Geloof Bo Vrees

Gary Wilkerson

“En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ’n owerste onder hulle” (Númeri 13:1-2).

Moses het twaalf manne gekies om die Beloofde Land te gaan verken, een uit elke stam van Israel. Elkeen van hierdie manne was ‘n uitstaande leier met uitsonderlike vaardighede, mag en gesag. Almal van hulle word by die naam genoem in Númeri 13, maar net twee is aan ons bekend vandag: Josua en Kaleb. Daar is ‘n defnitiewe rede hiervoor.

Nadat die verspieders hulle verkenningsopdrag vervul het, het hulle ‘n oorvloed sappige vrugte saamgebring en beskryf dat die land “loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte” (13:27). Toe hulle egter aan Moses en Aäron verslag gedoen het oor hulle bevindinge, het tien van hulle gesê, “Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot ... Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons” (13:28,31). Vol twyfel en bedenkinge, was hulle oorweldig met ‘n vrees om doodgemaak te word deur die magtige vyande in Kanaän.

‘n Groot deel van die Israeliete was reg om na die raad van hierdie manne te luister, maar Josua en Kaleb het ernstig met hulle assessering verskil. Hy het Israel aangespoor om met geloof verder te trek, wetend dat God die pad sou voorberei. Hierdie twee getroue manne het uitgestaan binne hulle geloofsgemeenskap en die verskil in hulle was duidelik in God se oë. Hy het dit met hierdie woorde aan Moses gesê, “My kneg Kaleb, omdat ’n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg” (14:24).

Beide Josua en Kaleb het die regte gesindheid, wat uitgebeeld was met geloof en moed, gehad. Weens hulle vertroue in die beloftes van God, het hulle die Israeliete in die Beloofde Land ingelei en ‘n ryk beloning ontvang. Die ongeloof van die ander verspieders, het hulle teruggelei na die woestyn waar hulle in die vergetelheid verdwyn het.

Kies om die Woord van die Here en sy beloftes vandag te glo. Plaas jou vertroue in Hom en Hy sal jou lei na jou eie beloofde land.

Tags