Die God Wat Naby Is

David Wilkerson (1931-2011)

As die Here in ons woon, bring Hy al sy krag en hulpbronne saam. Skielik, het ons innerlike mens toegang tot God se krag, wysheid, waarheid, vrede, alles wat ons nodig het om in oorwinning te leef. Ons hoef nie tot Hom te roep om uit die hemel na ons toe te kom nie. Hy is reeds in ons. Paulus vertel ons hoe kragtig ons in Christus is.

“Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon; julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met die heiliges en volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efésiërs 3: 14-19, AFR53).

Wat 'n wonderlike gedeelte. Paulus noem slegs 'n paar van die fenomenale skatte wat die Here aan ons beskikbaar gestel het. Trouens, al die rykdom van God is vir ons beskikbaar in Christus Jesus.

Sommige Christene het 'n beeld geskep van 'n selfgesentreerde God wie se enigste plesier is om lof te ontvang. Mag dit nooit oor ons Here gesê word nie, want dit is glad nie die rede waarom Hy in ons kom woon het nie. Hy het ons kom wys dat Hy 'n God is wat nie ver van ons af is nie. Die Here wil hê dat ons moet weet dat Hy nie net êrens in die donker uitgestrektheid van die heelal is nie. Hy vlieg nie na willekeur in en uit ons lewens nie. Nee, Hy is werklik teenwoordig in ons en Hy verlaat nooit sy woonplek in ons nie.

Dit is hoe Jesus vir sy dissipels kon sê: "Julle moet geloof in God hê. Want voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê” (Markus 11: 22-23).

Toe die Vader in ons tempel kom woon het, het Hy vir ons krag in ons innerlike mens gegee, diep gewortel en gegrond op liefde, sowel as toegang tot Hom om alles te vra. Hy het alles moontlik gemaak deur sy goddelike krag wat in ons werk.