Gelei deur die Waarheid in ‘n Bedrieglike Era

Carter Conlon

In hierdie tyd waarin daar 'n magdom stemme en valse profete voorkom, moet ons besef hoe noodsaaklik dit is om 'n gesonde verstand te hê om God se stem duidelik te kan onderskei en ons onsself deur die waarheid te kan laat lei. As jy kies om jou met jou hele hart tot God te bekeer, sal Hy sy Woord en sy stem aan jou begin openbaar. “En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).

God sal jou 'n gesonde verstand gee as jy dit begeer. Hy sal jou dieper in die Skrif lei en jy sal gevestig word in die weë van God en in staat wees om waarheid te kan onderskei. Jy sal gou op die punt kom waar jy nie meer in jou gedagtes stry nie en nie meer deur jou eie natuurlike denke beheer word nie. Dit beteken dat jy nie gelei sal word deur dit wat ander mense sê of wat jy in die nuus sien nie. Vrees sal jou nie oorval met elke slegte berig wat jy hoor nie, want jy sal weet wat reg is en wat die Bybel sê.

Jy sal onthou wat God vir jou gesê het, en soos jy wandel in dit wat Hy sê, sal jy lewe om dit vervul te sien. Die hel kan sy diepste, donkerste vyande teen jou stuur, maar jy sal die vertroue hê dat een woord van waarheid die hele spul op die vlug kan laat slaan. “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31). Of wanneer daar vrese oor voorsiening vir die toekoms ontstaan, sal jy skielik die woorde van Dawid onthou: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25).

Die grootste verskil tussen mense met 'n gesonde verstand en diegene daarsonder, sal deur die leiding van God in hul lewens bewys word. Dawid het geskryf, “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen” (Psalm 23:2). Diegene met 'n gesonde verstand sal gelei word deur die liefdevolle stem van hul Verlosser, en hulle sal gerusstellende beloftes kry, ongeag wat hulle in die komende dae sal beleef.

Krag, liefde en 'n gesonde verstand – dit is wat van God kom, en dit kom slegs van God af. Vertrou Hom vir die krag om alles te wees waarvoor Hy jou geroep het. Besluit in jou hart om sy wil te vind en God sal sy deel doen om jou te vul met die Heilige Gees wat enige gees van vrees sal oorwin.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.