Om Vas te Staan in Misleidende Tye

David Wilkerson (1931-2011)

Soos die tyd van Christus se wederkoms nader kom, gaan die duiwel die sluise van die hel teen God se kinders oopmaak. Ons sien dit reeds gebeur binne die mure van die kerk, omdat Satan God se huis geïnfiltreer het met subtiele leuens en valse leerstellinge. Menigtes misleidings en ketterye versprei deur die kerk en Christene sonder onderskeidingsvermoë sluk dit alles.

Hoe sal gelowiges kan staande bly in sulke tye? Die Here antwoord hierdie vraag deur te belowe om die probleme self aan te spreek. “Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die HERE julle God wat vir julle stry” (Deuteronomium 3:22). Ons Vader verseker ons, “Moenie bang wees nie! Ek sal hierdie saak in my eie hande neem en Ek sal jou sterk maak teen al die aanslae van die vyand.”

Ons kan leer hoe om die stryd te voer teen die vyand deur na die Ou Testament te gaan en te kyk na die lesse van godsaligheid wat daar opgeteken is. Een van die eerste lesse wat ons uit die Ou Testament kry, is presies hoe veilig ‘n kind van God is wanneer hy op die bloed vertrou. Die nag van die Pasga, was nie een Israeliet in gevaar van die doodsengel wat deur Egipte gegaan het nie. Elke man, vrou en kind van God het veilig en beskermd gerus onder die bloedbedekking wat op die deurposte van hulle huise gesmeer was. “Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Exodus 12:13).

Hierdie beeld van veiligheid in die Ou Testament verteenwoordig die beskermende krag van ons Here se bloed oor sy kinders vandag. As Christene, is ons in staat om ‘n gelowige, vertrouende volk te wees wat die bloed van Christus op die deurposte van ons harte gesprinkel het.

Alhoewel ons gered en veilig is as gevolg van Christus se bloed, is ons steeds betrokke in ‘n stryd met oorweldigende owerhede, sataniese magte en demoniese vestings. Ons moet die krag opeis wat vir ons beskikbaar is deur God se Nuwe Verbond – maar daardie krag kom slegs deur geloof!