Om Gemeenskap te Vind

David Wilkerson (1931-2011)

“Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af. Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ’n stad om in te woon het hulle nie gevind nie. Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag” (Psalm 107:1-5).

Hier is ‘n klassifikasie van mense wat eens die volheid van die Here geken en op een of ander tyd in hulle lewe die heerlike verlossing ontdek het. Maar nou is hulle in ‘n eensame woestyn, dwaal alleen rond en hulle kan nie die stad vind nie. “Die stad” in die Ou Testament verwys na Sion, wat God se ware kerk verteenwoordig. Vandag, is daardie stad natuurlik die ware liggaam van Christus; diegene wat in gees en in waarheid aanbid. En hierdie klas gelowiges wat hierbo beskryf word, bestaan uit diegene wat skynbaar nie “die stad” kan vind nie. Hulle woon nie langer kerk by nie, omdat hulle skynbaar nie ‘n aanbiddingsplek kan kry wat hulle behoeftes aanspreek nie.

Die Here het beveel: “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25). Menigtes honger Christene gaan van kerk tot kerk en probeer om hulle plek te vind. Op die ou end, gee baie selfs moed op om ‘n goeie kerk te soek omdat hulle seker is dat daar nie een is nie.

Dit is waar dat dit moeilik is om kerke te vind wat die moeite werd is om by te woon vandag. Trouens, dit is ‘n algemene klagte onder gelowiges. Maar wees gerus dat God sy liggaam van gelowiges oral in die wêreld het; diegene wat ‘n band in die Gees deel. As jy tot Hom uitroep, sal Hy bonatuurlik eendersdenkende Christene na jou toe bring waar jy gemeenskap kan geniet, selfs al is dit ‘n klein groepie. Dit is belangrik, want sonder gemeenskap met ‘n ware Christenliggaam kan jy koud en eensaam word en in gevaar wees om jou eerste liefde vir die Verslosser te verlaat.

Geliefde, vra met vrymoedigheid vir die Here om jou na jou “stad” van aanbidding te lei en Hy sal getrou wees om jou te lei. Dit is vir Hom groot blydskap om te sien dat sy kinders saam aanbid.