Die Kosbaarheid om Christus te Besit

David Wilkerson

Jesus het met die skare in gelykenisse gepraat: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 13:34-35, kursief myne).

Vandag klink hierdie gelykenisse baie eenvoudig vir baie Christene. Volgens Christus, hou elkeen van hulle egter ‘n ongelooflike geheimenis in. Daar is ‘n versteekte koninkrykswaarheid in elke gelykenis wat Jesus vertel het — en daardie waarheid word slegs deur diegene wat deeglik daarna soek, ontdek.

Baie gelowiges lees net vinnig oor die gelykenisse. Hulle dink hulle sien ‘n voor die handliggende les en lees vinnig verder. Of, hulle maak dit af as ‘n gelykenis wat nie op hulle van toepassing is nie. Dan blaai hulle liewer na Paulus se briewe, en soek daar na “dieper waarhede.” Maar ek dink aan twee gelykenisse wat van die mees diepsinnige waarhede bevat wat ‘n gelowige kan besit.

“Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek: en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:44-46, kursief myne).

Jy mag dalk dink, “Wat is so geheimsinnig omtrent hierdie waarhede? Ons weet almal dat Jesus die pêrel van groot waarde is, die skat wat in die veld versteek is. Dit is nie so ‘n groot geheim nie.”

Ek sê vir jou, daar is versteekte manna in hierdie twee gelykenisse en slegs ‘n handjievol gelowiges het dit al ontdek. Baie het nog nooit die tyd geneem om te grawe soos die man in die gelykenis gegrawe het nie. In der waarheid, die twee desperate persone — die grawende man en die skelm handelaar — maak Jesus se bedoeling duidelik. God se geheime moet bo alles ander dinge in die lewe begeer word.

Die Bybel stel dit duidelik dat daar geheimenisse van die Here is: “...Sy verborgenheid is met die opregtes” (Spreuke 3:32). Hierdie geheime was van die begin van die wêreld af onbekend. Matthéüs vertel nou vir ons dat dit in Jesus se gelykenisse verskuil is. Hierdie versteekte waarhede het die krag om Christene waarlik vry te maak. Tog is daar net ‘n paar wat gewillig is om die hoë prys te betaal om dit te ontdek.

Ons almal weet dat die geskenk van verlossing gratis is. Jesus het die prys vir ons verlossing ten volle tot in alle ewigheid betaal. “En hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig” (Romeine 3:24). Hy nooi ons egter om te drink van die ewig-vloeiende fontein van genade: “en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17).

In sy gelykenis van die saaier vermaan Jesus egter dat nie enigeen wat Hom in die geloof bely, daarmee sal volhou nie. Volgens die gelykenis sal sommige saad (die evangelie) op goeie, vrugbare grond val en wortel skiet en vrugte dra. Maar ander saad op klipperige grond sal val en doodgaan voordat dit wortels kan ontwikkel. Nog ander saad kan op doringagtige grond val en Satan sal dit haastig steel.

Ek glo dat die groot wegval wat Jesus geprofeteer het, besig is om plaas te vind. Baie draai weg van oortuigende, sielroerende prediking om leermeesters te soek wat die vlees behaag. Hulle word mislei deur wat Paulus, “‘n ander evangelie, ‘n ander Jesus” noem.

Jesus het al hierdie dinge voorspel. Hy het deur die geskiedenis na ons ons tyd gekyk en alles voorspel wat sou plaasvind: die verwerping van goddelike tugtiging, die opkoms van ‘n evangelie van gemak, die oppervlakkige onderrig van diegene wat die vlees wil behaag, die wegval van menigtes. Hy het voorspel dat die liefde van baie gelowiges sal kwyn in die laaste dae.

Dit is waarom Jesus ‘n private gesprek met Sy dissipels gehad het. “Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand’ (Matthéüs 13:36). Jesus wou Sy volgelinge se oë open vir die dieper betekenis van Sy gelykenisse. Hy het geweet dat hulle die waarheid, wat hulle deur groter versoekings sou deurdra, nodig gehad het.

