Guns vir ‘n Leeftyd

Hoe anders sou jou lewe wees as jy in goddelike guns gewandel het? Die vraag is, skenk God guns, seën Hy oorvloedig en stort Hy sy genade uit op honger, wagtende harte? Die antwoord is ja — en ons vind dit geïllustreer in Lukas 1, die storie van Christus se geboorte.

‘n Engel het aan Maria verskyn om die verstommende gebeurtenis wat op die punt was om in haar lewe te gebeur, aan te kondig: “En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken” (Lukas 1:26-29, kursief myne).

Bybelkenners sê Maria was op daardie stadium baie jonk en waarskynlik ‘n tiener. Verbeel jou hoe vreemd hierdie ontmoeting vir haar moes gewees het. Hier was ‘n eenvoudige meisie van ‘n klein dorpie en familie en ‘n groot, vreesaanjaende engel wat voor haar staan en roep, “Wees gegroet, begenadigde!”

Toe het hy ‘n ongelooflike aankondiging gemaak: “En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gegee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:30-33, kursief myne).

Wat my van hierdie ontmoeting verstom, is dat Maria nie bang was nie. Gewoonlik as ‘n engel in die Bybel verskyn het, was die mense bang en het op die grond geval en geroep, “Dit is klaar met my!” Maar nie Maria nie. In plaas daarvan, was sy “baie ontsteld” — en wat haar ontstel het, was die engel se groet: “Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou! ... sy [was] baie ontsteld oor die woord en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken” (Lukas 1:28-30).

Dit het gelyk asof Maria onseker was oor wat sy gehoor het. Dit is maklik om te verstaan hoekom. Sy het in ‘n manlik-gedomineerde kultuur gelewe met min invloed en het waarskynlik min verwagtinge vir haar lewe gehad. Sy sou al die voorregte hê om ‘n goeie vrou en moeder te wees, maar niks meer nie.

Maria was egter ook ‘n Israeliet wat haar volk se geskiedenis geken het en sy moes geglo het in God se vermoë om enige omstandigheid te verander. Verseker het Maria daarna verlang om ‘n ander werklikheid in die wrede wêreld rondom haar te sien. Oral waar sy egter gekyk het, het sy verpletterende onderdrukking onder die Romeinse besetters gesien.

Maria moes steeds verward gewees het oor die boodskap wat uit die hemel aan haar gespreek was: “Jy het genade by God gevind.” Niks in haar lewe het enige genade of guns van enige soort weerspieël nie. In werklikheid was daar egter ‘n transformasie gereed om plaas te vind — in haar eie lewe en regdeur die wêreld. Maar dit was vir Maria moeilik om dit te probeer begryp.

Baie van ons is soos Maria. Ons wil graag sien dat ons omstandighede verander. Ons wil sien dat ons siek familielid van sy siekte genees word. Ons wil hê ons moeilike kind moet sy doel in Christus vind. Ons wil hê ons spanningsvolle huwelik moet herstel word tot sy vorige vreugde.

Ons wil graag ook ‘n ander geestelike werklikheid in die wêreld rondom ons sien. In stede dwarsdeur ons land is daar meer stukkende mense as wat jy ooit sal verwag om te vind: dwelmverslaafdes, alkoholiste, prostitute, hawelose mense, straatkinders, pornografiese verslawing, stukkende huise. Die probleme is oorweldigend, en die uitreike wat ons hieraan wy, raak skaars die punt van die ysberg.

Soos Maria, dink ons, “Here, my lewe weerspieël glad nie U guns nie. My invloed lyk totaal nikseggend. Ek het nodig om U lig daarin te bring.” Hoe sal ons egter voel as ons ‘n stem uit die hemel hoor sê, “Jy het genade by God gevind!”

Persoonlik sou ek baie gemengde gevoelens hê. Ek dink dit is vir die meeste Christene moeilik om God se guns te begryp. Ons is gemakliker met ons verpligtinge aan Hom. Maar as ons hierdie woorde uit die hemel hoor — “Jy is my begunstigde” — dan sal die meeste van ons nie weet hoe om dit te hanteer nie. Al wat ons sien, is ons swakhede, ons spanningsvolle omstandighede en ons moeilike situasie. Ons is gewoond daaraan on nie te hê nie; ons dink nie daaraan hoe dit in ons lewens sal wees om begunstig te wees nie.

Die Bybel het belangrike dinge om ons oor God se guns te vertel. Ek wil op drie dinge fokus.

