Eis Algehele Oorwinning

Gary Wilkerson

Toe die profeet Elísa op sy sterfbed was, het die koning van Israel, Joas, hardop gehuil omdat Israel se groot profetiese lig op die punt was om dood te gaan. Hy het Elísa se groot geloofswerke in herinnering geroep en geween, “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!” (2 Konings 13:14). Toe Elísa vir ‘n oomblik bygekom het, het dit hoop gebring vir Joas se hart. Daarna het die profeet die koning beveel: “Neem ‘n boog en pyle” (13:15).

Elísa het hom beveel om die pyle in die lug te skiet, wat Joas gedoen het en toe het Elísa  hom beveel om met die pyle op die grond te slaan. Joas het dit gedoen en het met die pyle drie keer op die grond geslaan. Toe, tot die koning se grootste verbasing, het Elísa in woede uitgebars, “Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan” (13:19).

Dit mag voorkom asof dit nogal ‘n vreemde toneel in Elísa se lewe was, maar hy het die geloof van ander opgebou tot op die heel einde. Hy het in wese vir die koning gesê, “Hoe durf jy so min van God verwag! Jy kon Aram vyf of ses keer verslaan het, maar jy was tevrede met net drie keer.”

Elísa se woorde is vandag steeds op elke gelowige van toepassing. Ons Here wil hê dat ons verder as beperkte oorwinnings gaan. Deur die Godstories  in die Woord, moet ons met geloof op geloof bou – oorwinning op oorwinning – om gedurig te smag dat Hy optree. Ons moenie tevrede wees om te skik nie. Elísa sê in wese vir ons, “God wil vir jou so baie oorwinnings gee as wat jy in besit wil neem. Hou aan om die grond met geloof te slaan!”

Dit mag dalk klink soos ‘n hartelose vereiste maar dit is eintlik diep deernisvol. Daar is ‘n Godstorie vir elke sukkelende paartjie, vir elke finansiële krisis, vir elke spanningsvolle werksituasie, vir elke vervreemde ouer en kind. Onthou, God gee nie gedeeltelike oorwinnings nie, maar algehele triomf!

God het jou omring en al die magte van die hemel is tot sy beskikking om jou te beskerm en vir jou te voorsien. Mag God jou geloof so opwek dat jy die grond sal aanhou slaan met oortuiging en vertroue. En, onthou, elke beproewing waardeur jy gaan, is ‘n geleentheid om die wêreld te verander deur  jou Godstorie.

Tags