sit. En so seker as wat ek dit met my perd doen, so moet ek met my tong doen.”

Geliefde, niemand wat hierdie boodskap lees, is te heilig is om daarna te luister en ‘n verandering te maak nie. Ons het almal mense verkeerd beoordeel, of dit nou wetend of onwetend is, en op maniere gepraat waarop ons nie moes nie. Maar daar is goeie nuus! As jy dit voor die Here bely, sal Hy in sy liefde en genade vir jou ‘n nuwe hart en die krag gee om met alle kwaadpraat op te hou.