Ons Behoeftes in God se Hande Oorgee

David Wilkerson (1931-2011)

“In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag” (Jesaja 30:15).

Die Heilige gee ons krag wanneer ons al ons behoeftes in God se hande oorgee en op sy krag vertrou. Ons sien ‘n voorbeeld van hierdie soort vertroue in ‘n Moabitiese vrou genaamd Rut. Nadat haar man gesterf het, het Rut saam met haar skoonmoeder, Naomi, wat bejaard en ook ‘n weduwee was, na die land Juda gereis. Die twee vroue het saam in armoedige omstandighede geleef en Naomi het bekommerd geraak oor Rut se welstand.

Rut het gaan werk in die lande van ‘n welgestelde man genaamd Boas, wat klaarblyklik ‘n familielid van haar oorlede man was. Volgens die Joodse wet, was Boas gepas om met haar te trou en die man se nakomelinge uit te bou en Naomi het dit aangemoedig. God het ‘n wonderlike plan vir Boas georkestreer om Rut as sy vrou te neem, vir haar ‘n kind te gee en vir haar en Naomi te veroorsien.

Hierdie fassinerende storie word in besonderhede vertel in die boek Rut en ons sien die mooi manier waarop God hierdie plan tot uitvoering gebring het. Een nag nadat sy die hele dag in die lande gewerk het, het Rut vir Boas gesê, “Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser” (Rut 3:9). Kortliks, sy het hom gevra, “Sal jy met my trou?” Nou, dit was nie ‘n manipulerende plan nie. Rut en Naomi het alles in goddelike orde gedoen. Ons kan hiervan seker wees omdat Christus se stamboom deur Rut gekom het (Matthéüs 1:5).

Nadat Rut hierdie vraag vir Boas gevra het, het sy haar goddelike skoonmoeder vertel wat gebeur het; en Naomi het haar raad gegee, “Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval” (Rut 3:18). Sy was vol vertroue dat sy en Rut hulle deel gedoen het en dit was tyd om stil te sit en God te vertrou om te doen wat Hy beloof het.

Rut en Naomi het ontspan en die Here geprys terwyl hulle gekyk het hoe God sy goddelike plan op verassende maniere laat uitwerk het. Net so, wanneer jy jou algehele vertroue in God plaas met stille geloof, sal Hy jou nooit teleurstel nie.

Tags