Oorwinning oor Heersende Storms

Gary Wilkerson

Ons weet dat Jesus vir ons die oorwinning aan die kruis behaal het toe Hy die dood, Satan en die mag van sonde oorwin het. Die vraag vir ons as gelowiges is, “Wat nou? Ek weet Jesus het my oorwinning aan die kruis behaal, maar waar is hierdie oorwinning in die konflik wat tans in my lewe woed?

Toe Jesus jou Verlosser geword het, het Hy jou ‘n nuwe skepsel gemaak maar hoewel jy verander was, het die wêreld dieselfde gebly. En as gevolg hiervan, is daar magte wat hulleself teen jou opstel – die wêreld, die duiwel en selfs jou eie vlees – wat teen jou gees oorlog voer.

Sommige oorloë is uiterlik, soos aanvalle teen ons huwelik, ons finansies en ons kinders. Ander oorloë is innerlik, soos bekommernis, depressie en angs. “Sal my huwelik oorleef?” Sal my kind hom ooit tot die Here bekeer?” “Is ek ooit waardig om myself ‘n Christen te noem?” Al hierdie druk forseer ons om te twyfel en wanhopig te wees en lei daartoe dat ons wonder of God in alles is wat in ons daaglikse lewens aan die gang is.

Ons kan ‘n stand teen Satan inneem en by wyse van spreke ‘n lyn in die sand trek, maar geen vordering sien nie. Dit is wat met Israel gebeur het toe hulle teen die Filistyne te staan gekom het. “En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was” (1 Samuel 17:3). Saul het al sy manne opgestel om die Filistyne se opmars te keer en het soort van ‘n dooiepunt bereik. Maar het dit die vyand gekeer? Glad nie. Trouens, die Filistyne het selfs ‘n groter wapen in die persoon van Goliat ingespan.

Ons almal ken die storie van Goliat, die reus wat Israel se magtige helde uitgedaag het totdat hulle moedeloos en beskaamd was. Satan gebruik dieselfde taktiek teen ons en probeer om ons te intimideer en beskaamd maak totdat ons saam met die jong oorwinnaar, Dawid, sê: “dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE” (17:46-47). Daar was geen swaard in Dawid se hand nie maar sy reusagtige vyand het nie ‘n kans gestaan nie, want die stryd was die Here s’n!

Jesus het aan die kruis getriomfeer en jou oorwinning is seker! God sal vir jou stry terwyl jy Hom vertrou.