Die Komende Reiniging

The Homosexual Church Will Be Cast Out
David Wilkerson

Die missie van Jesus Christus was nie net om gelowiges te verlos en met die Heilige Gees te doop nie, maar ook om die kaf van die koring te skei, te reinig en uit te wan. Wat ‘n verskriklike aspek van Sy sending – om die besmette saad te skei en te vernietig en dit vir verbranding gereed te maak.

Die kerk beleef ‘n magtige uitstorting van die Heilige Gees. Daar is ‘n groot insameling van mense van alle godsdienste en vlakke van die lewe. God se heilige dorsvloer is vol en loop oor met ‘n groot oes. Trouens, daardie wit lande het ‘n rekord oes ingebring.

Nou, die kerk van Jesus Christus is op die punt om die tweede helfte van die Pinksterbelofte te beleef. Jesus self is op die punt om Sy volk te reinig. As jy glo in die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees, moet jy ook die res van daardie belofte glo. Direk na die beloofde uitstorting kom ‘n reiniging van alle onreinhede “op Sy dorsvloer.” Jesus gaan die kaf van die koring skei.

“Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand” (Matthéüs 3:12).

Ons Here gaan Sy ware kerk reinig van alles wat vals en sensueel is. Die hoogmoediges, die bevlektes, die louwarmes, die liefhebbers van plesier – almal sal uit Sy plek gewan word.

Johannes voorspel ‘n reiniging in die kerk

In een groot profetiese vers, voorspel Johannes wat Christus sal doen aan Sy oes nadat die Heilige Gees uitgestort is in hierdie laaste dae – net voor Sy terugkeer. Na die doping, ‘n uitwan periode. ‘n Tyd van in kategorieë plaas. Die wind van die Heilige Gees gaan waai op ‘n nuwe manier – nie net om te doop nie, maar om al die kaf uit Sy huis te waai. Ook uit ons lewens uit.

Die agtergrond van hierdie kragtige belofte word gevind op die bergtoppe van die Heilige Land. Die insamelaars kom na daardie hope van gemengde koring en kaf met ‘n drietand houtvurk. Ander gebruik ‘n houtgraaf met ‘n steel wat omtrent drie voet lank is. Die gemengde oes was in die lug gegooi, direk in die wind in. Die ligter kafdeeltjies wat na die kant gewaai was, was weggeblaas van die swaarder koring wat direk op die grond geval het. Die kaf was aan die brand gesteek en vernietig sodat niks behalwe ‘n hoop verbrande as oorgebly het nie. Die koring was in sakke bymekaargemaak en in skure gebêre.

In Bybelse tye, as daar geen wind beskikbaar was tydens hierdie uitwantyd nie, was ‘n waaier gebruik om ‘n wind te maak. Dit was gewoonlik laat in die aand gedoen, en as dit nie teen middernag klaar was nie, was dit die gebruik om op die dorsvloer te slaap en die oggend klaar te maak.

God se Woord sê, “...Sy skop is in Sy hand.” Die skop of waaier (volgens Engelse vertalings) wat Jesus in Sy spykerletsel hand hou, is die Heilige Gees. Hy stuur die Gees as Trooster en Doper. Hy sal ook die Gees as die skeidende wind gebruik. Jesus, glo ek, dring nou die Heilige Gees om magtig te waai op die oes. Die kerk van Christus begin om die eerste briese van hierdie laaste reinigende wind uit die Hemel te voel. En Hy sal die werk klaarmaak voor middernag.

Jesus gaan sonde in Sy huis openbaar

Ons Here waak oor Sy oes met ‘n vurige liefde. Hy weet dat nie almal wat sê “Here, Here” ingesamel sal word nie. Hy weet dat daar in daardie oes wat nou hoog opgestapel is, diegene is wat aanstoot gee – diegene wat geopenbaar moet word vir wie hulle werklik is – kaf! Hy was so geduldig. Tot nou toe, het Hy toegelaat dat die koring en die onkruid saam groei. Hy het toegelaat dat die gemengde oes ophoop op Sy skoongemaakte vloer. Maar, o, my broer en suster – wanneer Hy besluit om Sy dorsvloer skoon te maak, sal daar nie meer tyd wees vir preke en afsondering nie. Geen boeke wat die besoedeldes waarsku om hulle te reinig meer nie. Geen gemengde half-geteelde oes meer nie. Sy wanvurk sal in daardie hope gesteek word, insluitende elke gebedsgroepie – elke Katolieke en Protestante kerkgemeenskap, wêreldwyd. Ons gaan almal die impak van daardie uur voel wanneer ons met Sy hand uitgewan word. Vir diegene wat afgesonder en geheilig is vir Christus, is die reiniging en uitwan niks om vrees nie. Ons sal steeds heel uit daardie reinigende periode kom en almal wat rondom ons agtergelaat sal word, sal wees van soortgelyke kosbare geloof.

