Dis Tyd om te Glo, Deel 2

Om die Trooster wat Jesus vir Ons Stuur te Vertrou

“Maar Ek sê vir julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan” (Johannes 16:7).

Dink aan hoe dit vir die dissipels moes gevoel het om dit van Jesus te hoor. Hulle was naby toe Hy wonderwerke gedoen het. Hulle het gesien hoe die wind en die golwe sy bevele gehoorsaam het. Niemand in die geskiedenis het ooit met die gesag, wat Jesus gehad het, gepraat nie. In sy teenwoordigheid, het die dissipels baie spesiaal, gewaardeer en geliefd gevoel. Hulle was met moed en hoop gevul dat, maak nie saak watter struikelblokke teen hulle gekom het nie, Jesus was daar om hulle te verlos.

Christus was die bron van hulle geloof. Hy is ons s’n ook. Hy skenk ons die gawe van geloof en veroorsaak dat ons met krag lewe. So, hoe kon dit moontlik tot die dissipels se voordeel wees as Hy weggegaan en hulle verlaat het, soos Hy in hierdie vers sê.

As ek een van die Twaalf was, sou ek gesê het, “Nee, Jesus! Ek sal nie beter daaraan toe wees as U weggaan nie. U is my lewensbron, my rede om te leef.” Enigeen wat vandag leef sou toe dieselfde gesê het – elke verlore, verwarde siel wat smag na doel en betekenis; almal wat geteister word deur ‘n verslawing; elke verlate kind wat nie weet waarheen om hulle vir hoop te wend nie. Hoe kon die wêreld beter gewees het vir enigeen as Jesus nie daarin was nie?

Natuurlik antwoord dit wat Jesus volgende sê hulle bekommernis ten volle. “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (16:7).

“Die Trooster” is die Heilige Gees, die openbaring van Christus en sy krag aan die werk in die wêreld. Wat Jesus op een plek gedoen het toe Hy op die aarde gewandel het, doen die Heilige Gees oral vandag. Die Gees genees die siekes, dryf duiwels uit en red die verlorenes in elke uithoek van die wêreld.

So, ja, dit is goed dat Jesus die aarde verlaat het, opgevaar het na die regterhand van die hemelse Vader, van waar Hy vir ons sy Gees stuur wat ons bekwaam maak om te lewe. Dit is die Heilige Gees wat ons aanvanklik dring om Jesus in ons lewens in te vra, en ons het sy krag elke dag nodig om die lewe van belofte, godsaligheid en diens te lei wat Hy vir ons beplan het.

Hoe vind dit plaas? Hoe presies help die Heilige Gees ons met hierdie dinge?

Ek kan aan eindelose dinge dink waar ek die Heilige Gees se hulp in my lewe nodig het. Ek het baie hulp nodig met my gesondheid, my finansies, my werk en my verhoudings. Maar daardie spesifieke areas is nie die belangrikste dinge waarmee Jesus sê die Heilige Gees ons kom help nie. In plaas daarvan, sê Christus, “En as Hy kom, sal Hy die wêreld  oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel(Johannes 16:8, my beklemtoning).

Eerstens, volgens Jesus, help sy Gees ons deur ons van sonde te oortuig

Nou is ek weer verward! Ek het nie regtig enige hulp nodig om van sonde oortuig te word nie; ek kan die hele tyd my sonde heeltemal goed genoeg herken. Trouens, ek is akuut bewus van al die kere waar ek verkeerd gedoen het. So, hoe help die oortuigende werk van die Gees my?

Jesus maak dit vir ons duidelik. Hy sê die Gees oortuig die wêreld “van sonde, omdat hulle in My nie glo nie” (16:9). Jesus praat nie hier van Christene nie; Hy praat van mense wat Hom nie ken nie, ongelowiges wat nie weet hoe om hulle te bekeer en hulle te beroep op Christus se reddende krag nie. Die oortuigende werk van die Gees is eerstens om die wêreld van sy sonde te oortuig.

Dit is ‘n groot daad van genade. As jy verlore is – vir jouself leef en nie in staat is om jou sonde te besef nie en jy sonder die Saligmaker leef – sal Hy nie toelaat dat jy met ‘n destruktiewe pad voortgaan nie. Dus begin die Heilige Gees om jou te oortuig. Hy plaas ‘n honger in die harte van ‘n afvallige, hartseer, gewone mensdom – ‘n ras gebroke as gevolg van sy eie trots en arrogante geloof dat hulle vervulling op hulle eie kan vind – en openbaar aan hulle hul leegheid en nutteloosheid. Dan wys Hy vir hulle die Saligmaker wat gesterf het sodat hulle vir ewig kan lewe.

Tweedens, die Heilige Gees oortuig, “van oordeel, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie” (Johannes 16:10).

Hierdie tipe oortuiging is ‘n bietjie moeiliker om te verstaan. Wat beteken dit vir die Gees van Christus om ons van geregtigheid te oortuig?

Toe ek jonk was, was die betekenis van hierdie vers vir my baie duidelik. Ek het gedink, “Die Gees oortuig ons van hoe hoog God se regverdige standaard is. Dit is hoe ons besef dat ons daaraan te kort skiet. Hy wil dit duidelik maak hoe onbekwaam ons is om hierdie geregtigheid te bereik.”

Ek kon nie meer verkeerd wees nie. Jy sien, wanneer ons gered word, haal Jesus ons dadelik uit die koninkryk van duisternis en plaas ons in sy koninkryk van lig. Hy was ons deur sy bloed, reinig ons van alle ongeregtigheid en maak ons ‘n nuwe skepsel. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Korinthiërs 5:17).

