God Hoor Ons Stille Roepstem

David Wilkerson (1931-2011)

Van al 150 Psalms, is Psalm 34 my absolute gunsteling. Dit gaan alles oor ons Here se getrouheid om sy kinders uit groot beproewinge en krisisse te verlos. Dawid het gesê, “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrese gered ... Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit ... Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede ... Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:5,8,18,20).

Let op Dawid se aanspraak in hierdie Psalm: “Ek het die HERE gesoek ... Hierdie ellendige het geroep” (34: 4,6). Wanneer het Dawid hierdie uitgeroep? Dit moes gebeur het in Gat toe hy gemaak het of hy waansinnig was, maar hy kon tog nie hoorbaar in die teenwoordigheid van die Filistyne gebid het nie. Dit bring ons by ‘n groot waarheid rakende God se verlossing. Soms word die hardste uitroep sonder ‘n hoorbare stem uitgespreek.

Ek ken hierdie soort “innerlike roepstem.” Baie van die hardste gebede van my lewe – my belangrikste, hartseerste, diepste uitroepe – is in algehele stilte gedoen.

Soms was ek so benoud oor omstandighede dat ek nie kon praat nie, oorweldig deur situasies wat vir my te veel was, sodat ek nie helder genoeg kon dink om te bid nie. By geleentheid het ek alleen in my studeerkamer gesit, so verbouereerd dat ek niks vir die Here kon sê nie, maar die hele tyd het my hart uitgeroep: “God, help my! Ek weet nie nou hoe om te bid nie, so hoor die geroep van my hart. Verlos my uit hierdie situasie.”

Was jy al ooit daar? Het jy al ooit gedink: “Ek weet nie waaroor dit alles gaan nie. Ek is so oorweldig deur my omstandighede, so vol innige pyn, dat ek dit nie kan verklaar nie. Here, ek weet nie eers wat om vir U te sê nie. Wat gaan aan?"

Ek glo dit is presies wat Dawid deurgemaak het toe hy deur die Filistyne gevange geneem is. Toe hy Psalm 34 geskryf het, het hy erken: “Ek was in ‘n situasie wat so oorweldigend was dat ek die rol van ‘n dwaas gespeel het. Tog het ek innerlik gewonder: “Wat gaan met my aan? Hoe het dit gebeur? Here, help!”

En dit lyk dus asof Dawid gesê het: “Hierdie arme man het van binne geroep sonder om te weet wat of hoe om te bid. En die Here het na my geluister en my verlos.” Dit was ‘n diep uitroep van die hart, en die Here is getrou om elke snik te hoor, al is dit ook al hoe flou.

Tags