Oorwinning Wat Soos Nederlaag Lyk

Carter Conlon

Ons lees in die Woord van God dat sonde in die laaste dae sal toeneem en die liefde van baie sal verkoel. Wie kan ontken dat dit besig is om vandag te gebeur? Die samelewing spiraal amper daagliks in dieper duisternis af en ‘n mens kan baie maklik koud word teenoor alle vorme van liefde. Uiteindelik, sal baie Christene moedeloos word, trouens, sommige het reeds moed verloor.

Die boek Lukas vertel vir ons van ‘n keer toe twee dissipels “op pad na ’n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek  met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie” (Lukas 24:13-16). Hierdie twee was so verdiep in hulle eie redenasies – hulle eie assessering van wat pas plaasgevind het met die kruisiging van Jesus – dat hulle nie kon agterkom dat die Here self saam met hulle kom loop het nie.

Toe Jesus die mans vra waarom hulle hartseer was, het hulle geantwoord en vertel “hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. En ons het gehoop ...” (24:20-21). Jesus was reeds uit die dood opgewek maar wat eintlik ‘n groot oorwinning was, was in hulle oë steeds niks anders as ‘n nederlaag nie.

Dit is presies dieselfde dilemma waarteen ons moet waak. Ons dink ons weet wat God van plan is om te doen en ons formuleer in ons gedagtes die hele prentjie van hoe alles veronderstel is om te ontvou. Maar as dit nie ontwikkel op die manier wat ons dink dit moet nie, begin ons teen moedeloosheid stry.

Die mans op die pad na Émmaüs was swak ingelig, maar hoopvol. Dit is toe dat die Here aan hulle verskyn en in wese gesê het, “Ek gaan Myself nie op julle afdwing nie, maar as julle wil, sal Ek vir julle die Skrifte openbaar en vir julle dinge wys wat nog nie in julle gedagtes opgekom het nie” (sien 24:27).

Is jy gewillig dat God die Skrifte aan jou openbaar en vir jou sy weë wys? Onthou, God se weë is hoër as joune en wat soos nederlaag mag voorkom, is eintlik oorwinning! Soos hierdie dissipels, vra Jesus om by jou te bly en vir jou te wys waar ware krag gevind word.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.