Wat Hou Jou Hart Vas?

David Wilkerson (1931-2011)

As ons Paulus se briewe aan die Efésiërs lees, sien ons hoe hy hulle breedvoerig komplimenteer. Hy spreek hulle aan as “heiliges … gelowiges in Christus Jesus … geseën … met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Efésiërs 1:1-3).

Paulus sê ook dat hulle mense is wat vergewe is en hy bid dat hulle die “Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet … wat die uitnemende grootheid van Sy krag is vir ons wat glo" (1:17-19).

In die boek Openbaring, komplimenteer Jesus ook die Christene in Éfese, “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid” (Openbaring 2:2). Met ander woorde: “Ek ken al die goeie dinge in julle lewens. Julle is pligsgetrou in goeie werke en dit is baie prysenswaardig!”

Jesus komplimenteer hulle verder en wys uit, “Dat julle slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy het dié op die proef gestel wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het” (2:2). Hy sê in wese, “Julle haat sonde met ‘n passie, en julle verdra dit nie in julle lewens, julle huise of julle kerk nie. Julle was nie in verwarring gebring deur al die nuutste leerstellings van die vlees nie en julle kan die valse en ware profete reg beoordeel.”

Dit is duidelik dat die Efésiërs nie net ‘n klomp groentjies of louwarm heiliges is nie. Jesus wys egter dat iets baie verkeerd is wanneer Hy sê, "Ek sien al julle werke – julle haat die sonde, julle liefde vir die waarheid, julle geregtigheid en moed – en tog het julle op ‘n manier in al julle arbeid toegelaat dat julle eerste liefde vir My kwyn” (sien Openbaring 2:4).

Dit behoort jou siel aan te gryp! Terwyl jy getrou vir Hom arbei en regverdig lewe, vra die Here, “Jesus, het ek my eerste liefde vir U verloor?” ‘n Goeie maatstaf hiervan kan gevind word deur noukeuriger te kyk na wat jou hart nou vashou. Hoe spandeer jy jou tyd? Wat beroof jou van kwaliteit tyd alleen met Hom? Wat maak jy ‘n prioriteit?

Keer terug na jou eerste liefde vandag! Vra jou Vader vir genade en krag om te waak oor jou liefde vir Christus, jou Here en Verlosser.