Die Slang in Jou Tuin

Gary Wilkerson

“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed” (Génesis 1:31). In Génesis hoofstukke 1 en 2, lees ons van God se wonderlike skepping. Adam en Eva het soete gemeenskap met hulle Vader in die Tuin van Eden gehad – maar daar was ook ‘n slang in die Tuin. “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het” (Genesis 3:1). Hierdie geslepe, bedrielike skepsel het Eva verlei, wat haar man in die plan ingebring het en hulle het toegegee aan sy stem.

Toe sonde en skande die wêreld binnegedring het, was die gemeenskap met die Vader verbreek (sien Génesis 3:1-19). En van daardie tyd af tot nou toe, was daar altyd “’n slang in die tuin” – een of ander uitdaging, teëstand of beproewing beplan om ons weg te trek van die Vader af. God kon dit van die begin af verbied het maar dit was deel van sy plan. Die bekende frase “toets jou staal” beteken om te kyk hoe sterk jy is en om jou ware karakter te wys. Tensy die toets kom, sal jy nie weet hoe sterk jy in Jesus Christus is, hoeveel krag Hy in jou vrygestel het en wat die gesag is wat jy in sy Naam het nie.

Ons sien dit gedemonstreer toe God sy vyande in die land Israel agtergelaat het om hulle te toets. “En dit is die nasies wat die HERE laat oorbly het om Israel, almal wat al die oorloë van Kanaän nie geken het nie, deur hulle op die proef te stel — net dat die geslagte van die kinders van Israel dit kan weet — om hulle te leer oorlog voer, ten minste die wat daar vroeër nie van geweet het nie” (Rigters 3:1-2). God kon die Israeliete bemagtig het om die Kanaäniete te vernietig sodat die ander vyande hulle nie kon aanval nie, maar Hy het daardie teëstanders in die land gelos om hulle uit te daag.

Wat is die vyand in jou lewe – die slang in jou tuin? Angs en vrees? ‘n Gevoel van verwerping? Eensaamheid en afsondering? Boesemsonde? God wil al hierdie dinge genees met sy onvoorwaardelike liefde. Storms mag kom, vyande mag jou teëstaan, slange mag in jou tuin wees, maar Jesus sal jou vul met sy liefde, sy vrede, sy blydskap en sy oorwinning!