Die predikers, leraars en evangeliste gaan nie die wanwerk of die waaiwerk doen nie. Jesus gaan dit alles doen deur Sy Heilige Gees. Die kerk hoef nie bekommerd te wees oor die Nikolaïete, die “swingers,” die kompromiemakers, die mengers met die wêreld nie. Jesus gaan binnekort iets daaromtrent doen. Ons het ‘n uitstorting beleef – maak nou gereed vir ‘n ontworteling!

Daar sal ‘n laaste skeiding wees tussen die skape en die bokke op die Oordeelsdag. Maar, ek glo die wanproses vind hier op aarde plaas, vóór die laaste oordeel. Die reiniging van die oes kom voor dit bymekaargemaak word in die Meester se skuur.

“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

Alles wat aanstoot gee, moet waai

Die afgelope jare, was die oproep van God tot alle mense, “Kom saam in Christus se Naam. Kom bymekaar in liefde.” En hoe het hulle gekom! Metodiste het Baptiste omhels! Pentakostaliste het begin om Katolieke lief te hê! Hippies, verslaafdes, prostitute, voormalige misdadigers – almal het onder daardie banier van liefde saamgekom. Die oes het eindeloos gelyk; die liefde was alles omvattend; en diegene wat verlang het na die belofte het gesê – “Dit is dit!”

Die oes het gerwe uit Hollywoord, Nashville en Washington ingesluit – uit die verhoogkuns, uit die politiek, uit die huis van Israel. Kan iemand ontken dat die oes opgestapel het? Van oral af het liefhebbers van Jesus die gerwe ingebring. Daar is ‘n gejuig in die liggaam van Christus. Nog nooit was die oes so ryp nie; nog nooit was die gereedskap van die dorsvloer so besig nie. Maar, daardie oes lê nie net daar onaangeraak en wag om gebêre te word nie. Nooit! Daar is oral kaf in daardie hope. Dit lyk alles soos koring, maar dit is nie. Kaf kan nie toegelaat word om in die oes te bly nie. Die eienaar van daardie oes moet kom om die egtes van die namaaksels te skei.

Wat sal weggeblaas word en wat sal oorbly? Ons weet uit die geopenbaarde Woord van God dat alle hoerery, alle leuens, alle diefstal, alle owerspel, alle geskinder, alle haat uit die kerk verwyder sal moet word. Maar, Hy het ook gesê dat Hy “alles wat aanstoot gee” sal reinig.

“Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen” (Matthéüs 13:40,41).

Ons Here doen baie moeite om die oes te reinig van alle skandale, van elkeen wat verkeerd doen en van alles wat God aanstoot gee. En, die heel eerste dinge wat sal waai, sal die dinge wees wat hoog geag word onder mense maar vir God ‘n gruwel is.

Gruwelike musiek gaan weggewaai word

Wat word so hoog geag onder mense wat so ‘n gruwel vir God kan wees? Kyk byvoorbeeld weer na die nommer een heilige koei van die meeste Christelike jongmense vandag – “hard rock!” Hulle het dit nou herdoop na “Jesus Rock” – “Love Rock” – “Heilige Gees Rock.” Die musiek self is nie vir God ‘n gruwel nie, omdat dit niks meer is as geamplifiseerde klank is nie. Dit kan selfs deur ‘n klomp masjiene, soos ‘n Moog-sintetiseerder, nagemaak word. Maar, die goedkoop kommersialimse deur so baie Jesus-rockers, is een van die ergste gruwels wat die kerk al ooit beleef het.