In hierdie geslote byeenkoms het Jesus die twee gelykenisse oor die skat in die veld en die kosbare pêrel vertel. Hierdie twee gelykenisse beslaan net drie versies in die Bybel, maar tog is God se geheime, waarvan Hy gesê het dat dit verborge was van die grondlegging van die wêreld af, in hulle opgesluit. Ek glo hulle openbaar aan ons die kosbaarheid daarvan om Christus te besit en dat ons met ons hele hart moet grawe om die skatte van die lewe wat in Hom verborge is, te vind: “Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kolossense 2:3). Baie Christene gaan deur die lewe met net genoeg geloof om hulle deur te dra. Net hulle wat Hom volg met hulle hele hart, se oë sal ten volle geopen word vir die geheime van sy oorvloedige lewe.

Jesus begin deur te sê, “Laat Ek julle vertel hoe die koninkryk van die hemel is” (sien Matthéüs 13:44). Christus praat nie hier van die hemel soos ons daaraan dink as die koninkryk in heerlikheid met die Vader nie. Hy verwys na die koninkryk van God op aarde en sê, “Dit is hoe jy ten volle besit van die Hemel in jou hart kan hê op hierdie oomblik.”

Hoe verkry ons hemel op aarde? Die twee gelykenisse maak dit duidelik, deur Christus in sy volheid te besit. En dit is ‘n kosbare strewe.

1. Die skat in die saailand

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand” (Matthéüs 13:44). Die saailand verteenwoordig die verchristelike wêreld. Dit is elke gebied waar die evangelie verkondig en ontvang is. En die persoon wat in die veld werk, verteenwoordig almal wat Jesus dien.

Hierdie man het van ‘n betroubare bron verneem dat ‘n skat êrens in daardie saailand begrawe is. Terwyl sommige werkers halfhartig gearbei het, het hierdie man ywerig en met erns begin spit. Hy het ure, dae en weke verbete na die skat gesoek. Hy het sy hart daarop gesit om God se verborge skat te vind en weet dat die enigste manier waarop hy dit sal kry, is om met alles wat hy het daarna te soek.

Wat is die skat waarna hy soek? Dit is die ongelooflike ontdekking dat Christus alles is wat hy nodig het. Sy skat is om te weet dat al die vreugde, rigting en einddoel — inderdaad, al die rykdom van die hemel — syne is in Jesus. Dit maak nie saak watter beproewings en vervolgings hom in die gesig staar nie. In Christus is elke hulpbron aan hom gegee vir elke aspek van sy lewe.

Wanneer hierdie man uiteindelik sy skat vind, doen hy ‘n snaakse ding: hy steek dit dadelik weg. “Wat ‘n man kry en wegsteek” (Matthéüs 13:44). Waarom sou hy sy wonderlike, nuutgevonde rykdom wegsteek? Ons vind ‘n leidraad in Paulus se getuienis: “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het ... en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek” (Galasiërs 1:15-17).

Aan Paulus is ‘n wonderlike openbaring van Christus gegee. So, waarom het hy verkies om dit ‘n geheim te hou? Omdat hierdie skat vir hom absoluut kosbaar was, kosbaarder as enige iets anders. Hy het as ‘n Fariseër God ywerig gesoek, maar sonder die regte insig van die waarheid (sien Romeine 10:2). Noudat hy die waarheid, wat Christus was, gevind het, sou niemand hom daarvan beroof nie. Daarom het Paulus na die woestyn van Arabië gegaan om sy skat weg te steek.

In der waarheid het hy “alles verkoop wat hy gehad het om die saailand waar die skat begrawe was te koop.” Paulus het verklaar, “Ek wil nie hê dat enigiemand of enigiets my aandag moet aftrek van die groot waarheid wat ek in Christus gevind nie. Ek wil op hierdie oomblik niemand anders se opinie daaromtrent hoor nie. Ek wil dit self eers besit en ek sal dit alleenlik met ander deel wanneer ek die volle heerlikheid daarvan gevind het.”

Dit is die prys wat dit Paulus gekos het om sy skat te verkry: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag... ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:7-8).

Hoe is dit moontlik om ‘n kosbare pêrel “te koop”?

Hierdie gelykenis praat van die “man wat alles verkoop het om die saailand te koop waar die skat begrawe was” (sien Matthëús 13:44). Ons weet dat ons nie geestelike dinge met geld kan koop nie. So, hoe is dit dan moontlik om “‘n kosbare pêrel van ons Here te koop?

