Die Bediening van Bemoediging

Jim Cymbala

“Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely ... As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig” (Romeine 12:6,8, AFR83).

Van al die gawes van die Heilige Gees, word die bediening van bemoediging waarskynlik die minste waardeer. Ons hoor gedurig van die behoefte van regte lering en behoorlike leierskap in ‘n kerk, maar wanneer laas het die “gawe van bemoediging” sy regmatige behandeling gekry? Ons behoefte daarvoor is so akuut dat die Gees spesiale genade toegestaan het aan sommige van ons wat daarin spesialiseer om mense se geloof op te bou. Net soos nie almal van ons begaafd is om te onderrig of te preek nie, het nie almal hierdie spesiale salwing om ander te bemoedig nie.

“Dat ... ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne” (Romeine 1:12). Om kragtig in die Here te wees, stel ons in staat om ander te bedien wat swak is. Dit is veral waar vir bemoediging en versterking van iemand anders se geloof. Ons eie robuuste geloof loop oor om diegene wat sukkel op te hef. Geloofgevulde woorde en dade tree op as teenmiddels teen die hopeloosheid wat mense voel wanneer hulle hul greep op God verloor het.

Meestal word bemoediging oorgedra deur die woorde wat ons spreek. Beskou wat Paulus vir die Tessalonisense gesê het: “Troos mekaar dan met hierdie woorde” (1 Tessalonisense 4:18). Net soos Paulus, kan ons ander bemoedig deur die lering van die Skrif mee te deel en oor verlossing in Jesus te praat, “Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor” (Romeine 10:17). Terwyl ons God se Woord spreek, kan geloof gebore word in diegene wat dit hoor.

Toe Paulus van die gelowiges wat hy kosbaar geag het, geskei was, het hy ‘n ander manier geopenbaar om hulle geloof op te bou: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon” (Efésiërs 3:16-17). Toe Paulus nie met spraak die kerk kon bemoedig nie, het hy gebid dat die Heilige Gees met dieselfde werk in die gelowiges sou voortgaan.

Net so, as ons nie ons mede gelowiges persoonlik kan bemoedig nie, kan ons hulle in gebed ophef. Wat ‘n voorreg!

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.