Ek kan dit nie langer inhou nie. Iemand moet dit sê. Die effek van die sogenaamde Jesus-rock op die kerk is skandalig. Dit is ‘n stank in God se neus en wanneer Jesus begin om die oes te reinig – sal al die Jesus-rock geldwisselaars eerste wees om te waai. Hoe lank dink jy sal God sommige van hierdie korrupte sanggroepe duld wat die land reis en tot $7,000 vir een “vertoning vir Jesus” vra? Hoe lank sal Jesus ‘n leër van agente, bestuurders en promotors toelaat om die kerk te initimideer deur musiek op die jongmense af te dwing wat niks meer as ‘n goedkoop eggo van die sale van goddelose rock-konserte is nie? Dit is ‘n terugkeer na die ou “dagga en dwelms” musiek van ‘n dekade gelede.

Ek is 100% daarvan oortuig dat Jesus op die punt is om al die sensuele, wêreldagtige musiek uit die heiligdom te werp. Ons het desperaat ‘n reiniging van ons musiekwaardering nodig. Ons Here kan nie tevrede wees wanneer Sy kinders ‘n smaak vir ‘n klank ontwikkel wat soveel identifiseer met dwelms, seks en geweld nie. En, wat van die Christene wat hulle gedagtes voed met country western liedjies met lirieke wat gaan oor egskeiding, kullery en kroeg “blues”?

‘n Musiekrewolusie is op pad

Let op my woorde, ‘n nuwe rewolusie in musiek is op pad na die kerk. Die Gees gaan al daardie “Las Vegas”-vertonings van Sy dorsvloer afvee – en in sy plek sal ‘n rein en heerlike klank gebore word wat die hemel sal laat juig. Daardie groepe wat kompromieë maak en eens so gewild was, sal nie ‘n handjievol Christelike jongmense kry wat gewillig is om daarna te luister nie. Jesus gaan Sy eie “wederkoms” musiek inisiëer. Hy gaan al die skynheilige, half-oorgegewe sangers en spelers reinig. Hy gaan die stemme en instrumente van diegene wat die reiniging slaag, heilig. Christus gaan Sy ware kinders terugbring na die musiek van aanbidding.

Op hierdie oomblik, kan Christelike jongmense nie van hulle knieë af opstaan – nadat hulle hul hart op Jesus uitgestort het – en ‘n harde-rock klank aanskakel nie. Gebed, ‘n gebroke hart, betraande oë, ‘n visioen van Jesus – niks hiervan is deel van Jesus-rock nie. Maar, dit is op die punt om te verander. Reeds, begin duisende Christelike jongmense om te bepeins en te bid met die vertroostende, sagte musiek van lofsang en aanbidding. Jesus-rock is uit! Dit mag ‘n bietjie langer talm en sy promotors sal sê dit is hier om te bly. Maar, dit is dood! In sy plek? ‘n Nuwe klank. ‘n Volkome Jesus klank. ‘n Lied van vreugdevolle lofsang en wonderbare aanbidding. Ons gaan nuwe groepe sien – so oorgegee aan Jesus, so afgesonder van die wêreld en sy simpel musiek – en hulle sal ‘n oorspronklike lied hê, niks geleen nie! Daardie sangers en groepe wat nou gewildheid geniet, sal agterbly, tensy hulle teruggaan na die kruis, hulleself verneder en begin om op aanbidding te fokus.

Elke keer wat hierdie vars gesalfde jongmense sing, word Jesus verhef. Ons sal nie meer die kunstenaars sien nie. Ons sal Jesus sien! Geen goedkoop psigedeliese album omslae meer nie. Jesus sal verhef word – in plaas van self. Geen agente onder hoë druk wat buitensporige pryse vra meer nie. Geen emosionele truuks om ‘n skare aan te skakel meer nie. Geen nikseggende liedjies oor vrede en liefde meer nie. Nee! Dit gaan ‘n geheiligde klank wees, gebring deur geheiligde kunstenaars, en gehoor deur geheiligde ore.

Die homoseksuele kerk sal uitgedryf word

Wat anders sal Jesus van sy dorsvloer afvee? Al die geheime homoseksuele en almal wat hulleself verskoon in hulle sonde; dit is alles kaf en moet weggevee word. Jesus haat homoseksualiteit, maar Hy het homoseksuele lief. Hy vergewe hulle wat hulle bekeer en hulle goddelose weë laat staan. Maar, nou het die kerk in hulle geledere diegene wat ons wil laat glo dat Jesus nie meer homoseksualiteit as sonde beskou nie.

Homoseksuele maak nou daarop aanspraak dat daar 50,000 lede in hulle “slegs homoseksuele” kerke is. Die Metropolitaanse Gemeenskapskerk is een van die baie homoseksuele denominasies wat oral oor die land opspring. Ek het ‘n waarnemer na een van hulle jaarlikse “Heilige Gees” konvensies in Dallas, Texas gestuur. Hoe ongelooflik lasterlik!

