Christus se Gebed vir sy geliefdes

David Wilkerson (1931-2011)

God die Vader het Sy Seun Jesus aangestel om vir ons ‘n Hoëpriester in die hemel te word. Jesus is inderdaad in die hemel op hierdie oomblik – as beide Mens en God – om ons onthalwe. Hy is getooi in die klere van ‘n Hoëpriester – en Hy staan voor die Vader en tree vir ons in.

Daar is geen twyfel dat die Vader groot behae daarin het om Sy Seun aan sy regterhand te hê, maar die Bybel sê nie dat Jesus opgevaar het na die hemel om die Vader se onthalwe nie. Dit sê ook nie dat Hy opgevaar het om Sy heerlikheid terug te neem nie. Nee, die Skrif sê Christus het opgevaar na die hemel om ons onthalwe as ‘n Hoëpriester: “Christus het ... ingegaan ... in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24).

Johannes het ‘n kykie van Jesus in Sy bediening as ons Hoëpriester in die hemel gekry. Hy skryf dat Jesus te midde van sewe kandelaars, wat Sy kerk verteenwoordig, verskyn het in en onder hulle bedien het terwyl Hy ‘n sekere kleredrag aangehad het: “Met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel” (Openbaring 1:13).

Exodus 30 gee vir ons ‘n wonderlike beeld van die bediening van die tabernakel en die hoëpriester. ‘n Altaar gemaak van goud het voor die ingang na die Allerheiligste in die tabernakel gestaan. Wierook was op hierdie altaar geplaas en het te alle tye gebrand. Aäron, die hoëpriester, het vir die lampe en die pitte gesorg elke oggend en elke aand. Dwarsdeur Israel se woestynreise, het die goue altaar die Heilige met ‘n wolk van soet wierook gevul en die geur het voortdurend na die hemel opgestyg (sien Exodus 30:7-8).

In die Bybel verteenwoordig wierook gebed en die altyd brandende wierook op daardie altaar in die Heilige, verteenwoordig die gebede van Jesus toe Hy op die aarde was. Jesus het heeltyd gebid – in die oggende en aande, alleen en op die berge. Johannes 17 gaan net oor Jesus se gebed vir sy dissipels en sy volk wat Hom gevolg en in Hom geglo het, maar Hy het ook gebid vir die wat “in My sal glo” (17:20). Wat ‘n magtige waarheid! – Jesus se woorde sluit jou en my in. Hy het vir ons gebid toe Hy op hierdie aarde in die vlees gewandel het.

Geliefde, hierdie gebed wat Jesus vir ons gebid het, het nie in die niet verdwyn nie. Dit het die hele tyd op God se altaar gebrand en God aanvaar sy Seun se gebede vir elkeen van ons. Ons bekering, ons verlossing, is die gevolg van Jesus se gebed. Halleluja!