1. Guns kom na diegene wat dit nie verwag nie.

As jy voel dat jou lewe nie God se guns weerspieël nie – dat jy dit eenvoudig nie verdien nie – dan is jy op presies die regte plek. God is eintlik op soek daarna om jou te begunstig — veral as jy soos Maria uitroep: “Here, dinge is nie reg nie. Ek wil sien dat U in my lewe en in die wêreld verheerlik word.”

Wanneer ek sê dat God se guns na diegene kom wat dit nie verwag nie, dan praat ek van mense wat dit nooit verwag het op grond van die bewyse in hulle lewens nie. Hierdie is die mense waarna Jesus verwys het in die Saligsprekinge as die “armes van gees.” God sê, “As die wêreld dink dat hy jou nie nodig het nie, dan is jy die soort mens waarna ek soek.” Hy word deur ons nederigheid, ons bewustheid dat ons te kort skiet, aangetrek. Hy geniet dit om deur sulke mense te werk.

Om nederig en arm van gees te wees is nie iets waarna ons kan strewe nie. Jesus maak dit duidelik in die Saligsprekinge. Hy het nie sy mense vertel om arm te wees sodat hulle ‘n ekstra seëning kan verkry, of om hulleself so uit te honger sodat hulle gevoer kan word nie. Hy het bedoel, “Jy is alreeds arm — daarom gaan Ek jou seën. Jy is alreeds honger — daarom gaan Ek jou voedsel wees.”

Maria het nooit enige idee of verwagting in haar lewe gehad dat ‘n engel haar spesiaal sou kom ontmoet nie. Maar haar nederigheid is presies dít wat God na haar toe aangetrek het. Hy is lief daarvoor om klein dingetjies te gebruik om sy groot doelwitte te bereik.

2. Guns maak die lewe gevaarlik.

Daar is nog ‘n rede waarom ek glo Maria was ontsteld toe die engel met haar gepraat het. Soos ek genoem het, Maria het haar volk se geskiedenis geken. Sy sou geweet het wat met die Israeliete wat guns by God gevind het, gebeur het. Die resultaat was geseënd, maar dit was nie altyd aangenaam nie.  Dink hieraan:

Abel het God se guns deur sy aanvaarbare offer aan die Here, gevind. Maar Abel se broer, Kaïn, was jaloers omdat hy nie dieselfde guns by God gevind het nie — en Abel het met sy lewe betaal.

Noag het guns by God gevind. Hy het regverdig in ‘n bose geslag geleef en was van die vernietiging van die Vloed gespaar. Elke gemak wat Noag egter in die wêreld geken het, was uitgewis. Sy storie van die verstommende ark wat hy gebou het, was nie een of ander kinderstorie nie; dit was ‘n hartseer storie van oordeel op ‘n globale skaal. Hoewel Noag en sy familie oorleef het, het hulle alles verloor wat hulle kosbaar geag het.

Soos Noag, het Lot guns by God gekry en daarom was hy in staat om oordeel te ontvlug. God het hom verlos van Sodom, ‘n stad wat gereed was om met vuur vernietig te word. Maar deur te ontsnap, het Lot die meeste dinge wat hy kosbaar geag het,  insluitende sy vrou, verloor.

Josef het guns by God gevind en was geseën met profetiese drome. Maar die einste gawe wat op Josef se guns gedui het, het die mense rondom hom kwaad gemaak. Sy drome het sy jaloerse broers so kwaad gemaak dat hulle hom in ‘n put gegooi het om te sterf.

Die punt wat ek wil maak, is dat guns gevaarlik is — en dat Maria dit geweet het. Die Hebreeuse Skrifte het dit in storie na storie duidelik gemaak: Guns kan met gevaar, moeilikheid, swaarkry, druk, vervolging, pyn, beproewing en verdrukking saamgaan. Ongelukkig sal die grootste deel van die Amerikaanse kerk dit nie oor God se guns erken nie. Baie pastore leer dat guns voorspoed beteken: ‘n gebrek aan moeilikhede, ‘n mooi huis of kar, die afwesigheid van vervolging en dat jy altyd in beheer is.

Maria het van beter geweet. Dit is duidelik in haar reaksie op die engel: “En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord” (Lukas 1:38). Dit is die reaksie wat ek wil hê. Dit maak nie saak hoe gevaarlik God se guns is nie, ek sal dit nie wil inruil vir ‘n gemaklike lewe nie. Ek wil nie moeilikheid ontwyk as dit beteken dat ek Sy guns mis nie.

My gebed is, “Here, ek wil hê dat my lewe betekenisvol ter wille van U koninkryk sal wees. Ek weet dit kan nooit sonder U guns gebeur nie. Here, ek is gereed daarvoor. Gee my alles wat U het — beproewing of seën.” Ons bid dit nie ligtelik nie, net soos Maria dit nie ligtelik opgeneem het nie. Terwyl ons alle vrees eenkant sit, is ons staat om te sê, “Here, ons geslag het U guns nodig. Mag U dit aan ons wys ter wille van U koninkryk.”

