Geen Plaasvervanger vir Gebed

David Wilkerson (1931-2011)

“Sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val” (Handelinge 5:15).

Die apostels het geleef en bedien in die koninkryk van die bonatuurlike. Selfs die gemeentelede soos Stéfanus en Filippus, manne wat die tafels bedien het, was magtig in die Heilige Gees, het wonderwerke gedoen en hele stede in beroering gebring. Petrus was so vol van die Heilige Gees, dat die siekes in die strate uitgedra is op beddens en draagbare sodat sy skaduwee op hulle kon val vir genesing. Dit was nie ongewoon om te sien hoe kreupeles genees word en rondspring in die tempel nie.

Waarom beleef ons nie sulke bonatuurlike krag vandag nie? God het nie verander nie! Die apostels het die prys van die bonatuurlike geken en dit gretig betaal. Ons het dieselfde beloftes as die apostels en God is gewillig om weer op so ‘n manier te werk. Ons het meer van Jesus nodig – meer van sy reddende mag, meer van die bonatuurlike – as enige vorige geslag.

Waarom het God bonatuurlike gereageer op die apostels? Omdat hulle toegewyd was aan gebed! Die boek Handelinge is die verhaal van heilige manne en vroue wat die Here se aangesig gesoek het. Van begin tot einde, vertel dit van hoe gebed God beweeg het, of dit nou in die bovertrek, in die tronk of in een of ander geheime huis was. Hulle het gebid sonder ophou en het ure en dae afgesonder met God deurgebring totdat hulle duidelike, gedetailleerde leiding ontvang het. En watter ontsaglike spesifikasies het God vir hulle gegee!

Dit is jammer dat gelowiges vandag geleer is “om alles deur geloof in besit te neem,” sodat hulle selde bid. Moenie mislei word nie. Jy kan dieselfde duidelike boodskap van God kry as die apostels as jy sy aangesig in gebed met intensiteit soek. Daar is geen plaasvervanger vir tyd deurgebring in die teenwoordigheid van die Koning nie. Hy is gretig om sy liefde, barmhartigheid, genade en krag vir jou te wys. “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16).