Oor die eeue heen het ryk mense probeer om hulle ewige lewe te verkry deur hulle rykdom prys te gee. Hulle het afstand gedoen van hulle kastele, eiendom, rykdom, troppe vee, juwele en mooi duur klere, alles in ‘n poging om Christus te wen. Hulle het armlastiges geword wat karig geëet het en velle van diere vir klere gedra het. Maar niemand het Jesus nog ooit op hierdie manier gevind nie.

Ek glo dat Paulus, gedurende sy jare in Arabië met die Vader onderhandel het. Ek sien in my geestesoog dat hy Hom gevra het: “Vader, hoe kan ek al die rykdom in Christus besit? Wat sal dit my kos?”

Die Vader het Paulus geantwoord: “Gee my al jou eiegeregtigheid, jou goeie werke, jou pogings en strewe om my tevrede te stel en Ek sal vir jou Christus se heiligheid deur geloof alleen gee. Gee al jou ideale, ambisies en planne aan My oor. Ek sal aan jou Christus self gee om in jou en deur jou te leef. Sy begeertes sal joune word, en jy sal meer blydskap vind as wat ‘n aardse vervulling jou ooit sal kan gee. Is om Christus te wen dít alles vir jou werd?”

Paulus het Christus as wins verkry. Hy het uit die woestyn gekom met sy skat ten volle in sy besit en het getuig, “Die ou Paulus is dood en Christus leef in my. Al my ambisies het verdwyn. Alles wat ek tevore wou doen of wees, het ek in die woestyn agtergelaat. Ek het die skat van my lewe gekry, en dit is vir my algenoegsaam. Jesus is alles wat ek ooit nodig sal hê.”

Jy mag vra, “Waar is die versteekte geheim in hierdie gelykenis van die skat?” Paulus het geantwoord: “Naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kolossense 1:26-27). Kortliks, die geheim is dat Christus self binne-in jou is. Die hele hemelse skat leef binne-in jou en is in jou besit!

2. Die pêrel van groot waarde

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:45-46).

Wie is die handelaar in hierdie gelykenis? Die Griekse taal beskryf hom as ‘n reisende groothandelaar. Hierdie handelaar was ook ‘n waardeerder en toetser wat sy lewe gemaak het deur duur pêrels te evalueer en te toets vir hulle kwaliteit en waarde.

Ons weet dat Jesus die groot pêrel met ‘n groot prys was wat die handelaar gevind het. Hy is baie kosbaar en van onskatbare waarde, want die handelaar het al sy ander besittings verkoop om hom te besit. My vraag is, wie was die oorspronklike eienaar van hierdie duur pêrel en waarom was hy gewillig om daarvan afstand te doen?

Ek glo dat ons die betekenis van die pêrel in God se ewige doel vind. Jesus is die Vader se kosbaarste en waardevolste besitting. Net een ding het veroorsaak dat die Vader sy pêrel van onskatbare waarde prysgegee het. Hy het dit uit liefde gedoen. Hy en sy Seun het ‘n verbond voor die skepping van die wêreld gemaak. In daardie verbond het die Vader ooreengekom om sy Seun te verlaat. Hy het Hom prysgegee sodat Hy kon dien as ‘n offer om die mensdom te verlos.

Die apostel Petrus verwys na die hoë prys van hierdie kosbare geskenk: die kosbare bloed van Christus. Dink daaraan: Die God van die heelal het sy kosbare pêrel aan almal beskikbaar gestel. Mense van die kerk het egter geen waarde aan Hom geheg nie: “En hulle het die dertig silwer muntstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel” (Matthéüs 27:9).

Ek sê vir jou, die Vader moet vandag baie bedroef wees as Hy sien hoe min waarde sy mense aan hierdie kosbare pêrel heg. Vir baie mense is hy niks anders as ‘n museumstuk nie. Mense besoek hom een maal per week om hom te bewonder of te aanbid en te sê: “Hoe pragtig, hoe uiters glorieryk.” Maar hulle besit nooit die pêrel nie. Hulle onderhandel nie met die eienaar om dit ten alle koste te besit nie.