3. Guns is ‘n keerpunt, ‘n “van nou af” oomblik.

Vir Maria was die besoek van die engel nie een of ander emosionele, eenmalige gebeurtenis nie. Gabriël het nie net aan haar vertel, “Hier is ‘n klop op die rug van God. Hy begunstig jou. Hy is vír jou” nie. Nee, hierdie besoek was oor ‘n bindende werklikheid. Dit het ‘n verandering in Maria se lewe veroorsaak wat beteken het dat dinge nooit weer dieselfde sou wees nie. Alles wat sy in haar hart begeer het, sou nou tot vervulling kom — maar haar lewe sou ‘n ondenkbare verandering ondergaan.

Dieselfde is waar vir ons. Wanneer ons God se guns vind, dan beteken dit nie dat ons ‘n skielike emosionele ommekeer sal hê nie. Die Here vertel nie vir ons, “Dinge gaan vir jou uitwerk, so jy kan nou gelukkig wees” nie. Dit sluit gewoonlik die teenoorgestelde in: God skud ons wêreld, dinge word omgekeer en Hy verander die hele rigting waarin ons lewe op pad was — alles om eer aan Homself te bring.

Na die engel se aankondiging, sê die Bybel van Maria dat “sy swanger bevind is.” Dit is ook wat met ons gebeur wanneer ons God se guns vind. As jy kinders het, weet jy dat wanneer hulle opdaag, jou lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Jy en jou gade se wêreld word onderstebo gekeer. So is dit wanneer God se guns op ons lewens neerdaal.

Maria het dit verstaan. Sy het gesien dat dinge anders sou wees, maak nie saak watter moeilikheid daarmee sou saamgaan nie. Die engel het vir haar alles vertel wat deur haar Kind sou plaasvind — dat Hy die gevangenes sou vrylaat — en dit het Maria se siel aangeraak. Sy het ‘n lofsang uitgejubel:

“My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees” (Lukas 1:46-50, klem myne).

Ek wil fokus op twee uitgeligte frases van Maria se loflied. Eerstens: “Omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het.” Maria het besef dat God haar toestand, haar hart, haar vrese, hoop en drome raakgesien het. God “sien” ons op dieselfde manier raak. Hy sien regdeur ons behoeftes, begeertes en vrese, insluitende die gedagte van “My lewe is te onmoontlik selfs vir God om uit te stryk. Dinge sal nooit vir my verander nie.”

Met God se guns, kan ons soos Maria getuig: “Ek is deur die Here geseën, omdat Hy my te alle tye, in al my omstandighede raaksien. Hy kan te enige tyd, net wanneer Hy wil ‘n verandering in my lewe teweeg bring. Hy kan dinge verwek wat ek nooit eers aan kon dink nie.”

Let op die tweede frase in Maria se loflied: “Want kyk, van nou af…” Maria het besef dat God ‘n verandering in haar lewe gemaak het en sy het verklaar, “Van nou af, sal ek in God se guns wandel. Ek sal al my eie strewes na sekuriteit en veiligheid eenkant sit. Ek sal al my begeertes aan Hom oorgee.”

Dit is die keerpunt wat God se guns na ons lewens toe bring. Die verklaring “Van nou af” dui op ‘n 180-grade verandering in die rigting waarin ons gaan. Enigiemand wat in God se guns wandel, kan sê, “Van nou af, het my verslawings geen houvas op my nie. My moeilike huwelik sal bedaar as gevolg van God se liefde. My kind wat van God af weghardloop, sal voel hoe hy na Hom getrek word.”

Wanneer God aankondig dat dit die jaar van ons guns is, bedoel Hy hierdie jaar.

God praat met jou daaroor om sy guns nou te vind— in 2012, hierdie maand, hierdie week, vandag te vind. By hierdie bediening word ons bemoedig deur wonderlike stories van God se guns wat lewens verander.

‘n Vrou in ons kerk het my gevra om te bid dat haar man gered word. Hy het haar dikwels in die aande alleen gelaat om uit te gaan en in die kroeë te gaan drink. Sy het vir jare vir hom gebid en alles gedoen wat sy kon om God se liefde aan haar man te wys, maar hy het dit die heeltyd verwerp. Die huwelik het haar uiteindelik uitgeput.

Ek kon agterkom dat sy elke laaste bietjie krag gegee het om te probeer om haar man te laat verander. Daarom het ek aan haar gesê, “Gaan nou huistoe. Laat die Heilige Gees die werk doen. Begin bid dat God die sluier van jou man se oë sal afhaal sodat hy sy groot behoefte kan sien.”

