Ons Word Wat Ons Aanskou

David Wilkerson (1931-2011)

Stéfanus het ‘n geopende hemel en ‘n verheerlikte Mens gesien op die troon, wie se heerlikheid in hom weerspieël was aan almal wat daar naby gestaan het. “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Handelinge 7:55-56).

Stéfanus verteenwoordig dit wat ‘n ware Christen veronderstel is om te wees: iemand wat vol is van die Heilige Gees met oë gevestig op die Mens in die hemel. Iemand wat daardie heerlikheid op so ‘n manier weerspieël dat almal wat dit sien, verstom sal staan en met verwondering vervul sal wees.

Stéfanus was in ‘n hopelose toestand, omring met godsdienstige waansin, bygelowigheid, vooroordeel en jaloesie. Die woedende skare het met wilde oë bloeddorstig teen Hom gestamp en die dood het vlak voor Hom opgedoem. Watter onmoontlike omstandighede! Maar deur op te kyk na die hemel, het Stéfanus sy Here in die hemel aanskou en skielik het sy verwerping hier op aarde niks vir hom beteken nie. Nou was hy verhewe bo dit alles.

Een glimp van die Here se heerlikheid, een visie van sy kosbare heiligheid en Stéfanus kon nie langer seergemaak word nie. Die klippe, die woedende gevloek, was alles skadeloos teen hom weens die blydskap wat voor hom gestel was. Net so, plaas een glimp van Christus se hemelse posisie jou bokant al jou omstandighede. Deur jou oë op Christus te hou en bewustelik na Hom uit te reik elke oomblik wat jy wakker is, gee jou vrede en kalmte soos niks anders kan nie.

Stéfanus het die strale van die verheerlikte Mens in die hemel gesien en het dit weerkaats na ‘n Christus-verwerpende samelewing – “met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou ... word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Hoe waar is dit dat ons word waarna ons kyk. Stéfanus het ‘n lewende spieël geword waarin mense die heerlikheid van Jesus weerspieël kon sien. Net so moet ons! Wanneer die vyand kom soos ‘n stroom, moet ons die wêreld om ons beide verstom en veroordeel met ons heerlike, kalm vertroue in Christus. Dit word gedoen deur ons gedagtes op ons Verlosser te hou.