God het bedoel dat sy pêrel gevind mag word deur hulle wat ‘n obsessie daarmee het om Hom te besit. Dit is asof Hy sê: “My pêrel is alleenlik beskikbaar vir hulle vir wat groot waarde aan Hom heg.” Die handelaar in hierdie verhaal verteenwoordig daarom net ‘n klein klompie gelowiges vandag. Hierdie dienaars het in Jesus die antwoord gevind vir elke nood en uitroep van hulle harte. Hy het die sentrale fokus in hulle lewens geword. Hulle het hulle hart daarop gesit om na hierdie skat te soek met alles wat hulle het. Hulle gaan ten alle koste van Hom besit neem.

Wat het dit die handelaar gekos om hierdie pêrel te besit? Onthou, hierdie pêrel was van onskatbare waarde. Dit kon teen geen bedrag geld gekoop word nie. Daar was eenvoudig net nie genoeg goud of silwer op die hele wêreld om sy waarde te ewenaar nie en die handelaar het dit geweet. Hy het besef dat hy sy hele lewe kon spandeer om die verstommend groot rykdom bymekaar te maak sodat hy dit kan verkry, maar alles sou tevergeefs wees.

Ek kan my voorstel dat die handelaar aan die eienaar gesê het, “Kyk, ek moet daardie pêrel hê. Ek sal my hele leeftyd se dienste vir U gee. Net wat U van my vra, sal ek doen. Laat my dit tog net besit.” Wat is ons Vader se reaksie op hierdie begeerte? “Gee my jou hart. Dit is die koste.” Volgende lees ons, “En toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:46).

Hierdie handelaar het sy hele siel vir die pêrel verkoop. Dit het hom sy siel, liggaam en gees gekos, “alles wat hy gehad het.” Die eienaar het egter vir hom gesê, dat hy die volgende in ruil daarvoor sou kry: “Jy sal My verbondsdienaar wees, maar jy sal baie meer as dit vir My wees. Deurdat jy jou hart aan My gee, laat jy toe dat Ek jou aanneem. Ek maak jou deel van My familie. Dan sal jy My erfgenaam wees. Dit beteken dat jy saam met My die pêrel sal besit.”

Laat my jou vertel wat hierdie twee gelykenisse vir my persoonlik beteken.

Christus is die skatkis in die veld. Binne-in Hom is alles wat ek ooit nodig sal hê. Vir my beteken dit die volgende:

Ek probeer nie meer om my doel in bediening te vind nie. Ek soek nie meer na vervulling in mense nie. Ek het nie meer nodig om iets vir Christus te bou of om ‘n sukses te wees of bruikbaar of nuttig te voel nie. Ek probeer nie meer tred hou by die menigte nie of probeer iets te bewys nie. Ek soek nie meer maniere om mense te behaag nie. Ek probeer nie meer dink of redeneer om myself uit die moeilikheid te kry nie.

Ek het gevind waarna ek gesoek het. My skat, my pêrel is Christus. En al wat die Eienaar van my vra is, “David, laat My jou aanneem. Ek het jou lief en Ek het alreeds al die papiere met my eie Seun se bloed geteken. Jy is nou saam met Hom mede-erfgenaam van alles wat Ek besit.”

Ek is nog steeds in die proses om alles te verkoop wat ek het. Ek gee nog steeds die Vader al my tyd, gedagtes, wil en planne. Maar ek weet ek verruil dit alles vir ‘n skat. Ek verhandel dit om lewende water te koop, die brood van die lewe, melk en heuning van vreugde en vrede. Ek doen dit alles sonder geld. My koste is my liefde, my vertroue en geloof in sy Woord.

Wat ‘n winskopie. Ek gee my besoedelde kleed van selfvertroue en goeie werke prys. Ek lê my uitgetrapte skoene van strewe neer. Ek laat my slapelose nagte op die strate van twyfel en angs agter. In ruil daarvoor word ek deur ‘n Koning aangeneem!

Liewe heilige, dit is wat gebeur wanneer jy die pêrel, die skat soek, tot jy Hom vind. Jesus bied jou alles aan wat Hy is. Hy bring vir jou vreugde, vrede, ‘n doel in die lewe en heiligheid! Wat is Hy vir jou werd? Om Hom as wins te verkry, mag meer wees as wat jy gewillig is om te betaal. Ek dring by jou aan: Begin vandag grawe.