Hou aan God Vas

Gary Wilkerson

Jesus se volgelinge het in die bovertrek bymekaargekom toe die Heilige Gees oor hulle uitgestort is en almal in die plek vervul het (sien Handelinge 2:1-4). Toe ‘n skare buite bymekaargekom het, was Petrus deur die Gees aangespoor om te preek en drieduisend mense het hulle tot Christus bekeer (sien Handelinge 2:41).

Na hierdie historiese geestelike ontwaking, het Petrus en Johannes na die tempel gestap waar hulle ‘n kreupel bedelaar teëgekom het. Toe die man vir aalmoese gevra het, het Petrus vir hom gesê, “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasárener, staan op en loop!” (Handelinge 3:11). Die bedelaar is oombliklik genees.

Hierdie wonderwerk het ‘n boeiende effek gehad: “En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang” (3:11). Die geneesde man het aan Petrus en Johannes “vasgehou,” asof hy gesê het, “God se teenwoordigheid is ‘n werklikheid! Jarelank het ek hier gesit en smeek om hulp, maar ek het nog nooit so iets beleef nie. Hy het my siel aangeraak meer as wat ek al ooit beleef het.”

God hou daarvan om aan vasgehou te word. Hy hou van ‘n hart wat Hom najaag en tot Hom roep, “Here, U heerlikheid is te groot om dit te laat verbygaan. Ek hou vas aan die hoop wat U vir my gegee het – hoop vir genesing, vir transformasie, vir U teenwoordigheid in my lewe en in my wêreld.”

In vers 11 was al die mense verstom en het kom kyk wat gebeur het. Wanneer God sy heerlikheid openbaar, eis die grootheid van sy mag die aandag van almal daar rondom. As so ‘n wonderwerk in ons plaaslike kerk plaasgevind het, sou daar nie genoeg plek wees om die menigtes te akkommodeer wat sou kom kyk en deel daarvan wees nie. Jy sien, mense smag na God se aanraking in hulle lewens, of dit nou gelowiges of ongelowiges is. Almal wil die nuwigheid van die lewe beleef, iets wat werklik is.

God het al sy majesteit, heerlikheid en krag in een bron geplaas: Christus. As gevolg van sy transformerende krag, kan jy sy teenwoordigheid beleef en ‘n oorwinnende lewe leef wat ‘n getuienis is vir almal om jou.