Die vrou het met haar las wat effens gelig het huistoe gegaan. Die volgende dag het sy weer in my kantoor opgedaag met ‘n heeltemal ander houding. Sy het gesê, “Pastoor Gary, toe ek verlede nag tuiskom, was hy weer by die kroeë. Ek het probeer slaap, maar kon nie. Ek het die vers onthou waaroor ons gepraat het — 2 Korinthiërs 4:3, omtrent die gees van die wêreld wat die gedagtes van die ongelowiges versluier. Ek het begin bid dat die Here daardie sluier van my man sal afruk.

“Ek was besig om op my knieë te bid toe hy in die huis ingeloop het. Hy het trane in sy oë gehad. Ek het hom gevra wat gebeur het en hy het my vertel dat hy besig was om soos gewoonlik te drink toe hy skielik agterkom hoe ongelukkig sy lewe is. Hy het geweet dat hy Christus nodig het. Hy het gesê dat dinge vir hom duideliker en duideliker geword het, asof die heerlikheid van die Here hom oë gegee het om te sien.”

Daardie nag het die man saam met sy vrou langs hulle bed gekniel en hy het Jesus ontvang. Hierdie vrou het haarself voorberei om God in haar man te sien werk om sy hart sag te maak oor ‘n lang tyd, miskien jare. Maar God het hom aangeraak dieselfde nag wat sy gebid en vertrou het.

Toe ek hierdie boodskap van God se guns by The Springs Church in Colorado Springs gepreek het, het ‘n vrou wat vir dertig jaar ‘n alkoholis was, in die diens gesit. Die Heilige Gees het met haar hart gepraat, “Hoewel jy in wanhoop is, is my guns op jou. Jy sal ‘n 180 grade draai sien.” Die vrou het haar alles aan die Here in daardie diens gegee — en sy was tot dusver nugter vir oor die 100 dae. God het haar in ‘n oomblik aangeraak nadat sy vir dertig jaar in ‘n alkoholiese beswyming was.

In New York Stad, het ‘n jongman wat haweloos was in Time Square Church ingestrompel. Hy het deur die diens gesit en nadat dit verby was, het hy gedink, “Ek haat hierdie plek en sal nie weer terugkom nie.” Iets het hom egter laat terugkom. Hy het weer die volgende week gekom en dieselfde ding het gebeur.”

Die patroon het homself vir twee-en-vyftig weke herhaal. Uiteindelik, na ‘n volle jaar van Sondae, het die jongman van sy stoel af opgestaan toe die diens opgehou het. Hierdie keer het hy egter gesê, “Ek het U lief Jesus en ek het U in my lewe nodig.” Hy het na die altaar gekom en sy lewe aan Christus gegee.

Die pastore by Time Square Church het ervaar dat daar ‘n roeping op hierdie jongman se lewe was. Hulle het hom gehelp om Bybelskool toe te gaan en hy was briljant. Hy het ‘n 4.0 graad gemiddeld gehad en het in die kweekskool ingeskryf waar hy ‘n drie-jaar graad in agtien maande voltooi het. Hy is gevra om in die kweekskool aan te bly as professor, maar hy het die afgewys omdat hy gesê het, “Ek is ‘n pastoor.”

Dieselfde dag wat ek hierdie boodskap by The Springs Church gebring het, het daardie jongman by Time Square Church gepreek. God se guns het op ‘n hawelose, onbelangrike lewe geval — en dit het die verskil gemaak. Niemand wat hom op ‘n bank in die park gesien slaap het sou ooit kon droom dat hy eendag vir duisende sou preek nie. God se guns val op die nederiges en dit verander ons heeltemal.

As jy aan jou eie lewe dink, mag jy dalk dink dat God nêrens te vinde is nie. Volgens ons menslike begrip sou ons nooit kon raai dat God se guns in ons omstandighede aan die werk is nie. Maar God sê anders.

Is jy in ‘n nederige toestand? Is guns die laaste ding wat jy in jou omstandighede mag verwag? Is die idee van God se guns wat op jou lewe is vir jou moeilik om te verstaan? Ek verseker jou, jy is presies waar jy moet wees. God se guns is op jou.

Laat hierdie waarheid ‘n lied in jou hart wees, soos dit vir Maria was. God is besig om iets nuuts te verwek om jou beproewing in sy heerlikheid te verander. Jy mag dalk nie sy teenwoordigheid ervaar nie, maar Hy het sy hand op jou. Vertrou Hom met alles — jou hart, jou familie, jou situasie — en jy sal sy heerlikheid sien. Amen.