Wat is Prioriteit in jou Lewe?

David Wilkerson (1931-2011)

Talle goeie mense wat hulleself as Christene beskou, is oortuig dat hulle hemel toe gaan, maar ongelukkig is hulle verkeerd. Selfs al gee hulle nie toe aan enige groot sonde nie en doen baie goeie werke, het hulle ywer vir goeie dinge die dinge van God weggestoot.

Om so behep te raak om jou besigheid op te bou, jou loopbaan te bevorder, vir jou familie te sorg, kan jou verhoed om die dieper dinge van die geestelike lewe na te streef. Jesus het gesê, “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Dit is nie ‘n voorstel nie, dit is ‘n gebod. Jesus het in wese gesê, “As jy die Here eerste soek, sal Hy sorg vir al die dinge waarvoor jy swoeg. Maar jy moet Hom jou belangrikste fokuspunt maak!”

Die apostel Paulus het gesê, “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kolossense 3:2-3). Weer is dit nie ‘n voorstel nie, maar ‘n gebod. Die betekenis is, “Rig jou fokus, jou belange, op die dinge daarbo. Rig jou aandag en konsentrasie doelgerig op die dinge van God – onwrikbaar, onbeweeglik.”

God vereis nie dat ons ons besittings verkoop, ons werk los, soos monnike word en onsself volkome aan meditasie en gebed oorgee nie. Maar Hy vereis wel dat ons kies om tyd in die Woord en in gebed deur te bring. Hy sê ook dat ons saam met mede gelowiges moet vergader: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Wat is prioriteit in jou lewe? Wat moet wag in jou lewe: jou persoonlike ondernemings/plesiere of die Here? Dit is ‘n persoonlike keuse! Ons moet na die waarskuwings van die Skrif luister sodat ons nie so besig word dat ons die heel belangrikste ding – tyd in sy teenwoordigheid, sy aangesig soek en in Hom groei – verwaarloos nie.