Alles in God se koninkryk van lig is vir ons nuut en maak ons oë oop vir sy realiteit. Een van die Heilige Gees se rolle is om vir ons te wys wie ons in Christus is en dit is iets waarvan ons oortuig moet wees elke dag van ons lewens. Wanneer ons misluk, is ons natuurlike geneigdheid om te sê, “Ek is ‘n hopelose mislukking. Hoe kon ek so ver geval het? Ek is glad nie regverdig nie. Ek moet tot Jesus bid om my weer te red.” Dit is die teenoorgestelde van dit waarvoor God ons roep om te doen in ons tyd van mislukking en nood.

Ander dink God aanvaar hulle stap-vir-stap soos hulle Hom gehoorsaam. Hulle dink God sê, “Reg, laat ons sien of jy die volgende kan doen. Miskien sal jy hierdie een regkry.” Nee! Wanneer jy in sy koninkryk kom, word jy oombliklik heilig gemaak. Jy hoef nie ‘n stap daarheen te neem nie; Hy het jou reeds beklee met heiligheid.

Dit is waar die Heilige Gees ons oortuig van geregtigheid. Wanneer ons struikel en versoek word om te sê, “Ek het gesondig. Ek is ‘n mislukking. Ek hoort weer terug daar in die koninkryk van duisternis,” oortuig die Heilige Gees ons, “Nee! Duisternis is nie meer jou tuiste nie. Jy het geen plek daar nie. Moenie jou gevoel van mislukking glo nie. In plaas daarvan, weet en aanvaar dat jy onregverdig is, maar volmaak gemaak is deur Jesus se opofferende gawe. Jy is nie onheilig nie; inteendeel, jy is volkome regverdig (vrygespreek). God se Woord sê, “Moenie dit wat Ek rein ag, onrein ag nie!” Jy wonder hoe God ‘n sondaar soos jy kon liefhê, maar Hy bewys sy liefde deur jou regverdig te maak (vry te spreek).”

Derdens, die Trooster oortuig ons “van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is” (Johannes 16:11).

God gaan die wêreld oordeel; dit is ‘n onbetwisbare feit. Talle Christene hou egter nie daarvan om dit te hoor nie. Meer as een gelowige het aan my e-posse gestuur wat sê, “God oordeel nie meer die wêreld soos Hy eens gedoen het nie. Niks wat ons sien plaasvind, is sy oordeel nie.”

Dit is absoluut onbybels. God oordeel steeds; trouens, sy regverdige toorn is net so sterk as wat dit nog altyd was. Ons ontsnap daardie toorn deur die bloed van Jesus. Dit is weereens die genade van God wat ‘n verdorwe geslag verlos van oordeel wat ‘n goddelose geslag op homself laat neerkom het.

Jy sien, dit is nie onregverdig van God om die wêreld te oordeel nie; dit sou onregverdig van Hom wees om dit nie te doen nie! Die sonde van hierdie wêreld veroorsaak soveel pyn en onreg dat dit deur ons heilige Skepper aangespreek moet word. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie. want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Hierdie wonderlike werklikheid is die gevolg van heilige oordeel.

Jesus wys ons op nog ‘n rede vir God se oordeel. Dit is bedoel om die heerser van hierdie wêreld te vernietig “omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is” (Johannes 16:11). Satan het demoniese magte vrygestel met die bedoeling om te moor, te steel en te vernietig. God sou onregverdig wees om dit nie te oordeel nie. Sy toorn kom gedeeltelik om alle goddeloosheid uit te wis.

Op al hierdie maniere, kom die Gees om vir ongelowiges hulle sonde te wys en hulle te waarsku oor die gevolge, om aan Christene die geregtigheid wat hulle in Christus het te toon en om te openbaar dat die duiwel se dae getel is. Sy bose werke sal heeltemal uitgewis word deur God se regverdige toorn.

As jy Jesus nie ken nie, vra die Heilige Gees om die waarheid aangaande Hom te openbaar. Hy sal jou van sonde oortuig, jou oê oopmaak vir die wêreld se duisternis en binne-in jou ‘n honger na sy koninkryk vol lig skep. As jy Hom verwerp, bring jy oordeel oor jouself, dieselfde oordeel wat sal kom oor alle boosheid in die wêreld, wat teenoor God se regverdige realiteit staan. As jy jou tot Jesus bekeer, sal Hy jou egter van daardie oordeel red. Hy sal jou ten volle in die nuwigheid van die lewe bring en jou ‘n hele nuwe skepsel maak, geseënd met doel, rigting en betekenis.

As jy Jesus reeds ken en steeds sukkel met wanhoop oor jou lewe saam met Hom, laat sy Gees jou oortuig van die geregtigheid wat Christus in jou geplaas het. Elke keer wat jy oorwin voel deur goddeloosheid, sal die Gees jou die krag gee om te sê, “Nee, nee, duiwel, die Heilige Gees het my oortuig dat ek in Christus regverdig gemaak is!”

Sy geregtigheid in jou kan nie gesteel of vernietig word nie. Daardie geregtigheid bedek nie net jou sonde nie, maar neem dit heeltemal weg. “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Hy maak jou volmaak in die oë van die Vader, “sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Efésiërs 5:27).

Die Heilige Gees plaas jou op koers vir die ewigheid met ‘n geregtigheid wat jy elke dag kan uitlewe.

Op die laaste dag, sal Jesus sê, “Kyk na wat ons gedoen het, Vader! Ons het hulle gereinig en gewas, hulle regverdig en volmaak gemaak, tot u ewige heerlikheid. “Dit is volbring.” Dan sal Jesus na jou toe draai en sê, “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in die vrede van jou heer” (Matthéüs 25:21).