Elke afgevaardigde, wat geregistreer het, het ‘n pakkie wat onder ander die volgende dinge ingesluit het, ontvang: twee “manne” tydskrifte van heeltemal naakte mans en ‘n lys van al die homoseksuele kroeë in Dallas – sodat afgevaardigdes die aanddiens kon verlaat, na hulle geselekteerde kroeg toe gaan en saam met ‘n minnaar vir die nag kon wees. En, daardie afgevaardigdes noem hulleself “bedienaars.” Hoe het hulle gesing! Hulle het die Here met entoesiasme geloof; maar hulle evangelis het die evangelie ondenkbaar besoedel. Hy het gesê, “Paulus het sekerlik manne veroordeel wat die natuurlike gebruik verander en ontbrand het teenoor mekaar. Maar dit is nie ons nie. Ons het niks verander nie. Ons was op hierdie manier gebore. So, kom uit julle kaste. Word gevul met die Heilige Gees en geniet julle homoseksualiteit.”

Hoe lank sal Jesus hierdie verregaande godslastering duld? Hoe lank sal ons geseënde Here “bedienaars” van die kerk toelaat om homoseksuele te verskoon en aan te moedig in hulle perversie? En, dit is wat dit is – ‘n verdraaiing! Probeer om die angel uit daardie woord te haal, probeer om dit bolangs aanvaarbaar te maak, probeer om dit nie aanstootlik te laat klink nie, maar dit is steeds verdraaiing. Niks sal dit ooit verander nie! Die kerk mag dit verskoon. Liberale bedienaars mag diegene van ons wat dit steeds sonde noem, spot; komediante mag spot en grappe maak oor diegene wat dit weerstaan; maar, in werklikheid, haat Jesus homoseksualisme, en Hy gaan dit onomwonde van Sy heilige dorsvloer afblaas. Selfs nou, steier die homoseksuele gemeenskap oor die manier waarop Jesus sy banier oplig teen hulle sonde. Die wind van God is teen hulle.

Jesus sal elke homoseksueel wat sy sonde verwerp en uitroep, “Ek het hulp nodig, Meester. Vergewe en genees my,” met genesende arms verwelkom. Vir die afgelope 10 jaar, het ons ‘n huis vir homoseksuele gehelp finansier. Ons het beddens, kos, klere en berading voorsien aan homoseksuele wat hulp wil hê. Dit is ‘n deel van Christus se gebod om hulle te oortuig van saligheid en verlossing. Maar, die kerk van Jesus Christus moet nooit ‘n kompromie maak en dialoog voer met die leerstellinge van duiwels nie. Satan se leerstelling is een van trotse en arrogante aanvaarding van homoseksualiteit as ‘n normale Christelike belewenis. Nooit!

Die onbelydende en geheime homoseksuele sal geopenbaar en afgeskei word van die ware liggaam van Christus. Nadat hulle die liefde van Jesus en Sy offer om hulle te verlos verwerp het, moet hulle die wannende skop van Jesus trotseer. Jesus kom nie terug vir ‘n kerk wat sonde pamperlang en verskoon nie. So, pasop! Pasop vir bedienaars wat vuil sonde verskoon met die skyn van wat hulle Christelike “liefde” noem. Jy kan nie genesing vir homoseksuele bring deur met hulle sonde te simpatiseer nie. Wees versigtig vir diegene wat kom in die Naam van Jesus en weier om die “uitermatige sondigheid” van hierdie sonde te erken. Die egbrekers, die hoereerders, en die praktiserende homoseksuele sal almal op dieselfde hoop van verwerping gegooi word. Jesus sal dit nie toelaat in Sy ware kerk nie. ‘n Homoseksuele reiniging is op pad, en die Here self sal beheer oorneem; Hy sal hierdie inval van die kerk deur beginsellose denke, beëindig.

‘n Tweede magtige stormwind is op pad

 Maak gereed vir ‘n tweede magtige stormwind. Jesaja beeld nasies uit asof hulle voortstorm soos die “gedruis van baie waters,” reguit in die wind van God in. Hy het gesê die goddelose sal “gejaag word soos die kaf.” Hulle sal ronddryf soos deeltjies wat in ‘n warrelwind vasgevang is.

“Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters; maar Hy dreig hulle, en hulle vlug ver weg en word gejaag soos kaf van die berge voor die wind en soos strooi voor die stormwind...” (Jesaja 17:13).

Is jy gereed om ‘n profesie te ontvang – een uit die hart van God – oor wat ons Here op die punt is om te doen? Jesaja het geprofeteer dat “die nageslag van Abraham” sou word soos:

“...’n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf” (Jesaja 41:15).

Jesaja het voorspel dat God nie sy volk sou vergeet nie. Hy sal “riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne...en Hy sal ‘n nuwe hoofweg van heiligheid oopmaak” En hoe sal die Here Sy doel bereik en heiligheid en geregtigheid beskik?

“Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in die HERE, jou beroem op die Heilige van Israel” (Jesaja 41:16).

‘n Herlewing van heiligheid is op pad

Wat het Jesaja geprofeteer? Wat sal ons verwag wanneer hierdie reiniging in volle swang is? Ek glo die Here het ons ‘n kykie gegee na wat sal gebeur. Meer as ‘n reiniging van ons musiek en ons sedes, sien ek ‘n nuwe soort ontwaking kom. Ons het die afgelope jare ‘n ontwaking van liefde en deernis beleef. Hierdie liefdesopwekking het menigtes in die kudde ingebring. Ons het ‘n opwekking van doodsheid na lewe gesien – van ‘n vorm van goddelikheid na die krag daarvan. Nou, is ons op die punt om ‘n ontwaking te sien van die heiligheid van Jesus. Hoor weer Jesaja.

“Jy sal...jou beroem op die Heilige van Israel”

Heiligheid sal op liefde volg! Ons sal ‘n lied van blydskap sing en weggeraap word met ‘n nuwe visie van die heiligheid van die Here.

Ek sien meer en meer leraars wat gedring word om oor afsondering, goddelike droefheid en heiligheid te preek. Die Heilige Gees gaan ‘n banier oprig teen die kompromie en korrupsie. Ons sal ‘n nuwe soort bekeerling sien. Binnekort sal ons hoor van beroemdes wat die verhoogkunswêreld heeltemal verlaat om die evangelie te verkondig. Politici sal eens en vir altyd wegloop van hulle rookgevulde kamers om die Woord van God te versprei. Praat van afsondering; hulle gaan al die Christelike losbol beroemdes beskaamd maak. Hierdie totaal oorgegewe bekeerlinge sal gevul word met ‘n visie van Christus se heiligheid en reinheid. En, hulle sal nie bang wees om uit die wêreld te kom nie.

‘n Nuwe geslag jong bekeerlinge sal opstaan met heilige vrymoedigheid om die korrupsie in die wêreld en die kerk te verwerp. Waar sonde heers, heers genade baie meer. Ons kinders beleef ‘n eeu waarin dit lyk asof al die demone in die hel losgelaat is om te mislei. Hulle sal versoekings beleef waarvan geen ander geslag gehoor het nie. Satan sal hulle aanval met elke plan tot sy beskikking. Goddelose mense sal erger en erger word. Misdaad en geweld sal hulle lewens bedreig. “Gay boewe” sal op die strate rondsluip en mans verkrag en doodmaak soos hulle gedoen het in die dae van Lot. Die stank van die hel sal amper oral wees. Maar, Jesus het die laaste-dag gelowige meer genade belowe as al die ander geslagte. Satan weet dit nie, maar al sy aanvalle sal niks anders uitrig as om ‘n soort “super heilige” te maak nie. Ek bedoel dit op die regte manier. Jesus sal, te midde van die waansin en wanhoop, ‘n heilige nageslag opwek. Sterk, afgesonderde, onbuigbare jongmans en -vroue, wat almal bloedgewaste oorlewendes van die laaste reiniging is.

Ek is glad nie besorg oor die toekoms wat ons Christelike kinders sal beleef nie. Hulle sal sterker, reiner en dieper in Jesus wees as enige ander geslag in die geskiedenis. Daar sal minder kaf en meer koring onder hulle wees.

Wat my betref, maak ek al die deure en vensters van my wese oop. My siel roep uit, “O, Here, stuur die wind – die reinigende, heiligende wind van u Gees – en blaas al die kaf uit my lewe uit. Raak ontslae van al die rommel. Gee my daardie ‘voortdurende droefheid’ oor sonde waarvan Paulus gepraat het. Sonder my af vir U.